|
Diegene wat my al lank en goed ken, is ook
bekend met my voorliefde vir mooi skoene. Skoene met hoë
hakke die, ongesonde soort, dié
waarvan jy in tydskrifatrikels lees waar
vroue gewaarsku word oor die ongelooflike nadeligheid t.o.v
die die spinale kolom, die heupe, die kniee, voetknobbels,
ag die lys is langer as wat my hakke hoog is, skoene met fyn
bandjies, skoene wat anders is. Hoe hoër die hakke en
minder die bandjies, hoe groter is die aantrekkingskrag. De
Wet het juis al op 'n keer gespot dat hy nie kan glo dat ek
so baie betaal vir slegs 'n paar sole nie.
Dit is dan juis ook op dié Sabbat wat ons na
die streeksaamtrek gaan en luister na twee mense wat hulle
hele lewe wy in diens van die Here dat ek my hoë wit skoene
met die blink diamanté bantjies aantrek, sitskoene, julle
weet mos dit is nie eintlik asof 'n mens gaan rondloop en
rondstaan nie, ons gaan mos sit, en het ons nie gesit nie.
Die sprekers het baie gehad om te vertel en almal het
aandagtig sit en luister.
Toe ons instap is 'n jong man aan die woord,
ek het ongelukkig nie sy naam gekry nie. Hy vertel hoedat
hy en sy vrou vir die Here in die noorde van Afrika werk en
hoedat hulle onlangs hulle seuntjie van vier aan die dood
afgestaan het. Die inligiting ontstel my Verwag die Here
werklik so 'n groot opoffering?
Ouma kla die plastiek stoele maar haar rug
seer en die twee mans kry te warm. Soos die geluk dit wil
hê sien ouma heerlike gemaklike stoele by tafels staan, naby
vensters en, voila, daar skuif ons en dit word ons nuwe
luisterplek.
David Gates neem die erediens waar en kan die
man praat. Hy praat van opoffering ter wille van verlore
siele. Die gedagte pla my al lank. Ek maak geen opoffering
nie, maar ek bid gereeld dat die Here vir my 'n passie vir
siele sal gee. David maak dit ook baie duidelik dat ons
rentmeesters is van alles wat God aan ons gegee het. Ja,
daaraan glo ek sterk, het glad nie 'n probleem daarmee nie.
Maar sê hy, goeie rentmeesterskap hou verband met diens vir
andere. Ja dit maak goeie sin en dit is waar, dink ek
weereens.
Tydens middagete maak ek my besluit aan de
Wet bekend om my sakgeld wat ek gewoonlik gebruik om
Foschini mee te betaal te gee vir 'n projek waarmee hy 'n
tyd gelede begin het, maar wat ten einde geloop het a.g.v.
die hoë koste van posgeld. Die sakgeld is beskikbaar omdat
ek nie hierdie maand 'n paaiement het nie, maar eintlik het
ek alweer twee paar skoene by Shoe City gesien met my naam
op, 'n ongelooflike cerise-pienk paar en dieselfde styl in
swart. Ek het al mooi gesit en my berekeninge gemaak.
Almal moet net mooi verstaan dat dit het moed
en oortuiging gekos om hierdie besluit te neem. Hierdie is
vir my 'n opoffering, om daardie twee paar 'sling back'
skoene, met hulle hoe hakke en elegante styl uit my gedagtes
te verban en die geld te gee om gratis DVD's aan mense te
bied, dit is inderdaad vir my 'n opoffering. Nadat ek my
bekendmaking gedoen het, voel dit of ek 'n baksteen ingesluk
het. Ek het hierdie vreeslike swaar gevoel op die krop van
my maag. Ek bid in my gedagtes en vra die Here om van my 'n
blymoedige gewer te maak. Ek groet ons vriende en bekendes
en stap oor na oom Hein en Bets om hulle te gaan groet.
Terwyl ek met hulle gesels kom Monica en Andre en Amanda
Jacobs ook nader. Amanda se sy het my skaars herken met die
korter kapsel, maar toe sy die skoene sien, weet sy dit moet
ek wees. Almal lag en ek neem dit as 'n kompliment.
Toe ek later wegstap van die gesprek af, kom
die gedagte by my op, moes sy my nie liewer herken het aan
die feit dat jy my altyd by die alleen mense sou kon kry nie,
die minder gegoedes, die oumense? Ek voel meteens so
oppervlakkig en sukkel steeds met die swaar gevoel op my
maag. Ek bid weer, Here maak van my 'n blymoedige gewer.
Ons neem weer ons plekke in vir die
middagsessie en weereens praat Lr David met oortuiging. Hy
vertel van die werk wat hy doen, en praat oor goeie
rentmeesterskap en opoffering en hoedat hy elf en 'n half
maande van die jaar van huis af weg is.
Ek wonder weereens oor opoffering en
rentmeesterskap en nou begin die sogenaamde opoffering wat
ek reken dat ek maak deur die geld wat ek op skoene wou
spandeer, maar redelik onbenullig lyk.
Sondagoggend staan ek op en dink weereens aan
my besluit van die vorige dag, en die swaar gevoel op my
maag is terug. Ek bid weer ernstig dat die Here van my 'n
blymoedige gewer sal maak en gelukkig is Sondag nogal besig.
Ons ontvang besoekers en ek dink aan ander dinge.
Maandagoggend is die gevoel op my maag ligter.
Ek dank die Here daarvoor.
Dinsdag is daar 'n praatjie op 3ABN wat ek
nie mooi volg nie omdat ek doenig is terwyl die program aan
die gang is, maar die belangrike deel, die
skriftuurverwysing sien ek raak, Mattheus 6:25 en 26.
Snaaks ek loop juis die afgelope 2 dae aan hierdie teks en
dink. Nee, dit is nie so snaaks nie. Die Here doen niks
half nie. Wanneer ons met Sy hulp aan ons swakhede werk,
stuur hy boodskappe om ons te oortuig en te versterk.
Teen Woensdag is die gevoel op my maag weer
normaal. Ek moet East Rand Mall toe gaan om 'n paar
dingetjies te doen. En raai, Shoe City is op my roete. Ek
draai daar in, peil reg op die skoene af wat ek so graag wou
hê. Hulle trek my nie meer soos magnete nie. Ek sien selfs
hier en daar 'n fout of twee raak aan die paar wat uitgestal
is. Dankie Here, dit is so bevrydend, bid ek in my gedagtes
terwyl ek wegstap van die skoenrak af.
Die Here het Sy manier om met elkeen van ons
te werk. Hy weet waar ons swakhede lê en werk in ons harte
om afstand te doen van die gode in ons lewens, maar Hy is
genadig. Hy wil ons in Sy liefde toelaat om self die keuse
te maak. Hy wil ons nie dwing nie. Soms laat Hy sekerlik
toe dat omstandighede ons dwing om 'n sekere besluit te neem,
maar wil eerder sien dat ons uit eie beweging, uit liefde
vir Hom en vir Sy saak 'n besluit neem. Ek is dankbaar vir
hierdie genade.
Die geestelike les is toe nie een wat ek aan
ander wil leer nie, maar een wat ek self geleer het en net
graag van wil vertel.
En so gebeur dit dat twee paar sole, met die
Here se hulp, verruil word vir siele!
|