STEL GOD EERSTE ... WANNEER ’n
DEURBRAAK ONMOONTLIK LYK
Toestemming vir plasing
goedgunstelik deur
http://www.versndag.co.za/ verskaf.
Deur: Benescke Janse van Rensburg
Chris Prins was op kantoor in Kaapstad toe hy die nuus kry
dat ’n brand uitgebreek het wat in die rigting van sy plaashuis
langs die Weskus beweeg. Binne minute was hy in sy motor op pad
huis toe om te gaan red wat te redde is.
By sy plaashuis aangekom, het hy ingehardloop en desperaat na
God begin roep om ’n wonderwerk te doen. Die werklikheid was
egter dat drie van die plase voor syne reeds tot op die grond
afgebrand het.
Deur sy kombuisvenster het Chris vir oulaas na die olyfboord
gekyk wat hy slegs maande vantevore aangelê het. In die verte
kon hy reeds die rook en vlamme in die rigting van sy huis sien
kom. Wat sake vererger het, was die feit dat Chris se plaashuis
’n strooidak gehad het. Die polisie en lede van die
brandbestrydingsdiens was reeds by Chris se huis om hom uit die
huis te kom haal. Die vuur was nou gevaarlik naby. Weer het
Chris sy oë gesluit en uitgeroep: “Here God, asseblief. Al my
besittings is in hierdie huis. Asseblief, in Jesus se Naam
beskerm my huis.” Hierna het hy saam met die noodwerkers sy huis
verlaat.
Terwyl trane van teleurstelling vrylik oor Chris se wange
stroom het hy en die polisie stadig teen die agterpad opgery tot
bo-op ’n veilige hoogtetjie waar hulle na die vuur kon afkyk.
Dit was nou reguit in die rigting van Chris se huis op pad.
Vir oulaas het Chris na sy huis gekyk voordat hy weggedraai
het. Hy kon nie verder na die verwoesting van die brand kyk nie.
Alles wat hy besit het, was in die plaashuis en met die beperkte
tyd kon hy min van sy besittings uit sy huis red.
Toe die brand verby die plaashuis getrek het, het Chris die
moed bymekaargeskraap om saam met die noodwerkers weer die
paadjie in die rigting van die plaashuis aan te pak om die
aanvanklike skade te gaan bekyk.
Terwyl Chris en van die noodwerkers die plaashuis nader, het
hulle na hul asems gesnak. Die vuur het tot teenaan die huis
gebrand voordat dit reg rondom die huis getrek het sonder om dit
enigsins te beskadig – dít ten spyte van die grasdak! God het
Chris se gebede gehoor en sy huis beskerm!
In Numeri 13:31 lees ons dat Josua en Kaleb saam met die
ander spioene uitgestuur is om die beloofde land te gaan verken.
Al die spioene het bang vir die reuse van die land met ’n
negatiewe boodskap teruggekom. Net Josua en Kaleb het verby die
reuse gekyk en God se krag raakgesien. Daarvoor het God hulle
geëer en hulle wel in die beloofde land ingelaat.
Lukas 18:27: “Wat vir die mense onmoontlik is, is vir
God moontlik.”
Wat gaan jou reaksie wees as jy weer soos Chris in ’n
situasie sit waar ’n uitkoms vir jou onmoontlik lyk? Gaan jy na
God uitroep en Hom vir ’n deurbraak vertrou of gaan jy moed
verloor en depressief word? Ook jý het ’n keuse om in die reuse
vas te kyk of verby hulle te kyk en God se wonderwerkende hand
raak te sien. Wat gaan jy kies?
Vader God, baie dankie dat ek elke vrees in my hart
na U kan bring en dat ek U kan vra om my vrees in my grootste
geloof te omskep. Lei my om daagliks met groter geloof te leef.
Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
* Kyk na foto’s op die sosiale netwerk, FBook se
“STORIES VAN HOOP” bladsy (ons gebruik die afkorting omdat
verskeie maatskappye die naam blok).
|