Sewende-dag Adventiste
Gemeente Filadelfia


Ons Is Hier We are Here


S25 51.594
E28 12.777
 

 


S25 51.594
E28 12.777

DVD - Bediening
Navrae / Enquiries:
076-589-6666
Fax:  086 635 8140
DVD@Filadelfia.co.za

Wees Lief vir God en Maak Soos u Lus Het
’n
Vars kykie na die ou reëls
Deur Morris L Venden
(Vertaal uit die boek Love God and do as You Please)

Inleiding

Miskien beskou u die titel van hierdie boek as skokkend. Ongetwyfeld sal die wat onvolwasse is dit misverstaan. Sommiges sal dit wil misbruik as  toestemming tot losbandigheid en losse sedes. Sommiges gaan hierin rede vind om die skrywer te kritiseer. Maar wanneer hierdie boek gelees word, sal hulle die regte boodskap kry.

Volwasse Christene kan maak nes hulle lus het, want wat hulle ’n behae in skep, behaag ook vir God.. Luister na die goeie nuus in woorde beter as wat ek dit kan stel:

En as ons instem, sal Hy Hom so met ons gedagtes en strewe vereenselwig, ons hart en gees so met Sy wil saamsmelt, dat ons, as ons gehoorsaam, maar net ons eie impulse sal uitvoer. (Koning van die Eeue, bl. 564)

As ons in Christus bly, en die liefde van God in ons woon, sal ons gevoelens, ons gedagtes, ons dade, in ooreenstemming met Sy wil wees, soos uitgedruk in Sy heilige wet  (Skrede na Christus, bl. 63)

Wanneer ons na Christus kyk kry ons ’n helderder en duideliker beeld van God; en deur aanskoue word ons verander. Goedheid, liefde vir ons medemens, word ’n natuurlike instink. (Christ’s Object Lessons, bl. 355)

Wanneer ons onself aan Christus oorgee, die hart verenig met Sy hart, die wil in verenige met Sy wil, word die verstand een met Sy verstand, die denke gevange in Hom; ons lewe Sy lewe. Dis wat dit beteken om geklee te wees in Sy  kleed van geregtigheid. (Christ’s Object Lessons, bl. 312)

Hoef ons meer te sê?

Hoofstuk een
Ware en valse gehoorsaamheid
 
Onthou u die “Mud Puddle Kid”? in hierdie storie, afkomstig uit Ken McFarland se “Gospel Showdown”, is God die moeder en ek en u is die Modderpoel Kinders. 

Halfpad deur sy nagtelike vertelling van die wêreld se probleme verdwyn die minsame nuusleser skielik, net om tydelik vervang te word deur die advertensie waarin die Modderpoel Kind die hoofrol speel.

Daar, voor in die kas, uitgestrek oor verskeie sitkamer meubelstukke, was die Drie Aanskouers.

“Die arme kind se ma het regtig ’n probleem,” sê Nommer Een terwyl hy aanskou hoe een van die kinders daar op die skerm deur groot modderpoele ploeter. “Miskien het sy hom gereed gehad om ’n partytjie by te woon, kyk net hoe lyk hy nou met al daardie modder aan sy klere.”

“Maar daar is Goeie Nuus!” sê Nommer Twee opgewonde. “Kyk daar,” sê hy terwyl hy na die skerm wys, “jy gaan sien hoe sy ma al daardie modder besmeerde klere gaan neem en hulle in Modderweg seeppoeier gaan was. Dit gaan alles regstel!”

“As jy al voorheen hierdie advertensie gesien het sal jy agterkom dat alles nie reggestel is nie,“ verdedig Nommer Een. “Kyk net, jy sal sien.”

Nes voorspel, storm die Kind, geklee in pas gewasde klere, na die naaste modderpoel. Terwyl hy in die modder baljaar sug sy ma en kyk dankbaar na die houer met die Modderweg waspoeier.

“Wat het ek jou gesê,” beaam Nommer Een. “Wat help dit dat sy die Kind skoonmaak en hy pyl reguit terug na die modder? Laat ek  jou sê wat die ware Goeie Nuus is. Dit sal wees indien, Ma nie net die klere skoonkry nie, maar ook die Kind se begeerte om in die modder te gaan speel kan wegneem—miskien selfs maak dat hy die modder haat.”

Nommer Drie, wat diep gedink het, maar tot dusver nie deelgeneem het aan die gesprek nie, deel sy wysheid. “Ek reken julle het altwee ’n punt, maar al het Ma hom skoongekry en sy modderbegeerte weggeneem is die probleem nog nie heeltemal opgelos nie, totdat iemand die modderpoele ook verwyder het. Vir my sou dit die Goeie Nuus wees.”

Wel, dit spyt my, maar die Drie Waarnemers het so ontsteld geraak met mekaar oor wat die Goeie Nuus is, of die Evangelie werklik behels, dat hulle besluit het op ’n uitdungeveg. Hulle is straat toe en het mekaar met modder geslinger.

Toe ek hulle laas gesien het, het die Drie Aanskouers tot nog toe nie besef dat hulle elk net ’n gedeelte van die Goeie Nuus waargeneem het en dat dit al drie die sienings kos om regtig die Kind se probleem op te los.

Soos Walter Cronkite altyd gesê het; “Dit is hoe dit is”1

Ek is bly dat God voorsiening gemaak het om ons deur Sy genade te reinig en ons sonde te vergewe. Dis die eerste gedeelte van die oplossing tot ons probleem.

Wat die tweede gedeelte betref, is ons bly dat God voorsiening gemaak het om ons uit die modderpoele te hou? Of sou ek dit in die modder verkies? Hier kom die beslissende vraag: Wil ons uit die modder bly net om Ma gelukkig te maak? Of bly ons uit die modder omdat ons uit die modder wil bly, omdat ons niks van modder hou nie? Kan ons selfs sê dat ons die modder haat?

Natuurlik sien ons almal uit na die derde deel -  die dag dat daar glad nie meer modderpoele sal wees nie, nie in Irak of Bangladesh of Sjina of die Verenigde State. Wanneer Jesus terugkeer gaan al die modderpoele opdroog.

