Filadelfia Gemeente se Benoemingskomitee het jaar
na jaar die frustrasie ervaar van ure se kopkrap rondom die benoeming
van aanvanklik lidmate wat sodanig BEKWAAM geag word om sekere poste
te vul, en wanneer hierdie persone nie bereid is om dié
verantwoordelikhede op te neem nie, dan die verdere pynigende proses
om ‘n GEWILLIGE persoon te kry, en helaas, selfs nog ure deur te
swoeg om ENIGE IEMAND te kry om die werk te doen. Die gevolg is
dikwels dat mense ampte vul vanweë allerhande ander motiewe as dít
waarvoor diens in die gemeente regtig bedoel is, nl. uit vreugde en
dankbaarheid teenoor God vir die wonder van verlossing.
Om te voorkom dat sodanige gewilligheid tot diens
dalk ook êrens vanuit een of ander vorm van verpligting spruit, is
dit noodsaaklik om vas te stel waarvoor mense (1)‘n aanleg en
(2)‘n passie het. Die positiewe benutting van hierdie twee aspekte
bring mee dat lidmate betrokke kan raak by aksies waarvoor hulle
TOEGERUS is in die eerste plek, en tweedens dat hulle GENIET wat hulle
doen.
Deur ‘n proses van ontdekking van lidmate se
geestelike gawes, en die toepassing daarvan, is daar ‘n begin gemaak
om die huidige benoemingstelsel uiteindelik (al kan dit ‘n jaar of
twee neem) te vervang, en terselfdertyd van dienslewering ‘n
dinamiese gebeurtenis in die gemeente te maak eerder as die gesleep
van voete wat dit soms kan wees.
In April 2000 het die eerste agt lidmate van
Filadelfia gemeente dié opleiding deurloop, opgevolg met ‘n tweede
opleidingsgeleentheid in Augustus van dieselfde jaar. Vroeg in 2001 is
die eerste jeuggroep hieraan blootgestel, en in Maart het ‘n groep
senior lidmate ook die proses deurloop. Altesaam 48 lidmate is tot
dusver opgelei, met ‘n verdere 107 wat nog betrek moet word. Die
volgende opleidingsessie word beoog vir die naweek van 18-20 Mei by
die Fanie Combrink Vakansieoord te Hekpoort, waar spesifiek
beplan word om die ouers van jong kinders in die gemeente te
betrek, met fasiliteite en genoeg ruimte om die jongspan elders besig
te hou.
‘n Ontleding van die gawes onder diegene wat
reeds opgelei is, sien soos volg daar uit :
|
Voorbidding |
13 |
|
Gasvryheid |
12 |
|
Geloof |
11 |
|
Onderskeiding |
7 |
|
Diens |
7 |
|
Bemoediging |
5 |
|
Barmhartigheid |
5 |
|
Organisasie |
4 |
|
Skeppende vermoë |
4 |
|
Uitdeling |
3 |
|
Leierskap |
3 |
|
Onderrig |
3 |
|
Herderskap |
1 |
Aksies wat al voortgespruit het uit hierdie
proses van ontdekking en opleiding is die volgende :
-
‘n gemeente nuusbrief “Tussen
Ons” wat reeds twee keer verskyn het, en waaraan ‘n hele paar
lidmate deelneem deur hul skeppende vermoëns aan te wend ;
-
‘n gebedsgroep waar spesifiek voorbidding gedoen word vir
hierdie projek ;
-
‘n kwartaallikse vroue-ontbyt ;
-
‘n Sabbatskool- en aktiewe ontspanningsprogram vir die Hoërskooljeug
deur die werkende jeug ;
-
opleiding in blommerangskikking.
Daar is egter ook dié lidmate wat reeds al ‘n
geruime tyd volgens hul werkende gawes in ampte of spesifieke dienste
aktief werksaam is, en wat steeds onvermoeid daarmee voortgaan.
Filadelfia Gemeente is in die proses van omvorming
gebaseer op die uitgangspunt dat die Meesterhand ons lidmate met hul
besondere gawes juis in hierdie tyd só saamgestel het dat Sy wil en
doel maksimaal uitgevoer kan word onder die leiding van die Heilige
Gees.
Terug na Gemeentelike
Aksies
|