|
Dit
is dan juis ook op dié Sabbat wat ons na die streeksaamtrek gaan
en luister na twee mense wat hulle hele lewe wy in diens van die
Here dat ek my hoë wit skoene met die blink diamanté bantjies
aantrek, sitskoene, julle weet mos dit is nie eintlik asof 'n
mens gaan rondloop en rondstaan nie, ons gaan mos sit, en het
ons nie gesit nie. Die sprekers het baie gehad om te vertel en
almal het aandagtig sit en luister.
Toe
ons instap is 'n jong man aan die woord, ek het ongelukkig nie
sy naam gekry nie. Hy vertel hoedat hy en sy vrou vir die Here
in die noorde van Afrika werk en hoedat hulle onlangs hulle
seuntjie van vier aan die dood afgestaan het. Die inligiting
ontstel my Verwag die Here werklik so 'n groot opoffering?
Ouma kla die plastiek stoele maar haar rug seer en die twee mans
kry te warm. Soos die geluk dit wil hê sien ouma heerlike
gemaklike stoele by tafels staan, naby vensters en, voila, daar
skuif ons en dit word ons nuwe luisterplek.
David Gates neem die erediens waar en kan die man praat. Hy
praat van opoffering ter wille van verlore siele. Die gedagte
pla my al lank. Ek maak geen opoffering nie, maar ek bid
gereeld dat die Here vir my 'n passie vir siele sal gee. David
maak dit ook baie duidelik dat ons rentmeesters is van alles wat
God aan ons gegee het. Ja, daaraan glo ek sterk, het glad nie
'n probleem daarmee nie. Maar sê hy, goeie rentmeesterskap hou
verband met diens vir andere. Ja dit maak goeie sin en dit is
waar, dink ek weereens.
Tydens middagete maak ek my besluit aan de Wet bekend om my
sakgeld wat ek gewoonlik gebruik om Foschini mee te betaal te
gee vir 'n projek waarmee hy 'n tyd gelede begin het, maar wat
ten einde geloop het a.g.v. die hoë koste van posgeld. Die
sakgeld is beskikbaar omdat ek nie hierdie maand 'n paaiement
het nie, maar eintlik het ek alweer twee paar skoene by Shoe
City gesien met my naam op, 'n ongelooflike cerise-pienk paar en
dieselfde styl in swart. Ek het al mooi gesit en my berekeninge
gemaak.
Almal moet net mooi verstaan dat dit het moed en oortuiging
gekos om hierdie besluit te neem. Hierdie is vir my 'n
opoffering, om daardie twee paar 'sling back' skoene, met hulle
hoe hakke en elegante styl uit my gedagtes te verban en die geld
te gee om gratis DVD's aan mense te bied, dit is inderdaad vir
my 'n opoffering. Nadat ek my bekendmaking gedoen het, voel dit
of ek 'n baksteen ingesluk het. Ek het hierdie vreeslike swaar
gevoel op die krop van my maag. Ek bid in my gedagtes en vra
die Here om van my 'n blymoedige gewer te maak. Ek groet ons
vriende en bekendes en stap oor na oom Hein en Bets om hulle te
gaan groet. Terwyl ek met hulle gesels kom Monica en Andre en
Amanda Jacobs ook nader. Amanda se sy het my skaars herken met
die korter kapsel, maar toe sy die skoene sien, weet sy dit moet
ek wees. Almal lag en ek neem dit as 'n kompliment.
Toe
ek later wegstap van die gesprek af, kom die gedagte by my op,
moes sy my nie liewer herken het aan die feit dat jy my altyd by
die alleen mense sou kon kry nie, die minder gegoedes, die
oumense? Ek voel meteens so oppervlakkig en sukkel steeds met
die swaar gevoel op my maag. Ek bid weer, Here maak van my 'n
blymoedige gewer.
Ons
neem weer ons plekke in vir die middagsessie en weereens praat
Lr David met oortuiging. Hy vertel van die werk wat hy doen, en
praat oor goeie rentmeesterskap en opoffering en hoedat hy elf
en 'n half maande van die jaar van huis af weg is.
Ek
wonder weereens oor opoffering en rentmeesterskap en nou begin
die sogenaamde opoffering wat ek reken dat ek maak deur die geld
wat ek op skoene wou spandeer, maar redelik onbenullig lyk.
Sondagoggend staan ek op en dink weereens aan my besluit van die
vorige dag, en die swaar gevoel op my maag is terug. Ek bid
weer ernstig dat die Here van my 'n blymoedige gewer sal maak en
gelukkig is Sondag nogal besig. Ons ontvang besoekers en ek
dink aan ander dinge.
Maandagoggend is die gevoel op my maag ligter. Ek dank die Here
daarvoor.
Dinsdag is daar 'n praatjie op 3ABN wat ek nie mooi volg nie
omdat ek doenig is terwyl die program aan die gang is, maar die
belangrike deel, die skriftuurverwysing sien ek raak, Mattheus
6:25 en 26. Snaaks ek loop juis die afgelope 2 dae aan hierdie
teks en dink. Nee, dit is nie so snaaks nie. Die Here doen
niks half nie. Wanneer ons met Sy hulp aan ons swakhede werk,
stuur hy boodskappe om ons te oortuig en te versterk.
Teen Woensdag is die gevoel op my maag weer normaal. Ek moet
East Rand Mall toe gaan om 'n paar dingetjies te doen. En raai,
Shoe City is op my roete. Ek draai daar in, peil reg op die
skoene af wat ek so graag wou hê. Hulle trek my nie meer soos
magnete nie. Ek sien selfs hier en daar 'n fout of twee raak
aan die paar wat uitgestal is. Dankie Here, dit is so bevrydend,
bid ek in my gedagtes terwyl ek wegstap van die skoenrak af.
Die
Here het Sy manier om met elkeen van ons te werk. Hy weet waar
ons swakhede lê en werk in ons harte om afstand te doen van die
gode in ons lewens, maar Hy is genadig. Hy wil ons in Sy liefde
toelaat om self die keuse te maak. Hy wil ons nie dwing nie.
Soms laat Hy sekerlik toe dat omstandighede ons dwing om 'n
sekere besluit te neem, maar wil eerder sien dat ons uit eie
beweging, uit liefde vir Hom en vir Sy saak 'n besluit neem. Ek
is dankbaar vir hierdie genade.
Die
geestelike les is toe nie een wat ek aan ander wil leer nie,
maar een wat ek self geleer het en net graag van wil vertel.
En
so gebeur dit dat twee paar sole, met die Here se hulp, verruil
word vir siele!
|