Kom ons kyk weer na die tweede gedeelte—om uit die modderpoele te bly. Jy kan nie betrokke raak by die reuse onderwerp van geregtigheid deur geloof sonder om die tema van gehoorsaamheid aan te raak nie. In die verlede, was baie mense egter van mening dat geloof, soort van, teen gehoorsaamheid was, dat indien jy geloofsvriendelik is, jy gehoorsaamheidsonvriendelik moet wees. En indien jy gehoorsaamheidsvriendelik is ten alle koste nie geloofsvriendelik kan wees nie.  Sommige ruk onder die banier van geloof op om van gehoorsaamheid te ontkom.. “ Ag, dit maak nie meer saak nie,” sê hulle. “Al wat jy nodig het is geloof.” Vergete is die woorde uit die Skrif wat ons meedeel dat jy nooit geloof en gehoorsaamheid kan skei nie. Hulle gaan altyd, altyd, saam. Gehoorsaamheid is die vrug van geloof. Jy kan nie appels skei van ’n gesonde appelboom nie. Jy kan nie die een hê sonder die ander nie, as jy die een gaan hê, dan sal die ander ook teenwoordig wees.

Volgens Skrif is dit duidelik dat gehoorsaamheid belangrik is. Laat ons leer van die wyse man, Salomo,wat op die ou end nie so wys was nie. Hy moes uit sy eie foute leer. Na ’n hele leeftyd plus die ondervinding van 700 vrouens en 300 bywywe, moes hy uitvind dat “alles tevergeefs” is (Pred 12:8). Toe sê hy “Die hoofsaak van alles is...” Hier praat ’n man, wat oud genoeg is om te sterf voordat hy weet hoe om te lewe, wat sê, Kom nou, kom ons kyk na die feite. Hierdie is die slotsom van die hele saak: “Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense.” (vers 13 klemlegging is voorsien).

Hier kry ons die groot leidraad tot Salomo se probleem. Enigeen wat reken dat dit sy plig [die KJV praat in vers 13 van “duty”]  is om God se gebooie te hou, is op die verkeerde pad. Dalk was hy nie wys genoeg, selfs op so ’n gevorderde leeftyd, om te besef dat daar meer betrokke is by gehoorsaamheid as plig. As plig die enigste rede is waarom ek gehoorsaam, dan is my godsdiens nutteloos.   

Daar is diegene wat voorgee om God te dien, tewyl hulle op hul eie krag vertrou om Sy wet te gehoorsaam, ’n regte karakter te vorm en die saligheid te verwerf. Hulle harte is nie getref deur die liefde van Christus nie, maar hulle trag om die pligte van ons Christelike lewe na te kom as iets wat God van hulle verwag om die hemel te verdien. Sulke godsdiens beteken niks. (Skrede na Christus bl 46,  47)

“Maar,“ sê iemand, “sal sodanige godsdiens my nie uiteindelik na Christus lei nie?” Nee, “so ’n godsdiens beteken niks.” Tog is dit hoe baie van ons grootgeword het. Trouens ons dra dit oor uit ons opvoeding na die kerk toe. Ons word deur die gesinsdeskundiges—en uit die geïnspireerde pen—geleer dat ons ons jong mense, ons seuns en dogters moet oplei in goeie gewoontes en in die regte soort van gehoorsaamheid. Leer hulle om te gehoorsaam. Leer hulle om uit plig te gehoorsaam. Leer hulle om te gehoorsaam omdat Ma en Pa so sê, want dis die regte ding om te doen. En dan kwoteer ons sulke setate soos, ”Die wêreld se grootste behoefte...manne wie se gewete so getrou is soos die kompas aan die pool.” (Opvoeding bl 57)

Soos wat ons die benadering beklemtoon het, het ons ’n subkultuur daar gestel waar mense gehoorsaamheid sien as ’n plig. Ek sal dit onomwonde wil stel dat gehoorsaamheid wat uit plig verrig is, altyd valse gehoorsaamheid is.

Kom ons kyk weer na ware en valse gehoorsaamheid. Hier is ’n merkwaardige en byna revolutionêre kwotasie:

Alle ware opregtheidheid kom uit die hart. Christus se werke het uit sy hart gekom. En as ons instem, sal Hy Hom so met ons gedagtes en strewe vereenselwig, ons hart en gees so met Sy wil saamsmelt, dat ons, as ons Hom gehoorsaam, maar net ons eie impulse sal uitvoer. Die wil, gelouter en geheilig, sal sy hoogste behae in Sy diens vind. As ons God ken soos dit ons voorreg is om Hom te ken, sal ons lewe een van voortdurende gehoorsaamheid wees. Deur ’n begrip van die karakter van Christus, deur gemeenskap met God, sal die sonde vir ons verwerplik word. (Koning van die Eeue, bl 564)

Die skrif haal Jesus, ons voorbeeld, aan, “Ek het lus, o my God, om u welbehae te doen, en u wet is binne-in my ingewande” (Psalm 40:8) en “Hy was lief vir geregtigheid en het  ‘modderpoele’ gehaat.” Net so ontstaan alle opregte,ware gehoorsaamheid – die soort wat Jesus gehad het – op natuurlike wyse van binne, uit die hart, die gedagtes, die doelstellings, die motiewe  deur genade gereinig. Enige gehoorsaamheid wat nie van daardie bron afkomstig is, is vals. Dit kom daarop neer dat baie van ons slagoffers is van, en dus baie ondervinding, van valse gehoorsaamheid het.

Hier is ’n voorbeeld van valse gehoorsaamheid wat mooi gemaak is deur die gebruik van Jesus se naam: “Jy kan uit die modder uitbly, omdat jy Jesus liefhet.” “Aag, nou goed dan, ek het Jesus lief en sal dus uit die modder bly.” (Dis die ekwivalent van uit die modder bly ten einde Ma tevrede te stel.)

Nog ’n voorbeeld, minder subtiel, maar net so verkeerd—as ons nie gehoorsaam, kruisig ons Jesus opnuut.

“Kyk nou na die spykers wat jy deur Jesus se hande en voete slaan.” Hulle sê, “Elke keer wat jy na die modder afpyl, dryf jy nog ’n spyker in. Jy maak vir Jesus seer.”

Mense het al vir my gesê, “Ek kan regtig nie hierdie soort skuldbenadering hanteer nie.” En dan moet ek saamstem.  Ten eerste, kan jy Jesus sien as Een wat gaan toelaat dat Sy gevoelens seergemaak word met elke oortreding? En watter soort skuldgevoel  plaas hierdie benadering op mense, “Jy’t so pas weer ’n spyker ingeslaan”?

