|
Deur die Heilige Gees
is Hy in ons midde. Hy kon weggebly het, maar Hy het verkies om
by ons te wees en ons te genees.
Markus 3:1 "Jesus het
weer na die sinagoge toe gegaan. Daar was 'n mens met 'n
gebreklike hand."
DRIE KLASSE
In vanoggend se verhaal, kyk ons na die man met die groot
behoefte, gebreklike hand. Om die waarheid te sê, was sy hele
hand inmekaar getrek.
Ons kyk ook na die
skynheiliges, die skrifgeleerdes en die Fariseërs. Dit was die
mense wat daardie Sabbat kerk toe gekom het om met Jesus fout te
vind.
En dan kyk ons na
Jesus, die Geneesheer, die reinste, die mooiste wese wat nog
ooit op aarde gewandel het.
DIE MAN MET DIE
GEBREKLIKE HAND
Dr. Lukas sê vir ons die man se REGTERHAND
het
die probleem gehad.
Die perfekte deelwoord sê dat hierdie man eens op 'n tyd 'n
gesonde, sterk hand
gehad het, en toe gebeur iets wat sy hand verlam het.
Kan u in u
verbeelding daardie verdorde, bleek, misvormde vingers sien?
Miskien was dit sy eie skuld dat sy hand so geraak het, miskien
was dit 'n ongeluk.
VERLEENHEID
Sy hand was vir hom 'n groot verleentheid. Dis iets wat hy nie
kon wegsteek nie. As mense in die straat by hom verbyloop, het
hulle so onderlangs na hierdie gebreklike hand gekyk.
Miskien is daar 'n
groot verleentheid in jou en my lewe wat ons ongelukkig nie kan
wegsteek nie. Mense sien dit raak. Hoe hanteer jy jou
verleentheid?
As
gevolg van die
verlamde hand kon hy nie meer sy werk soos voorheen doen
nie. Dit mag
ook wees dat hy sy werk as
gevolg van sy
gebrekkige hand verloor het.
Van al die mense in
die kerk, was hy die ellendigste. Hy het aanhoudend pyn gehad.
En omdat hy nie kon doen wat ander mense kon doen nie, het dit
sy selfbeeld aangetas.
Sit jy soms in die kerk
met pyn en ‘n swak selfbeeld?
Ek is so bly dat
hierdie man met sy verleentheid, sy pyn en sy magteloosheid,
besluit het om daardie spesifieke Sabbat kerk toe te kom. Ek is
so bly dat ek ook kan
kerk toe gaan.
Ek is so bly dat jy ook
die gellentheid het.
Jesus wil ons opnuut aanraak.
Tot 'n sekere mate
kan elkeen van ons met die man met die verdorde hand
identifiseer. So dikwels verdor die mooi dinge in ons lewens.
Hoflikheid, takt, selfbeheersing
...
HAND IS KRAG
Op sommige plekke in die Bybel word HAND met krag geassosieer.
Deuteronomium 32:36
"Die Here behartig die saak van sy volk, die Here ontferm Hom
oor sy dienaars, want Hy sien hulle KRAG (HAND) het ingegee, dit
is klaar met hulle almal."
Die Ou vertaling
gebruik die uitdrukking VASHOU PLEK in die plek van die woord
KRAG.
In die grondteks word
die woord YAD wat HAND beteken ook as KRAG vertaal. HAND EN KRAG
IS SINONIEM.
TIPIES VAN DIE SONDAAR
Die man met die verdorde hand wat daardie Sabbat by die kerk
ingestap het, is tipies van elke mens. In Adam was ons almal
geestelik sterk en mooi. En toe kom die sondeval en ons word
swak en lelik.
Die genesing van die
man met die verdorde hand verduidelik die boodskap van die
Sabbat op dinamiese wyse.
Die Sabbat is 'n
simbool van God se vergewende en genesende liefde. Sonde het
ons lelik en swak gemaak, Jesus het gekom om ons mooi en heel te
maak.
