Die Vissie Wat Vry Wou Wees

Eendag was daar ‘n vissie wat saam met ‘n klomp ander vissies in ‘n visbak in ‘n huis gewoon het. Die vissie se naam was Jannie. Jannie was baie gelukkig in die visbak met al die ander vissies, daar was net een ding in die hele opset van sy lewe wat nie vir hom te lekker was nie. Dit was die geskarrel elke dag as die eienaar van die vissies vir hulle kos gee.

Verder kon hy regtig nie kla nie en hy het geweet dat hy eintlik baie gelukkig was. Eendag terwyl hy so rond swem , kyk hy so deur die glas van die bak na buite en skielik sien hy iets raak wat hy nog nooit aan gedink het nie. Hy sien hoe groot die wêreld daarbuite is in vergelyking met die vis bak waarin hy is. Net daar en dan besluit hy dat hy nie meer in hierdie ou klein visbakkie wil bly nie. Hy wil heeltemal vry wees en hy besluit om sy kans af te wag en as die geleentheid hom voordoen ‘n breek te maak. Hy sal net wag vir die regte teken of openbaring en dan sal hy sy skuif maak.

So het ‘n paar dae verby gegaan en Jannie het gewag vir die regte teken of openbaring. Toe eendag, nadat die eienaar van die vissies hulle kos gegee het sit hy die houer met viskos langs die visbak neer maar vergeet om die houer toe te maak. Toe Jannie dit sien was hy baie opgewonde en het sommer geweet dit is die teken wat hy voor gewag het. Nou gaan sy geskarrel vir kos vir eens en vir altyd op ‘n einde wees. Nou gaan hy vir altyd genoeg kos hê, nou gaan die wêreld altyd wyd en oop om hom wees. Net daar en dan spring hy met ‘n sierlike boog uit die vis bak uit tot bo-op die kos in die oop kos houer en net daar sterf hy met al die baie kos en lug en ruimte om hom.

Die les vir my in die storie is dit: As kind van God het ek die wonderlike versekering dat waar ek is en wat ek is, Die heel beste ding in die hele heelal is wat met my kon gebeur het. As iemand vir my vra waar kry ek die versekering. Dan antwoord ek altyd graag so: Ek het God se woord daarvoor. Ek het die Bybel.

Psalm 139 vanaf vers 16: U het my gesien nog voor ek gebore is. In u boek is my hele lewensloop opgeskryf nog voordat dit begin het. 17: O God, hoe wonderlik is u gedagtes nie! Dit is vir my onmoontlik om te weet waaraan U alles dink, 18: net so onmoontlik as om elke sandkorreltjie te tel.

Matteus 10 vanaf vers 29: Julle weet hoe min ’n mossie werd is. ’n Mens kan twee van hulle vir een geldstukkie koop. En tog kan nie een van hulle op die grond val as julle Vader dit nie toelaat nie. 30: Hy weet selfs presies hoeveel hare daar op julle kop is. 31: Moet dan nie bang wees nie, want julle is baie meer werd as ’n hele klomp mossies.

Johannes 8 vers 36: Dit is net as die Seun van God julle vrygemaak het dat julle werklik vry kan wees.

Judas 1:24-25 Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig, 25: aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen.

Met erkenning aan Ellen Taljaard FQE@dwaf.gov.za





Watch Bible prophecy come to life as this amazing 43-minute documentary unfolds the dramatic events of tomorrow. Hosted by author and evangelist Pastor Doug Batchelor this stunning DVD features special effects along with a rich music soundtrack