Hierdie sienswyse, wat in baie kringe so algemeen voorkom, naamlik om uit die modder uit te bly ten einde Hom te behaag of om Hom te seer te maak  of net nie nog ’n spyker in te slaan nie, kan net lei na mismoedigheid en terugval. Een of ander tyd gaan die mense hierdie siening wil afskryf. Ons moet die mense iets beter aanbied as hierdie gehoorsaamheid uit plig, hierdie vals gehoorsaamheid, hierdie skuldbelaaide gehoorsaamheid. Indien ons dit nie doen nie, gaan ons by diegene aansluit wat reken, “Wat wou, kom ons vergeet van hierdie gehoorsaamheid besigheid en ons bly uitsluitlik by geloof. Geloof is immers al wat saakmaak. Vergeet van gehoorsaamheid. Moenie eers daaroor praat nie.”

Ek is dankbaar dat die Bybel iets beter aanbied.

Dit bring ons by die vraag, Is dit in die eerste plek vir ons moontlik om te gehoorsaam? Een gedagtegang sê: “Pasop! Jou ideal is te vergesog, jy neig na perfektionisme. Moenie eers praat van uit die modder bly nie. Ons kan nie. Ons is maar net swakkelinge, ons sal in die modder bly ploeter totdat Jesus kom. Dis waarom ons so dankbaar is vir die Modderweg seeppoeier (geregtigheid). Kom ons verlaat ons op Modderweg.”

Dit is so dat ons gedeeltes in die Skrif gaan kry wat blyk hierdie siening te ondersteun. Romeine, geskryf deur ’n deskundige op die gebied, sê in hoofstuk 7 vanaf vers 18 tot 23:

Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie. Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, dan doen ek dit nie meer nie, maar die kwaad wat ek nie wil, dit doen ek. Maar as ek doen wat ek nie wil nie, dan doen ek dit nie meer nie, maar die sonde wat in my woon. Ek vind dus hierdie wet: as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens; maar ek sien ’n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is. 

Die wil is in my teenwoordig, maar om dit wat goed is ten uitvoer te bring, kan ek nie.

Let wel, hierdie is die woorde van die man wat in Filipense 3 beweer dat hy sondeloos gestaan het voor Christus. Hy kon gehoorsaam. Maar wanneer dit gekom het by dit wat dieper is, die toestand van die hart en die motiewe, het die apostel Paulus besef hy is maar net drek. Beteken dit dat gehoorsaamheid nie moontlik is nie?

In Christus se tyd het die mense ’n stelsel daar gestel van suiwer uiterlik gehoorsaamheid gebaseer op hul geskiedenis. U sien, Moses en sy opvolgers kon voor die mense staan en sê, “Gehoorsaam en lewe of wees ongehoorsaam en sterwe. Julle gehoorsaamheid sal geseën word, sonie sal julle vervloek word.” Dan het hulle ervarings hierdie vermanings gestaaf. Trouens dwarsdeur die Ou Testament is voldoende bewyse dat gehoorsaamheid seëning meegebring en ongehoorsaamheid het gepaard gegaan met vervloeking. Bring God vervloeking? Dit wil so voorkom. Kyk gerus.

Kom ons kyk na die slegte nuus betreffende ongehoorsaamheid. “Maar as hulle nie luister nie, dan kom hulle om deur die spies, en hulle blaas die asem uit sonder kennis” (Job 36:12). Dis nou volgens een van Job se vriende. Hoe seker is ons oor hom?

Wag so ‘n bietjie! Jeremia sê, “Maar as hulle nie luister nie, dan sal Ek dié nasie uitruk en tot niet maak, so spreek die Here.” (Jer 12:17). Wie gaan die dreigement uitvoer? Gaan God hulle aan die duiwel oorhandig om vervloek te word? Nee, “ Ek [sal] die nasie uitruk en tot niet maak.” Wat van 2 Thessalonisense 1:7 en 8? “. . ..die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele  in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie. ”

Die straf word nie aan Satan oorgelaat nie. God en Satan is nie vennote nie. Die Bybel is duidelik daaromtrent dat seëning volg op gehoorsaamheid en ’n gebrek aan seëninge volg op ongehoorsaamheid.

Het die kerk in Christus se tyd hierdie beginsel verstaan? Kom ons kyk: “en wat ons ookal bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom.” (1 Joh 3:22) Hoe kan u die die boodskap dat seëning wat  met gehoorsaamheid gaan gepaard uit die oog verloor?. Die antwoord op spesiale gebedsversoeke volg op gehoorsaamheid. Ons ontvang hulle want ons hou Sy gebooie en doen Sy werke. Maar dit klink na verlossing deur werke, sal iemand kla. Nee, hier is geen sprake van verlossing nie, ons praat van seëninge. En daar is ’n reuse verskil tussen om te gehoorsaam ten einde verlos te word en om te gehoorsaam om seëninge te ontvang.

’n Blinde man (lees Johannes 9) word gedagvaar om voor die Joodse leiers te verskyn. Hulle wou by hom hoor waar hy vandaan kom en wie hom genees het, want die godsdienstige leiers het rede gesoek om Jesus te vervolg. Die blinde se familie het hom uit vrees verlaat. Dus bevind hierdie man hom alleen voor die leiers en hy leer hulle! Hy sê in vers 31, “En ons weet dat God nie sondaars verhoor nie; maar as iemand godvresend is en sy wil doen, dié verhoor Hy.” Waarop baseer hy hiedie gevolgtrekking? Op die duidelike Ou Testamentiese leer: seëninge volg op gehoorsaamheid en gebrek aan seëninge is die gevolg van ongehoorsaamheid. Hierdie beginsel steek gedurig sy kop uit in die Skrif. Regverdigmaking deur werke? Nee. Hier word nie van verlossing gepraat nie.

Gevolglik, toe die volk die waarskuwings hoor omtrent ongehoorsaamheid en die beroep op gehoorsaamheid, het hulle gereken, “Laat ons gehoorsaam sodat ons kan baat.” Dus kry ons ’n hele nasie wat gedurig probeer gehoorsaam ten einde die seëninge te kry. Dit was die motief. Maar al wat hulle daardeur kon regkry was uiterlike gehoorsaamheid.

Uiterlike gehoorsaamheid het nog nooit vir God gebluf nie. Diegene met ’n sterk wil kan gehoorsaamheid uiterlik goed namaak. Dit is moontlik om kerke te stig op hierdie basis as ons primêre fokus, die basis van die Christelike lewe, ons optrede is. Maar Jesus het gewaarsku dat indien jou geregtigheid nie die skrifgeleerdes Fariseërs s’n oorskry nie, as dit nie ware, innerlike gehoorsaamheid is nie, u die koninkryk van die hemel sal nie betree nie.

