Sewendedag Adventiste
Gemeente Filadelfia

 


S25 51.594
E28 12.777

DVD - Bediening
Navrae / Enquiries:
076-589-6666
Fax:  086 635 8140
DVD@Filadelfia.co.za

OP REIS
Juan La Rouchelle

Ons almal ken die bekende gedig, “Voetspore”.  Die verhaal van iemand wat ‘n sukkelbestaan in die lewe gevoer het, en toe vir Christus gevra het waar was Hy toe dit moeilik met hom of haar in die lewe gegaan het.  Ek gaan egter nie vanaand met julle praat oor die gedig voetspore nie.

Elkeen van ons is egter op pad iewers heen en laat voetspore na waar ons ookal gaan.  Hetsy fisiese voetspore op die pad of voetspore in die lewens van mense met wie ons in aanraking kom.  Ons is dus almal op ‘n lewensreis.  Vir die van ons wat probeer om ‘n goeie Christelike lewe te lei is ons as’t ware op ‘n geestelike reis.

Ons weet nou ook dat ‘n reis gepaard gaan met sekere beplanning, en dat baie mense ons op die pad kwaad maak omdat hulle nie almal in ag neem met die wyse hoe hulle bestuur nie.  Baiekeer wanneer ons ook nie ‘n pad ken nie maak ons ook gebruik van ‘n Globale Posisionele Sisteem, of in kort ‘n GPS.

Dit bring my by die tema, naamlik “Op Reis”.  Ons teksvers kom uit Psalms 17:5 en lees as volg:  “My gange het vasgehou aan U spore, my voetstappe het nie gewankel nie”.  Dawid die skrywer van hierdie woorde, het soos ons weet, definitief op die lewens of geestelike pad gewandel sonder om te wankel nie.  Ek sal ‘n bietjie later verder hieroor uitbrei, aangesien dit die kern van my boodskap vanaand is.

Op ons lewensreis is ons baiekeer besig om te oorleef, aangesien daar so baie struikelblokke op ons weg is.  Hetsy finansies, ons werk, mense met wie ons mee omgang en dies meer.  Ons is dus meeste van die tyd in ‘n oorlewingsstryd gewikkel in hierdie reis van die lewe.

Klaarblyklik as ‘n mens in die veld is en moet oorleef kan jy byvoorbeeld water uit ‘n maroelawortel tap, maar verg dit baie energie, en energie is iets wat jy nie in die bos behoort te vermors nie.  ‘n Mens moet dus baie mooi dink voordat jy vir maroelawortels grawe.

Daar is ook baie sulke moegmakers in ons lewensreis, en kan ‘n mens amper sê, “moenie maroelawortels uitgrawe nie”.

Net so moet ‘n mens ook in die veld kophou in watter rigting jy loop, dat jy nie miskien al in die rondte loop nie.  Jy moet dus ook jou hele omgewing verken en leer ken.  Hierdie beginsels kan ons ook op ons lewensreis toepas.

Eerstens, bly op die spoor.  Tweedens, kyk op dat jy die groter prentjie kan sien.  Derdens, fokus, moenie dat goed wat niks met die spoor te doen het jou aandag aflei nie.  Laastens, en miskien die belangrikste, as jy die spoor verloor, kom tot stilstand en keer terug na die punt waar jy laas op spoor was, en gaan van daar af verder.

Op ons geestelike reis het ons ‘n GPS, die Bybel.  Die Bybel dui vir ons aan watter spoor of pad moet ons vat op ons reis.  Wanneer ons moeg word vir hierdie reis, moet ons ‘n bietjie terugstaan en na die groter prentjie kyk.  Ons moet sien dat ons op pad is na die hemel, en dat ons ons nie moet besig hou met die uitgrawe van maroelawortels, die moegmakers van die lewe, soos om in konfrontasie met mense betrokke te raak, ander in die rug te steek en dies meer nie.

Ons moet fokus op die GPS en nie ons aandag laat aflei deur die dinge op die pad nie.  Ongelukkig is daar ‘n leeu op ons pad, en hy laat ons in verskeie rigtings spaander.  Dit het met Dawid gebeur.  Hy het ‘n mooi vrou in die bad gesien.  Waarom kan Dawid dan die woorde in Psalms 17:5 uiter?

Eenvoudig.  Hy het sy GPS aangehou, en die GPS het vir hom gesê, “You have deviated from the course, recalculating route”.  Hy het gaan stilstaan omdat hy die spoor verloor het, en hy het teruggekeer na waar hy laas op die spoor was en van daar af verder gegaan.

Daar is ‘n persoon wat gister gesê het hy is ‘n wedergebore Christen, maar in dieselfde asem vertel hy nog hoe hy drink, en alhoewel hy ‘n meisie het, hy ‘n ander dames maat het met wie hy in ‘n suiwer seksuele verhouding is.

Hierdie is maar sy situasie.  Elkeen van ons is hier vanaand omdat ek glo ons op ‘n geestelike reis is en ons onsself as Christene beskou.  As ons vanaand gaan stilstaan waar is ons op ons geestelike reis.

Kom ons vat die GPS en kyk net of dit nie dalk sal sê, “You have deviated from the course, recalculating route” nie.

 


 


S25 51.594
E28 12.777

DVD - Bediening
Navrae / Enquiries:
076-589-6666
Fax:  086 635 8140
DVD@Filadelfia.co.za

   

Filadelfia gemeente van Sewendedag Adventiste Centurion Pretoria
Filadelfia Congregation of Seventh-day Adventists Centurion Pretoria