|




S25
51.594
E28 12.777
DVD - Bediening
Navrae / Enquiries:
076-589-6666
Fax: 086 635 8140
DVD@Filadelfia.co.za |
MY BROER SE HERDER
dankie Ethel |
Die omie kom gebukkend, skuifelend die pad afgestap, sy
verkreukelde hoed styf in sy hand vasgeklem. Die plooie trek
donker dongas oor sy gesig, en sy oë is dof en blou. Sy
klere hang soos ʼn meelsak om hom, sy skoene het al beter dae
gesien. Sy hare wapper in drie slierte om sy voorkop,
sonverbrand.
"Boetie! Boetie!" roep hy na my. Ek gee hom een kyk en kyk
dan anderpad. Net nog 'n boemelaar, net nog 'n bedelaar.
"Boetie! Boetie!" roep hy weer.
Ek draai my rug op hom en sluit die motordeur oop.
"Boetie, boetie! Wag, ek wil met jou praat." Sy stem is
skor.
"Seker van al die drank," dink ek, klim in die motor en
sluit die deur. |
 |
Hy struikel van die sypaadjie af, kom krom, oud en
verwaarloos na my aangestap. Ek skakel die motor aan, kry
trurat en verlaat hom, eensaam en alleen.
"Kry vir jou werk. Maak soos ek maak, dit bring geld, dan
kan jy suip tot jy omval," gaan deur my gedagtes. Ek kry
eerste rat, wikkel die petrolpedaal en laat hom in ʼn
stofwolk agter. Ek sien in die truspieël hy beduie, hande
omhoog.
"Ja, skoert jou ook," sê ek hardop, "net soos jou soort is -
as jy nie iets kry nie, is ek altyd die skuldige."
By die huis vertel ek vir Vroulief van die voorbarige
bedelaar, van wat ek dink ek gesien het. Vroulief is dadelik
Moeder Hen: "Waar slaap die arme man vanaand? Dit lyk asof
dit gaan reën."
"Moenie oor hom worrie nie, sy soort het altyd 'n plan, hy
wurm hom met 'n sak wyn iewers in 'n kombers toe en verdrink
die dag van môre. Plaas dat hy karre oppas, dit sal daai
drankgeldjies meer kosbaar maak."
"Swerwer, jy is ʼn harde man. Wat daarvan as hy drink? Hy is
ook net ʼn mens, net soos jy," berispe Vroulief.
"Wat, 'n man soos ek? Se voet, vrou! As hy ʼn man was, het hy
'n manier gesoek om 'n geldjie te verdien vir sy lustigheid.
Nou wil hy my geld bedel, dit waarvoor ek gewerk het, met my
sweet, my arbeid ... Se dinges, vrou! Kom ons vergeet nou
die episode, ek is klaar spyt ek het jou vertel."
Vroulief stap kop onderstebo kombuis toe, ek maak my
gemaklik op die stoep,
Rooibos
in die hand. "Kan ook nie jou mond hou nie," mompel ek. My
hond kom lê onder die stoel en ek voer hom ʼn stukkie
biltong. Hy lek my hand dankbaar.
Eensklaps staan vrou in die deur. "Swerwer, ek het vir die
man 'n pakkie kos gepak, ons vat dit nóú vir hom. Een van
die kinders se komberse is ook oor die muur, ons vat dit
ook."
Ek ken die stemtoon, onverbiddelik: "Vrou, is jy mal? Die
man is seker lankal weg. Gaan skep op, ek is honger,"
probeer ek walgooi.
"Swerwerrr, as jy nie wil ry nie, sal ek," druk sy dit uit.
Ek weet teëpraat gaan nie help nie, my mooi van môre se dag
hang hiervan af. Ek staan op, vat die motorsleutels, en
draai half vermakerig na haar: "Nou kom, as jy hom wil kos
gee, doen dit self."
Ons ry in stilte, met slegs die geruis van bande. Vroulief
klou die pakkie op haar skoot vas.
Voor die koöperasie stop ek op dieselfde plek. In die lig
van die voertuig sien ek hom op die sypaadjie sit, sy kop op
sy knieë, hande wat hang tot op die grond.
"Sien jy, wat het ek jou gesê? Klaar dronk." Vrou ignoreer
my, maak die deur oop en skud die omie aan sy skouers.
Stadig lig hy sy kop; trane stroom oor sy wange.
"Nog verdomde dronkverdriet ook", dink ek.
"Omie, ek het ietsie gebring om te eet", praat Vroulief sag
en vat sy hande in hare.
Die omie se lyf begin ruk, hy huil nou openlik, trane stroom
deur die dongas.
"Nooientjie, dis nie ek nie. Die tannie by die huis het in
die bad geval. Sy kan nie opstaan nie. Ons foon werk al twee
weke nie meer nie. Ek het asma, ek kon nie verder nie. Ek
het ʼn kêrel probeer stop, maar hy het weggejaag ... sonder
om te luister. Al wat ek kon doen, was om te bid. God het
vir my 'n engel gestuur.
Asseblief, gaan help die tannie ... asseblief, gaan help
haar."
Ek sit met ʼn knop in my keel, trane wil oor die walle
stroom, die hartseer is diep en skerp. My gemoed is
stukkend, my siel in opstand. Waar en wanneer gaan ons
besef: "Ek
IS
my broer se herder" |
|
|