Toe ek nog ’n kind was, het my pa en ek Kersfeestyd in ’n sekere winkel geloop toe my oog ’n brandweerwa opmerk. Dit was ’n groot wa met ’n sirene en ’n lig. Dit kon selfs alleen beweeg. Ek wou so graag daardie brandweerwa hê! Ek onthou toe skielik ’n paar Kersliedere: “Jy beter pasop, jy beter nie huil nie, jy beter nie suurgesig trek nie,” en “Net voor Kersfees gaan ek soet wees.” Ek neem my toe voor om ’n goeie seun te wees ten einde die brandweerwa te verdien. Was dit ’n goeie idee? Ek was soet, baie soet, maar ek het nie die brandweerwa gekry nie. Raai wat maak ek toe? Ek wou nie langer soet wees nie, inteendeel, aangesien ek nie die wa gekry het nie, was ek so stout as wat ek kon wees. Het ek die regte ding gedoen of het ek net normaal opgetree?

Dieselfde tipe redenasie was aanwesig in Christus se tyd. Die volk wou seëninge hê, maar sonder die Here. Ek verwag antwoorde op my gebede wanneer teëspoed my tref, maar ek het geen belang in die Here van die gebed nie.

Die vraag ontstaan: Is dit werklik moontlik om meer as uiterlike gehoorsaamheid te lewer? Dit bring ons na Rom 8:3, 4 wat ’n duidelike antwoord bied:

Want God het wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees [Dit is onmoontlik vir my of u of die apostel Paulus om die wet deur ons eie krag te onderhou.  Ons is vleeslik swak],deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel die vlees, sodat die reg van die wet vervul kan word in ons wat nie in die vlees wandel nie, maar na die Gees.

Sommige sal verkies dat dit so moet lees: “Dat die geregtigheid van die wet vir ons vervul word in Jesus se lewe. Hy word dan ons plaasvervanger vir gehoorsaamheid, aangesien ons nie kan gehoorsaam nie. Al wat ek kan vermag is om te val, te misluk en te sondig. Dus word Hy ook in daardie afdeling my plaasvervanger.” Nee, dis nie wat die Skrif sê nie. “sodat die reg van die wet vervul kan word in ons wat nie in die vlees wandel nie, maar na die Gees.” Met ander woorde, ons wat nie in eie krag probeer gehoorsaam nie, maar wel met die hulp van die Heilige Gees, net soos Jesus.  Ons wat probeer om van binne na buite te werk instede van eenvoudige uiterlike plig en dwang met die doel om ’n seën te ontvang.. Dit is die beginsel van ware gehoorsaamheid— die enigste een.

Kan ek u daaraan herinner dat ons al baie tyd en moeite daaraan verspul het om te probeer gehoorsaam wees. En al wat ons daardeur vermag het is valse gehoorsaamheid. So, moet ons daarvan vergeet? Nee, want in die wêreld het valse gehoorsaamheid waarde. As ek lus het om jou te skiet en ek doen dit nie, hou dit vir beide van ons baie voordele in. As ek lus het om iets te steel en deur op my tande te byt en my rug styf te hou, ek dit nie doen nie, hou dit ’n paar wesenlike voordele in.

Moraliteit, wat die wêreldse term vir uiterlike gehoorsaamheid is, is waardevol. Dit tel in die wêreld. Dit hou jou uit die tronk. Dit verhoed dat jy verkeerskaartjies kry. Dit hou jou reputasie onbevlek. Niemand is teen moraliteit nie. Kom ons versamel soveel moraliteit as wat ons kan. Feit is moraliteit was en sal nooit gehoorsaamheid wees nie. Uiterlike plig, uiterlike prestasie, is nie egte gehoorsaamheid nie. Ons het dit baie gedoen. Ek het dit al baie gedoen. Sterk mense kan uiterlik gehoorsaam, swak mense nie. En dis hoekom valse gehoorsaamheid so bedrieglik is. As ons optrede beklemtoon, dan vul ons die kerk met sterk mense en ons laat die swakkes uit.

Toe kom Jesus en Hy toon aan ons ’n totaal ander vorm van gehoorsaamheid—’n tipe wat van buite Homself kom, eerder as een wat stam uit selfgegenereerde krag. Dis wat so mooi was van Sy lewe. Hy’t kom lewe soos ons veronderstel is om te lewe, nie soos God nie, maar soos ’n mens. Hy kon op Homself staatgemaak het vir ander vorme van krag, maar Hy het nie. Al die krag wat deur Sy lewe demonstreer is, in Sy magtige werke, in Sy wonderwerke, was van bo, nie uit Homself nie. Hierdie einste krag is ook tot ons beskikking, maar slegs as ons die lied sing wat niemand bedoel nie.

Leraar Richards het graag gesê, “Kom ons sing die lied wat niemand bedoel nie. ‘Doen net U wil Heer, U wil met my! U pottebakker, ek is U klei.’” Dit is vreesaanjaend. Ons hou nie daarvan om aan die Here oor te gee nie. Dit mag ons lewensstyl aantas. Dit mag ons pret bederf. Dit mag  ons werlklik gehoorsaam maak en dit kan vervelig wees.

Maar dis presies waarna die apostel Paulus verwys. Aangesien die wet ons nie gehoorsaam kan maak nie, want die wet het geen krag nie (deur die vlees is dit swak), het God Sy Seun gestuur om ons te toon dat gehoorsaam van bo kom. Dit is die regte tipe gehoorsaamheid, uit die hart, uit liefde. Dus word ons vertel dat ons daardie soort van lewe wat Jesus geleef kan lei. Regtig? Ja!

Op ’n keer het iemand my gevra, “Kan enigiemand leef sonder om te sondig?” Ek het geantwoord dat ek die vraag wil wysig, want daar is Een wat hier kom leef het sonder om te sondig. Dus vra ek die vraag, Kan Jesus Sy lewe in my leef? Dis die eintlike vraag. Buite Jesus, kan enigiemand leef sonder om te sondig? Nee. Buite Jesus is dit wat ons produseer vals. Maar is dit moontlik dat Jesus Sy lewe in my lewe?

Vir die antwoord hierop, kom ons wend ons tot een van die mooiste aanhalings in die Skrif wat juis hierdie punt aanraak, naamlik Hebreërs 13:20, 21.

Mag die God van vrede, wat die groot Herder van die skape, naamlik ons Here Jesus Christus, deur die bloed van die ewige testament uit die dode teruggebring het, julle volmaak in elke goeie werk, om sy wil te doen, deur in julle te werk wat welbehaaglik is voor Hom deur Jesus Christus aan wie die heerlikheid toekom tot in alle ewigheid! Amen (beklemtoning voorsien).

Die metode, die doel en die uitvoerbaarheid word alles hier gemeld. Om jou perfek te maak. Hoe perfek? In elke goeie werk. Wat beteken dit? Om Sy wil te doen deur Sy werking in jou.