Twintig eeue gelede
het 'n man een Sabbatoggend die sinagoge binnegestap. Sy
regterhand was verdroog, verswak, gebreklik. Die man het die
krag, die greep van sy sterkste hand verloor.
Sy gebreklike hand
was terselfdertyd sinnebeeldig van sy geestelike krag wat
verdwyn het.
Daar mag miskien 'n
tyd in ons lewens gewees het toe ons die krag gehad het om te
kon vergewe het. Maar op 'n dag het 'n bitterheid gekom en ons
verlam en lelik gemaak.
TWEE KLASSE
Markus 3:1,2 lees
"Jesus het weer na die sinagoge toe gegaan. Daar was 'n man met
'n gebreklike hand. Die Fariseërs het vir Jesus dopgehou om te
sien of Hy hom op die Sabbatdag sou gesond maak, sodat hulle vir
Jesus daaroor kon aankla."
Die teks praat van
twee gesindhede. Die Fariseërs het met Jesus kom fout soek. Het
hulle fout gekry? Baie beslis. ‘n Foutsoeker word nooit
teleurgestel nie.
Met watter gesindheid
is
ek en jy in die kerk?
Het ons miskien onbewus of bewustelik met Jesus in die persoon
van Sy kinders kom foutsoek?
Die ander gesindheid
wat ons in hierdie paar verse kry, is 'n gesindheid van
behoeftes. Die man met die verdorde hand het met groot
behoeftes kerk toe gekom.
Met watter soort
gesindheid is ek en jy
in die huis van die Here?.
Met 'n kritiese gesindheid of met 'n gesindheid van groot
behoeftes?
GEDAGTES GELEES
Dink u Jesus kon die gedagtes van Sy vyande gelees? Baie beslis.
Wat sou gebeur as Hy daardie man op die Sabbat genees?
Lukas 6:7,9 lees
"Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het vir Jesus dopgehou om
te sien of Hy op die Sabbatdag iemand sou gesond maak, SODAT
HULLE 'N AANKLAG TEEN HOM KON KRY. Maar Hy het hulle gedagtes
geken en vir die man met die gebreklike hand gesê: Staan op en
kom staan hier in die middel. En hy het daar kom staan."
Hoe meer ek oor Jesus
lees, hoe meer admireer ek Hom. Hy lees die mense se kritiese
gedagtes en Hy besef dat as Hy hierdie man genees, dit Sy lewe
sou kos. En Hy moes 'n besluit neem. Wat sou jy gemaak het?
In die laat sewentigs
hou ek 'n reeks evangeliedienste in Pietermaritzburg. 'n
Soekende
dame met die naam van Tish
het
die reeks bygewoon.
Sy was met 'n baie moeilike Duitser getroud.
En terwyl ek een
Vrydagmiddag besig was om kar te was, kry ek die volgende
indruk. As ek sou aanhou om hierdie dame te bearbei, gaan haar
man my 'n opstopper gee.
Wat moes ek doen? Ek
het besluit 'n siel is meer werd as my veiligheid en raai wat
het gebeur? Ek het die pak slae van my lewe gekry.
Ongelukkig het
Peter Raymer, 'n Australiaanse predikant onskuldig saam met my
'n pak slae gekry.
Tish Zimmermann is
gedoop. My kneusplekke is genees. Dit was alles die moeite
werd. Haar man Brian is tot vandag toe jammer omdat hy daardie
Vrydagaand te veel gedrink het.
Jesus het geweet dat
as Hy jou en my red, Hy 'n blouoog sou kry. Maar Hy het ons so
lief dat dit nie by Hom 'n oorweging was nie. En op Golgota het
Hy nie net 'n blouoog gekry nie, Hy is morsdood geslaan.
DIE VRAAG
Kan u die man met die gebreklike hand sien opstaan en stadig na
Jesus aangestap kom? Almal in die kerk se oë is nou op hom
gevestig. Toe hy voor Jesus kom staan, kyk Jesus na die gehoor
en praat met hulle.
