Sewendedag Adventiste
Gemeente Filadelfia

 

Onthou jy vir Mannetjies Roux

ONTHOU JY OOK DIE PRYS WAT CHRISTUS BETAAL HET

Juan La Rouchelle

Toe ek Sondag deur die koerant blaai is daar ‘n artikel getiteld: “Onthou jy ook die drie van Mannetjies Roux”. Onmiddellik toe ek die artikel oorsigtelik lees, kom die gedagte by my op dat dit die gepaste onderwerp is om van toepassing te maak op ons geestelike lewens.

Dit word gesê dat daar min Afrikanermans is wat nie op skool op die een of ander wyse met rugby gekonfronteer is nie. My gedagtes gaan willekeurig na Luke Watson se uitlating oor die Dutchman wat hom die gramskap van menige Afrikaanse rugby geesdriftiges op die hals gehaal het.

Daar word verder gesê dat die sport dikwels van vader na seun oorgedra word en ‘n ene Ds Johann Symington van die NG kerk beskryf rugby as godsdiens met sy eie panteon van gode en heilige tradisies. Dit irriteer my juis, want kommentators praat al hoe meer van rugby gode, krieket gode en tennis gode asof daar gode vir al hierdie sportsoorte is, en miskien omdat sport vir baie mense ‘n god geword het. In Indië was daar juis gedurende ‘n krieketwedstryd ‘n banier van iemand wat gesê het, “Cricket is my religion and Tendulkar is my God”.

Rugby was in die tydperk van die opkoms van Afrikanernasionalisme net so deel van Afrikanerkultuur soos boeremusiek, volkspele en die 1938-herdenking van die Groot Trek.

In die vroeë jare toe daar nog net radio was het pa en seun vasgevang voor die radio gesit en luister hoe vaar Suid-Afrika op hulle oorsese toere. Dit was juis die 1962-reeks teen die Britse Leeus waar Mannetjies Roux se solo vertoning die Britse Leeus gekelder het en as ‘n ikoniese moment in die geheue van daardie generasie vasgevang is. Laurika Rauch het baie jare later die liedjie geskryf en gesing: “Onthou jy nog die drie van Mannetjies Roux”.

My pa en sy pa, as hy nog geleef het, sou die drie van Mannetjies Roux onthou het, maar ek onthou nie daardie drie nie, want ek was nog nie daar nie. Mannetjies Roux se drie beteken vir my niks, maar ek het wel rugby gespeel en is vandag nog ‘n liefhebber van rugby.

Dit bring my by die onderwerp van die gedagtes wat ek by julle wil laat, naamilk: Onthou jy ook die prys wat Christus betaal het?.

Die gedeeltes wat ek met U wil deel is Matt 27:46, 50 en Matt 28:5,6. “en omtrent die negende uur het Jesus met ‘n groot stem geroep en gesê: Eli, Eli lama sabagtani? Dit is: My God, My God, waarom het U my verlaat? Daarop het Jesus weer met ‘n groot stem geroep en die gees gegee. Maar die Engel antwoord en sê vir die vroue” Moenie vrees nie, want ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar die Here gelê het”.

Net soos wat ek nie Mannetjies Roux se drie onthou nie en dit vir my geen betekenis het nie, net so is daar nie een van ons vanaand hier wat die dood of die opstanding van Christus kan onthou nie. Die prys wat Hy vir ons betaal het nie. Ons word daarvan vertel deur Sy Woord en daar is ook vele liedjies daaroor geskrywe. Ons sing self ook baie van daardie liedjies.

Net soos wat die liefde vir rugby oorgedra word van pa na seun, net so word die boodskap van Christus deur meeste pa’s en ma’s oorgedra na hulle kinders. Ek het myself al baie gevang dat ek as my span goed vaar, of op die veld wil draf, dat ek van trots swel en dat daar selfs ‘n paar trane van my wange rol van trotsheid. Ek, net soos baie ander trotse ondersteuners, koop die rugby hemde, alhoewel replikas omdat die oorspronklikes te duur is, van ons spanne en dra dit met trots.

Die gevaar van hoekom soveel sogenaamde Christene koud word langs die pad is omdat hulle Christus nie meer elke dag sien nie. Hy het ‘n Mannetjies Roux geword wat lank terug iets vermag het, maar vir wie dit vir baie vandag niks beteken nie. Die oordra van die boodskap deur die ouers hou dalk vir ‘n rukkie, maar net soos wat baie seuns ophou rugby speel as hulle ouer word en boepense kry, so word die kinders, as kinders of as volwasenes, minder godsdienstig en neem die wêreldse plesier en dinge die plek van God in hulle lewens in.

Daar is nie meer ‘n knop in die keel of trane wat van die wange vloei oor wat Christus vir hulle gedoen het nie. Daar is sommiges wat nog kerk toe kom omdat hulle van kerk speel hou, maar nie omdat hulle betrokke by Christus is nie.

Christus sê ook vir Israel dat Hy nie hulle offers soek nie maar hulle liefde. Hy wil in ‘n verhouding met hulle staan. Christus wil dus ook nie hê dat ons moet kerk speel nie. Dat ons moet kerk toe kom, en soos wat die ouderlinge baie keer sê as ons moet bid, “Dis ons gewoonte in hierdie gemeente om as die gebedslied speel na vore te kom”. God wil nie hê ons moet Hom uit gewoonte dien soos wat ons van ons ouers geleer het nie, maar dat ons ‘n verhouding met Hom moet hê. Dat ons Hom uit liefde moet dien en dat daar ‘n knop in ons keel moet kom as ons Hom aanbid, dat ons trots moet wees dat Hy ons Vader is, en dat ons uit ondervinding van Sy liefde in ons lewens kan getuig.

Dat ons weet uit ons eie lewenswandel dat ons sonder Hom niks is nie en dat deur Sy kruisiging en opstanding daar vir ons hoop is.

Onhou jy ook die prys wat hy vir jou, vir my betaal het? Meer nog is Hy werklik deel van jou en my lewe, of dien ons Hom uit gewoonte uit?

 


 


S25 51.594
E28 12.777

DVD - Bediening
Navrae / Enquiries:
076-589-6666
Fax:  086 635 8140
DVD@Filadelfia.co.za

   

Filadelfia gemeente van Sewendedag Adventiste Centurion Pretoria
Filadelfia Congregation of Seventh-day Adventists Centurion Pretoria