In 1 Thessalonisense 5:23, 24 staan, “En mag Hy, die God van vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van ons Here Jesus Christus! Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen” (beklemtoning voorsien). Hy sal dit doen. En in Filipense 2:13 staan, “want dis God wat in julle werk om te wil sowel as te werk na sy welbehae.” En in Galasiërs staan, “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.”

Die Bybel praat nie van val en misluk en die voortbring van valse gehoorsaamheid totdat Jesus kom nie. Hierdie Bybel praat van meer as oorwinnaars wees deur Hom. Glo u dit? Doen dan weg met die idee dat gehoorsaamheid te moeilik, te swaar is. Weg met die idee dat gehoorsaamheid ’n onmoontlikheid is, wandel onder die vaandel van geloof. Die Bybel leer nie dat ons net val en misluk totdat Hy terugkom nie. Nee, die Bybel praat nie so nie. Dit beloof net seëninge in antwoord op gehoorsaamheid. Dit beloof ’n tekort aan seëninge as gevolg van ongehoorsaamheid.  Dit sê ons kan nie gehoorsaam nie, maar Hy kan, en Hy kan Sy lewe in ons lewe.

Ek is terdeë daarvan bewus hoe stil mense raak wanneer ons praat van gehoorsaamheid. Ek sien dit oor en oor in verskillende dele van die land. Iemand sal opstaan en praat oor geloof en genade en die kruis en Jesus – hoe Hy vir ons sondes gesterf het en ons reinig van ons sonde—en almal sê, “Haleluja, prys die Heer.” Iemand praat oor gehoorsaamheid en oorwinning en krag, en almal bly tjoepstil—ek ook. Want ek onthou hoe ek net gister drooggemaak het. En ek glo ek sal môre weer val en weer misluk. Dis hoekom ek stilbly. So, hoe gemaak? Eenvoudig, as volg: as ons met Jesus in kontak bly, sal Hy die werk wat Hy begin het, volbring tot en met Sy wederkoms.

 

Valse gehoorsaamheid is soos die sp sp sp sp van die diesel enjin van ‘n sleepboot in die hawe. Jy moet naby ’n hawe gebly het om die volgende gelykenis te waardeer. Ek was op ’n tyd naby ’n hawe en ek het gehoor hoe die sleepbote in die oggende aangeskakel word. Hulle val weg met ’n boem boem, sp sp, sp, boem, sp, sp sp, boem, boem, sp sp sp boem, boem. Stadig maar seker kry jy die indruk dat iets aan die gebeur is. Die boem boems kan vergelyk word met ware gehoorsaamheid terwyl die sp sp sp die vals gehoorsaamheid voorstel. Die hele idee is dat die sleepboot daar in die hawe se enjin moet opwarm tot dit aanhoudend egalig boem boem boem boem boem.

 

Ek, u en elke ander persoon wat poog om gehoorsaam te wees, worstel met hierdie probleem baie soos wat die koue enjin van die sleepboot probeer loop. Daar is agt silinders beskikbaar, maar aanvanklik werk net die een.. Bietjie vir bietjie, soos wat ons in Christus groei verstaan ons gaandeweg wat ware gehoorsaamheid beteken.

 

My versoek is dat ons tog net sal ophou om die valse gehoorsaamheid die egte te noem. Kom ons hou  op om vir ons seuns en dogters te sê valse gehoorsaamheid is die ware Jakob. Laat ons hulle daaraan herinner dat daar iets beter is. Laat ons hulle soveel moontlik gewoontes van gehoorsaamheid en om reg te lewe leer, ten einde hulle lank genoeg uit die tronk te hou, sodat  hulle eendag op al agt silinders sal loop. Maar laat ons hulle nie onder die indruk bring dat dit wat vals is, is die egte nie, want een of ander tyd gaan hulle besef hulle is mislei. Duisende mense, jonk en oud is al ontnugter.

 

Iemand het my hierdie gelykenis gegee waarin Hawaii gehoorsaamheid en volmaakgheid voorstel: Die dorp met die naam Remnant, in Kalifornië, is amptelik in 1863 gestig, maar die eerste settelaars het reeds so vroeg as 1844 daar ingetrek. Hierdie inwoners was anders as die res van die wêreld, maar hulle het aan een besonderse leerstelling vasgehou. Hulle hett geglo dat dat almal wat in Remnant woon na Hawaii moet trek. (Let op dat Hawaii gehoorsaamheid verteenwoordig.) Hulle was daarvan oortuig dat hoe gouer hulle in Hawaii kon kom, hoe gouer hulle in die hemel sal kom. Daar was egter een frustreerende struikelblok waarvan julle nie kon wegkom nie.. Hulle het nie in Hawaii gebly nie en Hawaii was darem vreeslik ver, byna so ver as wat die hemel was. Daar was enkeles wat aanspraak daarop gemaak het dat hulle al in Hawaii was, maar niemand wou hulle glo nie. Trouens daar was ’n gesegde in Remnant was sê: As jy sê dat jy in Hawaii was, is dit genoegsame bewys dat jy nooit daar was nie.

 

Die meeste mense in Remnant het geglo dat as jy jou lewe lank hard werk, jy dalk net voor jy doodgaan, ten minste een dag in Hawaii sal bly. ’n Klompie sou dit vermag. Alhoewel die bevolking van Remnant etlike miljoene was, het die meeste aanvaar dat as eenhonderd-vier-en-veertigduisend dit kon maak, al was dit net vir ’n kort rukkie, is dit die beste wat hulle kon verwag.

 

Vir baie jare was daar een aanvaarbare metode om Hawaii te bereik. Jy’t strand toe gegaan, in die water geklim en begin swem. Soos u u kan voorstel was swemlesse baie populêr in Remnant. Daar is van kinders verwag om te kan swem nog voor hulle kon loop. Daar was swemskole en swemseminare en vyf-dag swemklinieke is gereeld gehou. Van elke burger in goeie stand is verwag dat hy moet leer swem. Nuwe inwoners is gemaan dat dit ’n geruime tyd kon neem voordat hulle sterk genoeg kan swem om Hawaii te bereik, maar dat van hulle verwag word om so gou doenlik te begin leer. Almal is aangemoedig om te glo dat as hulle hul deel doen en elke dag hard probeer, hulle uiteindelik Hawaii sou haal.

 

Daar was diegene wat vanweë al die probeer en misluk eerder die dorp verlaat het. Ander het in hulle pogings omgekom. Maar, alles ten spyte, het die mense bly probeer tot op ’n dag toe die onvermydelike gebeur het.