In
Markus 3:4 lees
ons "Daarna
vra Hy vir hulle: Mag 'n mens op die Sabbat goed doen of kwaad
doen, iemand red of doodmaak?"
Waarom vra Jesus vir
hulle hierdie vraag? Omdat hulle besig was om planne te maak om
Hom te vernietig en omdat Hy iemand wou red.
En Jesus vra vir jou
en my dieselfde vraag. Wil ek mense red of wil ek mense
vernietig?
Matteus 12:11,12:.
"Hy sê vir hulle: Wie
van julle sal nie die een skaap wat hy het en wat op 'n
Sabbatdag in 'n sloot val, dadelik uithaal nie? Hoeveel is 'n
mens nie meer werd as 'n skaap nie? Dan mag 'n mens mos op die
Sabbatdag goed doen."
Dis so maklik vir die
mens om die klem op die simbool te plaas en dit waarvoor die
simbool staan, mis te kyk.
Die Sabbat
simboliseer God se totale karakter. Skepper en Herskepper.
En as ek op 'n Sabbat
Sy skeppende en verlossende mag miskyk, het die Sabbat vir my
koue stuk formaliteit geword.
Die Sabbatoggend net
voordat een van die Fariseërs kerk toe gekom het, het een van sy
skape in 'n sloot geval. Binne 'n paar minute het hy die skaap
uitgehaal en gered.
En nou luister Hy hoe
Jesus met hulle gesels. Die man met die verdorde hand is soos
'n skaap wat in 'n sloot van groot ellende geval het.
En terwyl hierdie
Fariseër na Jesus luister, besef hy dat die skaap wat hy daardie
oggend uit die sloot gehaal het, vir hom meer werd is as die man
met die verdorde hand wat in die sloot van ellende geval het. En
omdat Jesus die waarheid praat, word hierdie Fariseër net
woedender en woedender in sy binneste.
As my bestittings op
hierdie Sabbat vir my belangriker as die behoeftes van ander
mense is, het ek nog nie die VERLUSTIGING van die Sabbat ten
volle ontdek nie.
SKAPE IN SLOTE
Dalk ken u 'n hele paar
skape wat in
die sloot van moeilikheid geval het.
Hier is skape wat in
die sloot van eensaamheid en teleurstelling geval het. Weet u
waarmee trek mens hulle uit daardie sloot? Met 'n uitnodiging
na sabbatmiddag ete. Met ‘n besoekie of ‘n sms. Kom ons wees
vandag baie goed vir mekaar. Kom ons raak spandabelrig met ons
vergifnis en begrip vir mekaar.
WOEDE EN
BEDROEFHIED
Markus vertel vir ons van twee interessante emosies wat Jesus
daardie Sabbat openbaar het.
Markus 3:5 "Hy het
hulle rondom Hom kwaad aangekyk en was diep bedroef oor hulle
verhardheid..."
Die man met die
gebreklike hand kyk na Jesus terwyl Hy met die Fariseërs en die
skrifgeleerdes praat. Hy sien eerstens ontsteltenis en daarna 'n
diepe bedroefdheid.
WOEDE
Woede is soos 'n vuur wat met kole van selfsug en eiewaan aan
die brand gehou word. Woede is onredelik, wreed en
selfvernietigend.
Maar wat van Jesus se
woede? Ons moet nooit dink dat Hy dieselfde woede as ons
geopenbaar het nie, want Hy het nie ‘n sondige gevalle natuur
besit nie. Sy ontsteltenis het uit 'n hart van liefde ontspring.
"Jesus was nie
woedend, ontsteld, oor iets wat Hom persoonlik aangegaan het
nie, maar deur onreg wat aan ander gedoen is. Regverdigbare
woede is teen die verkeerde daad gerig sonder enige vyandigheid
teenoor die kwaaddoener." 6 BC 1027
Jesus het nooit
goddelike, verontwaardiging geopenbaar wanneer Hy vervolg of
beledig was nie. Maar wanneer ander mense seergemaak is, het Hy
Sy goddelike verontwaardiging geopenbaar.
