| Ugly se verhaal |
|
 |
'n Man vertel dat almal in die woonstel kompleks, waar
hy bly, geweet het wie "Ugly" was. "Ugly" was die kompleks se
mannetjieskat. "Ugly" was gaande oor drie dinge in die lewe: Om te
baklei, om kos in vuilgoedblikke te soek en oor liefde. 'n Kombinasie
van dit en 'n lewe buite in wind en weer het van "Ugly" 'n regte
straatkat gemaak. |
Hy het net een oog gehad en waar die ander oog moes wees, was net 'n gat. Sy een
oor het hy verloor en sy linker poot was blykbaar lank gelede sleg gebreek en
dit het onnatuurlik skeef aangegroei. Hy was 'n grou gestreepte kat met wonde
aan sy kop, nek en skouers. Telkens as iemand hom gewaar het, het hulle gesê; "Wat
'n lelike kat!!!" Die kinders is gewaarsku om nie aan hom te vat nie en die
grootmense het hom onder die klippe gesteek. Selfs as jy hom met die tuinslang
natspuit het "Ugly" sopnat bly staan en as jy opgee het hy met sy slanke lyf vol
vergewensgesindheid teen jou voete kom krul. Sodra hy kinders gewaar het, het
"Ugly" nader gehardloop en sy kop, soebatende vir liefde, teen hulle hande
gestamp.
Sou jy hom optel het hy dadelik aan jou hemp se kraag of selfs aan jou ore begin
suig. Eendag het "Ugly" sy liefde met die buurman se honde gaan deel. Hulle
reaksie was nie goedgesind nie en "Ugly" is erg toegetakel. Ek het my gehaas om
vir "Ugly" te help maar teen die tyd wat ek daar aangekom het, het hy doodstil
gelê en dit was duidelik dat "Ugly" se droewige lewe op 'n einde gekom het. Toe
ek hom optel om hom huis toe te dra, het hy gehyg en gesnak en ek het besef dat
hy geweldig pyn het. Toe voel ek hoe "Ugly", tenspyte van soveel pyn en lyding,
duidelik sterwende, aan my oor suig. Ek het hom stywer teen my vasgedruk en toe
stamp hy die palm van my hand met sy kop, kyk na my met die een oog en vêrweg
hoor ek hom spin. Selfs in soveel pyn het die lelike kat vol littekens gevra vir
'n bietjie liefde . . . selfs vir 'n klein bietjie medelye.
Op daardie oomblik was hy die mooiste en dierbaarste kat wat ek al ooit gesien
het. Nooit, ooit het hy my bevlieg, of gebyt, of gekrap, of van my af probeer
wegkom nie. In totale vertroue in my, het hy met die een oog na my gekyk vir
bevryding van sy lyding. "Ugly" het in my arms gesterf voor ek binne was. Ek het
gaan sit en "Ugly" nog lank in my arms vasgehou en gedink dat 'n verwaarloosde
kat, so misvorm deur littekens, so volkome en opreg kan liefhê.
"Ugly" was wel van BUITE vol littekens, maar van binne was EK vol littekens.
Baie mense jaag na geld, sukses, skoonheid, aansien en.. maar ek . . . ek sal
altyd daarna streef om soos "Ugly" te wees.
HERE LEER VIR ONS DAT U NIE LET OP DIE AANSIEN VAN MENSE NIE, MAAR DAT U
HULLE BEMIN WAT OPREG VAN HART IS.
(Matt.22:16 Hulle stuur toe van hulle volgelinge saam met 'n aantal
Herodiane om vir Hom te sê: "Meneer, ons weet dat u iemand is wat u mening
eerlik uitspreek en getrou aan die waarheid die wil van God bekend maak sonder
om mense in aanmerking te neem, want u let nie op die aansien van persone nie.&
Ps.125:4 Here, doen goed aan dié wat goed is, die opregtes van hart! )
|