 

Een swemmer moes vir die soveelste keer omdraai en terugkeer vasteland toe. Skielik kry hy ’n gedagte. Na hy genoeg herstel het, stap hy die strand op en af en vra die inwoners af: “Wie sê dat ons in Hawaii moet bly? Besef julle hoe lank ons al probeer. Gee my die naam van een persoon wat dit vermag het?” Kort voor lank het hy ’n redelike aanhang geniet en almal het dieselfde vraag gevra.  Almal het tot dieselfde slotsom gekom.  Dis nie nodig om Hawaii toe te gaan nie.

 

Die nuus het gou versprei. Sommiges het die idee geredelik anvaar. Ander was daar teen. Vir ’n tyd was die nuwe teologie op almal in Remnant se lippe, Die gedagte was dat selfs al sou hulle aanhou probeer om Hawaii te bereik, tot op die tyd dat hulle hemel toe sou gaan, niemand eers naby sou kom nie.  Die goeie nuus was, dat dit nie saak maak nie..

 

Toe ontstaan twee groepe, die een wat volgehou het dat jy Hawaii toe moet gaan en die wat vasbeslote was dat dit nie nodig was. (Tog het beide groepe nog gereeld die strand besoek om te oefen om te swem.)

 

Nog ’n groep het ontstaan, nogal vreemd. Daar was geen strand betrokke by hierdie een nie. Die derde opsie was om kennis te maak met ’n vliegtuigloots en jou in Sy hande te plaas. Vertrou Hom om jou in Hawaii te besorg. Wanneer jy eers aan boord van die vliegtuig is en die Loods is in beheer, kan jy mos rus. Dit word Sy taak om jou in Hawaii te kry.

 

Aanvanklik was dit moeilik om te begryp. Baie vrae het ontstaan. Wat is jóú taak? Moet jy jou arms swaai? Moet jy skop? Moet jy op en af in die gang van die vliegtuig draf? Hoe dan nou, as al die werk en moeite om die tropiese paradys te bereik nutteloos was, hoe kan terugsit en rus jou daar kry? Dit klink wonderlik, voorwaar, maar dit moet ’n mite wees. Hawaii was nog altyd sinoniem met moeite, baie daarvan. Daar moet iewers ’n misverstand wees.

 

Sommige het probeer verduidelik dat daar wel moeite betrokke is met die dat daar eers ’n ontmoeting met die Loots moet plaasvind en die bestyging van die vliegtuig, ja, selfs in die rus. Vergeleke met al die bedrywigheid op die strand, was hierdie maar min moeite.

 

Die bespreking rondom opsie drie het omtrent so geklink: “Ons deel is om ons te verlaat in die hande van die Loots.”

 

Iemand anders begryp nie, “Bedoel jy ons hoef glad nie Hawaii toe te gaan nie?”

 

“O ja, dis noodsaaklik om Hawaii toe te gaan.”

 

“Dan beter ons vinnig terugkeer na die strand, in stede van tyd verspul aan klets.”

 

“Nee, ons sal Hawaii nooit bereik deur daarheen te probeer swem nie.”

 

“Dan is dit mos onmoontlik om Hawaii toe te gaan.”

 

 “Jy bedoel ons hoef nie te gaan nie?”

 

“Ja, ons moet gaan. Dit is moontlik om in Hawaii te woon. Dit is belangrik, eintlik noodsaaklik.”

 

“Dan beter ons begin swem.”

 

“Nee, nee, nee, ons moet lughawe toe gaan.”

 

Hier en daar het mense die boodskap begin kry en soos dit gebeur het, het hulle gereeld na Hawaii begin reis.  Hulle’t nie juis gepraat oor voorgenome vlugte nie, hulle het eerder oor die Loots gesels, oor die vliegtuig en dit wat daarmee gepaard gegaan het. Die goeie nuus is aan moeë swemmers meegedeel en die tyding het versprei.

 

Wat het toe gebeur? Wel, die sterk swemmers wat nogal ver gevorder het in die koue waters van die Stille Oseaan, het beledig gevoel. Iemand het hulle hoor sê, “As hulle gaan toelaat dat mense Hawaii bereik deur op iemand anders te steun om daar te kom, dan wil ek in elkgeval nie soontoe gaan nie.” Hulle het uit die water geklim, die strand en die dorp verlaat en na Las Vegas verhuis.

 

Maar die swak swemmers, hulle wat skaars bo kon bly, hulle het lughawe toe gejaag om die vliegtuig, met die Loots, te bestyg. Kort voor lank het almal een van die rigtings gekies. Die strand het verlate geword, niemand wou meer swem nie.

 

1. Ken McFarland, Gospel Showdown (Boise, Idaho: Pacific Press Publishing Association, 1981

 

Hoofstuk twee

 

Om die wet lief te hê

 

Pacific Union College het sy eie Indianaoplis 500 snelweg. Dit is die agt myl vanaf die kruin van Howellberg tot onder in die vallei. Die studente het ’n onweerstaanbare drang om te kyk hoe vinnig hul Porsche en Corvette motors die berg op en af kan jaag. Dit het  die tweedehandsemotor-persoonlikheid in my na vore gebring. Dit is wat my familie dit genoem het wanneer ek so ’n student agterna gesit het.

 

Eendag ry ek met die bergpad af en gewaar hoe ’n jaende student ’n klein bejaarde dame in ’n sloot in stuur. Ek was boos! Ek het gereken ek het rede gehad om so te voel. Boonop was ek radeloos, want hy was baie vinniger as ek. Maar toe ek die onderkant van die berg bereik, sien ek dat hy langs die pad voor ’n swart motor  met wit aan die kant en ligte op die dak sit. Ek sê vir myself, “Ai! Ek is so lief vir die wet, ek bedink dit heeldag lank.”

 

Wanneer het jy laas gesê, “Ek’s lief vir die wet, ek bedink dit die hele dag lank”? Iewers langs die pad het ons die idee gekry dat die wet geloof nie goedgesind is nie; dat die wet van God Jesus nie goedgesind is nie; dat dit die tema van geregtigheid deur geloof in Christus nie goedgesind is nie. Kan ek jou daaraan herrinner dat Berg Sinai langs die pad na die Beloofde Land lê en dat Berg Sinai na Golgotha lei. Dit is dus belangrik dat ons weer kyk na die wet van God.