Jesus se woede, se
verontwaardiging was nooit teen die sondaar gemik
nie, maar teen die sonde.
KORSTONDIG
Die goddelike woede wat Jesus geopenbaar het, was net vir 'n
breuk van 'n sekonde - 'n vinnige blits van misnoë.
En toe sien die mense
in die kerk iets anders. Hulle sien
'n diepe
besorgdheid, 'n diepe deernis, 'n jammer, 'n bedroefdheid.
Die deelwoord BEDROEF
verwys na 'n VOORTDURENDE aksie, terwyl WOEDE na ‘n KORTSONDIGE
aksie verwys.
Teenoor wie het Jesus
die diepe jammerte, hierdie emosie van bedroefdheid geopenbaar?
Teenoor die mens wat Hom wou doodmaak. Hy besef dat hulle
verkeerde gesindheid hulle uiteindelik gaan vernietig en Sy hart
is seer.
Hoe lank koester ons
emosies van woede teenoor lelike mense? Hoe lank is ons emosies
van deernis en jammerte teenoor lelike mense?
GOD SE BEELD IN
DIE OU TESTAMENT
In Jesus se optrede daardie Sabbat in die kerk, het ons 'n
pragtige karakterskets van die Vader. Woede, ontsteltenis vir
'n oomblik, bedroefdheid of jammerte vir ewig.
Daar is mense wat glo
dat die Jesus van die Nuwe Testament nie dieselfde Wese as die
God van die Ou Testament is nie.
Psalm 30:6 "Waarlik,
sy toorn duur net 'n oomblik, maar Sy goedheid lewenslank..."
Psalm 85:4 "U het u woede laat bedaar, U gloeiende toorn laat
afkoel..." Psalm 103:8,9 "Barmhartig en genadig is die Here,
Lankmoedig en vol liefde. Hy sal ons sonde nie bly toereken en
nie vir ewig toornig bly nie."
Wat 'n pragtige beeld
van die Vader. En toe een Sabbat, eeue later, kom Jesus kerk
toe en Hy kyk na mense wat Hom wil verhoed om iemand te genees.
Net vir 'n oomblikkie
is Hy bitter ontsteld, maar vir die res van die sabbatsdiens
straal Hy tere, besorgdheid uit.
DEERNIS
"Hy het die sonde skerp en deurtastend aan die kaak gestel; maar
daar was geen weerwraak in Sy woorde nie. Hy het 'n heilige
toorn vir die vors van die duisternis gekoester, maar Hy het
geen vitterige humeur aan die dag gelê nie. Die Koning van
die Eeue, bl. 560.
DIE MAN WORD
GENEES
Twee duisend jaar gelede het 'n man met 'n groot verleentheid
kerk toe gekom. Sy regterhand was verlam, kragteloos, misvorm.
Jesus praat met hierdie man wat in pyn verkeer het.
Markus 3:3,5 "Hy sê
toe vir die man met die gebreklike hand: Staan op hier tussen
hulle." "...Hy sê toe vir die man: Steek jou hand uit. Hy het
sy hand uitgesteek en dit was gesond."
Kan u sien hoe
daardie pynvertrekte gesig in 'n glimlag verander? 'n Siek,
gebroke mens het die kerk ingestap. 'n Gesonde, geneesde mens
het die kerk uitgestap.
DIE UITNODIGING
Soos wat Jesus 2000 jaar gelede vir die onthalwe van 'n man met
'n verdorde hand kerk toe gekom het,
is saam met
jou en my
vir ons
onthalwe
in die
kerk.
Is daar iets moois in
jou lewe wat soos daardie man se hand verdor het? ‘n Mooi
verhouding, ‘n mooi gesindheid? Het jy jou greep op die mooi
gedagtes verloor?
Het jy soos 'n skaap
in 'n sloot van sonde en depressie geval? Jesus wil jou daaruit
help.
Wil jy nie saam met
my jou verdorde hand aan Jesus vir genesing gee nie? Kom ons
doen dit want Hy is gretig om ons te genees. |