Sewende-dag Adventiste
Gemeente Filadelfia


Ons Is Hier We are Here


S25 51.594
E28 12.777
 

 

'Dit is hel'
Aug 19 2008 12:57:38:800PM  - (SA)  

John Meyer, Johannesburg

Maandag se moord by die Hoër Tegniese Skool Nic Diederichs in Krugersdorp het my weer laat besef dat kinders en ouers hulp nodig het - en baie dringend.

Ek is 'n 30-jarige man in 'n baie gelukkige verhouding met twee pragtige kinders, 'n baie goeie werk en goeie gesondheid.

Dit klink soos die tipe lewe wat enige mens wil hê, maar 13 jaar gelede was dit net mooi die teenoorgestelde.

Ek is in standerd ses blootgestel aan satanisme en dit het vir vier jaar aangehou. God dank kon ek die bande breek en daar uitkom; ek was een van die gelukkiges.

Baie mense sal sê dat hulle geen simpatie het nie en dat dit elke persoon se eie besluit is om by so iets betrokke te raak - en dit bring my by die punt wat ek wil maak:

Kinders en veral ouers is baie oningelig oor satanisme en neem maar net aan dat dit 'n fase is waardeur n tiener gaan. Hulle mis die tekens of kyk somtyds met opset in 'n ander rigting. Baie ouers reken dat dit ook maar net 'n manier is om aandag te soek en ignoreer die werklikheid en die gevare daarvan.

Die werklikheid van satanisme is dat hulle presies weet wie om te werf vir hul groepe. Kinders met baie lae selfbeeld, kinders wat nie eintlik maats het nie, eintlik enige kind wat aanvaarding of beskerming soek.

Skielik voel daardie kind baie belangrik en spesiaal omdat hy of sy aanvaar word. Daarna begin die voorwaardes om in die groep te kan bly en omdat hulle nie weer op hul eie wil wees nie doen hulle wat daar van hulle verwag word. Nou is daar aanvaarding, beskerming en status.

Dan kom daar 'n tyd dat die take wat hulle moet uitvoer te erg raak; dan wil hulle ontrek. Teen daardie tyd is dit ongelukkig te laat. Hulle word gedreig dat hul familie doodgemaak sal word of die kind self. Vrees, hartseer, woede skop in en party kinders probeer om teen die groep te gaan, maar kom baie vinnig agter dat hulle nie met speletjies besig is nie, maar met die harde werklikheid van die onderwêreld.

Al opsies wat daar dan oorbly, is om maar voort te gaan of om selfmoord te pleeg. Net laas week was daar twee tienerdogters van KwaZulu-Natal wat selfmoord gepleeg het en in hul briefie gesê het dat dit beter sal wees om dood te wees as om met satanisme voort te gaan.

Ek verstaan daardie woorde baie goed, want dit is hel. Ek is al 13 jaar uit daardie hel uit, maar die herinneringe is nog soos gister. Die nagmerries, die skuldgevoelens, al die verskillende emosies waarmee ek nog elke dag moet saamlewe, is die ergste. Ek wens net ouers wil dit ernstiger opneem en meer bewus wees van die uiterste gevare wat hieraan verbonde is en so ook die kinders wat in die begin dink dat dit "cool" is en nie besef waarheen als lei nie.

Partykeer is dit goed om te hoor wat jy nie wil hoor nie

  • Ek sal met graagte via e-pos met mense korrespondeer wat meer inligting verlang of nie seker is na watter tekens om te kyk nie. E-pos my gerus by fightsatanism@gmail.com

Filadelfia gemeente van Sewendedag Adventiste Centurion Pretoria

Updated on/Op datum gebring op Thursday, June 10, 2010 07:49:15
deur  de Wet Vorster

Filadelfia Congregation of Seventh-day Adventists Centurion Pretoria