 

Wanneer ons die verskillende onderwerpe rondom die leer van geregtigheid deur geloof  in Christus alleen bestudeer, kom ons een of ander tyd te staan voor gehoorsaamheid aan die wet van God. Beskou ons dit as vriendelik of nie? Wat is die doel van die wet? Wat doen dit vir jou of aan jou? Maak dit jou gelukkig waanneer u daaraan dink? Neem dit baie van u gedagtes in beslag, soos Dawid van ouds? En wat bedoel ons wanner ons Paulus aanhaal,  “julle is nie onder die wet, maar onder die genade”? (Rom 6:14)

 

Vir die wat antwoorde hierop soek is daar beide goeie en slegte nuus. In Romeine 9 en 10 meld die apostel Paulus dat die wet ’n metode van verlossing is. “Broeders, die verlange van my hart en die gebed wat ek tot God van Israel doen, is tot julle redding” (Romeine 10:1). Van wie praat dit hierso? Israel? Wie is Israel vandag? Hulle wat glo. “En as julle aan Christus behoort, dan is julle die naggeslag van Abraham.” (Galasiërs 3:29).

 

Broers, die verlange van my hart en die gebed wat ek tot God vir Israel doen, is tot hulle redding. Want ek getuig van hulle dat hulle ’n ywer vir God het, maar sonder kennis. Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie. Want Christus is die einde van die wet tot gregtigheid vir elkeen wat glo. (Romeine 10:1-4)

 

Daar is ’n ander manier om die laaste reël te lees—“Christus is die doel van die wet.” Christus is eintlik die vervulling van die wet. Hy is ook die einde van die wet vir geregtigheid deur werke, maar Hy is nie die einde van die wet as sodanig nie.

 

Wanneer ons die wet van God, spesifiek die Tien Gebooie beskou, sal ons oplet dat hulle definitiewe funksies en doelstellings het. Een van hierdie groot take is om ons te beskerm.

 

Op ’n dag was ek op reis deur die woestyn tussen Kalifornië en Texas, toe my Honda Accord skielik die gees gee. Daar was nou wel baie myle op, maar dit het geen tekens van ouderdom of siekte getoon nie. Wat niemand my meegedeel het (en ek het nie die handleiding gelees) was dat die verkoelingsvloeistof jaarliks hernu moet word. Ek het dit nog nooit vervang nie. Gevolglik het een of ander chemiese reaksie die aluminium dele van die enjin weggevreet. Die silinderpakstuk het geblaas, die enjin het oorverhit en my motor het gaan staan. As ek maar net die handleiding gelees het of het iemand my net gewaarsku. Hier was ek, gestrand in die woestyn, omdat ek onkundig was aangaande die reëls.

 

God se Tien Gebooie wet is die handleiding, die handleiding van die lewe. ’n Eertydse burgemeester van New York, Fiorello La Guardia, het dit eendag raakgevat toe hy sê dat terwyl die wetgewers duisende ekstra wette gemaak het, kon hulle nog nie ’n enkele verbetering aan die Tien Gebooie aanbring nie. Sou u saamstem?

 

Ek hou van hierdie beknopte, vreugdevolle weergawe van die Tien Gebooie:

 

            Bo alles, wees lief vir God alleen,

            Moenie buig vir hout of steen.

            God se naam, moenie misbruik,

            Sy Sabbat, nuttig gebruik.

            Respekteer jou ouers aldag,

            Heilig lewe elke dag.

            Wees getrou aan jou maat,

            Steel van groot of klein sal jou niks baat.

 

            Hou jou woorde suiwer,

            Moenie oor hebsug eers huiwer.

 

Nie sleg nie!  Kan enigeen ’n meer kort en saaklike, pragtige beskrywing van die handleiding van die lewe kry?                      .

 

God se wet het behalwe beskerming nog ander egte funksies.

 

Die wet is ’n standaard vir verlossing, nie ’n metode om verlossing te behaal nie. Dis ’n standaard waarvolgens ons geoordeel gaan word, aldus Jakobus  2:8-13.

 

Ons staan onder die veroordeling van die wet. Ons mag nie hiervan hou nie, dit mag seermaak, tog bly dit ’n egte funksie van die wet (sien Romeine 4:15). Sommige mense raak ongemaklik oor hierdie veroordelende idee en probeer dit wegredeneer.

 

Die wet is so ewig soos God self. Respekteer dit nie en anargie volg. Die ou evangeliste het dit so gestel: “Geen regering is sterker as sy wette nie, en geen wet is sterker as die straf wat volg op die verbreking daarvan, en geen straf is sterker as die uitvoering van daardie straf nie.” Maar vir diegene wat nog nie by Berg Sinai verby is nie, is die wet slawerny en niks anders as ‘n oordeel.

 

Ons is eenmaal onder die vervloeking van die wet, wat ’n pynlike gewaarwording is, maar dit is en bly ’n wettige funksie daarvan. Galasiërs  3:13 sê, “Vervloek is elkeen wat aan ’n hout hang.” Is dit nie ’n goeie tyding dat Christus daardie vervloeking vir ons gedra het nie?

 

Volgens Galasiërs 3:24, 25 is die wet die leermeester wat ons na Christus lei. Die apostel Paulus het dit so gestel: “deur die wet is die kennis van sonde” (Romeine 3:20). Dit lei ons na die voet van die kruis. En in Jakobus 1:23, 25 word die wet vergelyk met ’n spieël wat ons behoefte om gewas en gereinig te word aandui.                                                         

 

Jy kan dus sien dat daar verskeie egte funksies van die wet in die Skrif opgeteken staan. Dit bring of pyn, of gerief en hoop deurdat dit ons na die kruis lei vir reiniging.

 

Daar is een ongeldige nut van die wet waarteen Paulus ons onomwonde waarsku: Om die wet te gebruik as ’n metode van verlossing—wettiesheid, soos ons dit vandag noem. Ek veronderstel ons kan debateer rondom die betekenis van woord wettiesheid.

 

[Die Engelse woord “legalist” het nie ’n Afrikaanse vertaling nie. Vir die doel van hierdie studie gaan ons die woord ‘wettiese’ gebruik. Die vertaler]

 

’n Vriendin van my, wat jare lank evangeliewerk saam met my ouers verrig het, is ’n toegewyde Bybelinstruktriese. Ek verneem sy is nog sterk besig. Sy maak mense vroeg en laat wakker om die Bybel te studeer. Sy raak kwaad wanneer mense teen wettiesheid praat, “Want”, sê sy, “Ek is wetties.”

 

“Wat bedoel jy?” Vra ek.

 

“Want ek glo in die wet van God, dit maak my wetties.”

 

“Dis goed so, as dit jou definisie van wettiesheid is, maak dit my ook wetties, want ek glo ook in die wet van God.”

 

Ek gaan egter in die gewone hedendaagse gebruik ’n ander definisie waag. Ek hoop dit is sinoniem met u opinie. Wettiesheid is ’n poging om die hemel te haal deur self die wet te probeer onderhou. Basies is dit ’n poging om myself te red deur my eie dade. Dus is wettiesheid verlossing deur werke, verlossing deur die wet of verlossing deur middel van goeie gedrag, om te probeer om vanjaar ’n bietjie beter te wees as verlede jaar, solank ek reg is vir die einde.

 

Daar is ’n dieper, maar ernstiger vorm van wettiesheid wat ons ernstig na moet kyk. Dit is om nie ’n geloofsverhouding met Christus te hê nie. Eintlik is daar slegs drie tipes mense in die wêreld. Eerstens, hulle wat geen belang by God of geloof of verlossing het. Ek weet nie eers of hulle ter sprake is nie, want hulle is nog wetties, nog enigiets anders. Hulle stel eenvoudig nie belang nie.

 

Ten tweede is daar hulle wat geïnteresseerd is in verlossing en hulle het ’n daaglikse, persoonlike verhouding met Jesus.

 

Die derde tipe hoop op verlossing. In teorie is hulle gekant teen wettiesheid. Hulle wend geen poging aan om werk te maak van hul strewe na die hemel nie. Hulle het geen verhouding met Christus nie. Aangesien hulle niks doen omtrent hulle geloofs- verhouding, maak dit hulle wetties. Enigeen, ongeag wat hy sê, of van sy teologie, as hy nie tyd neem vir ’n daaglikse verhouding met Christus, is wetties. Daar is net nie ander opsies nie.

 

U is of in Christus, in gemeenskap met Hom, of sonie is u wetties. Daarop mag u dalk antwoord, “Maar ek is nie wetties nie, ek glo nie daaraan om my pad hemel toe oop te werk nie.” Indien u nie ’n lewendige verhouding met Christus het nie, dan is daar geen ander opsies nie. Dit is die een of die ander (tensy jy geen belang by jou verlossing het nie).

 

Ek kan maar sê ek glo nie in werke nie, dat ek glo in geregtigheid deur geloof in Christus. In teorie mag ek so redeneer, maar as ek nie prakties betrokke raak, dan glo ek dit nie. Is dit nie waar nie? Ek hoef mos nie vir my vrou te sê dat ek haar nie lief het nie. Ek hoef net nooit huistoe te kom nie, sy sal die boodskap kry. Ek hoef nie vir God te sê dat ek Hom nie liefhet nie, dat ek nie in geloof glo nie. Ek hoef net nie tyd te hê vir Hom of die dinge van geloof nie, Hy sal die boodskap kry. Dan is ek vasgevang in die ding genoem wettiesheid.

 

Natuurlik is daar twee soorte wettieses. Daar is [aan die een uiterste] die stywe, konserwatiewe, hardgebakte fundamentele wettiese ou, hy dra ’n swart pak klere, met ‘n swart das en swart sokkies. Hy veroordeel elkeen wat nie lewe volgens sy standaard. Hy lyk sommer ongelukkig en toon geen genade of liefde nie.

 

Dan is daar [die ander uiterste,] die liberale wettiese ou. Hy is minder styf, maar steeds sonder tyd vir Christus of die ding van geloof. Hy probeer die hemel bereik deur nie die dinge te doen wat die konserwatiewe ou doen. Met ander woorde die liberale wettiese vind sekuriteit daarin om die standaarde en reëls van die kerk te veronagsaam. Hy is oortuig daarvan dat hy nie wetties is nie, want hy doen dan nie die dinge van die onbuigsames doen  nie. “Ek het my vrygemaak van al daardie dinge. Ek kan gaan waar ek wil, eet wat ek wil, drink waarvoor ek lus het, doen wat ookal goed voel. Ek is nie meer wetties nie.” Tog is hy ’n liberale wettiese.

 

’n Goeie definisie van ’n wettiese is enigiemand wat homself ’n Christen noem en hoop op verlossing, maar wat afgesonder van Christus, hetsy hy ’n liberale of konserwatiewe lewe voer.

 

Paulus het herhaaldelik heftig hierteen gepraat, maar hy gee ons geleentheid om iets veel beter te oorweeg. Hy nooi ons om Christus as die einde van die wet vir geregtigheid aan te neem en in stede daarvan op Jesus te fokus as ons enigste hoop op verlossing.

 

Op ‘n keer tydens ’n kampvergadering het ons ons dogtertjie na die kindertuin afdeling geneem. Gedurende die les het die onderwyseres gesê, “Wat is dit wat die belangrikste in die Bybel is?” Die seuntjies en dogtertjies antwoord, “Jesus, Jesus.” “Nee, nee, dis nie wat ek bedoel,” sê die onderwyseres. “Wat is die heel belangrikste in die Bybel?” Stilte. Naderhand sê sy vir hulle, “Dit is die Tien Gebooie. Dit is die belangrikste in die Bybel.” Waar of vals?

 

My vrou het gaan kla daaroor, want dit is die tipe leer wat ons seuns en dogters op die gehoorsaamheidspad bind waaraan soveel gewoond is: “As jy soet is gaan jy hemel toe; as jy stout is gaan Jesus nie vir jou lief wees nie.”

 

Wanneer gaan ons agterkom dat Jesus die belangrikste fokus in die Bybel is. Die verantwoordelike persoon het probeer verskoning maak vir die onderwyseres deur te beweer dat sy moeg was. Toe hoor ek ’n klok lui. Daar was ’n tyd wat ek ook gereken het dat die Tien Gebooie die belangrikste in die Bybel is. Ek het ook moeg geword. As jy glo dat die Tien Gebooie die heel belangrikste in die Bybel is, gaan jy moeg word.

 

Net hier raak mense senuweeagtig en sê, “Hierdie man is teen die Tien Gebooie gekant.” Geensins, ek is net so min gekant teen die Tien Gebooie as wat E. J. Waggoner teen die Tien Gebooie was. Ooit van hom gehoor? E. J. Waggoner was in die 1890’s die voorslag vir geregtigheid deur geloof in Jesus Christus. Daar is destyds die opmerking gemaak dat ons die wet gepredik het totdat hulle so droog was soos die heuwels van Gilbóa en dat dit tyd geword het om te preek van Christus in die wet. Ons kan nie die wet omseil omdat die pad na die Beloofde Land langs die berg Sinai verby gaan nie. Tog is Waggoner daarvan aangekla, soos al die ander geregtigheid-deur-geloof predikers, dat hulle teenstrydig, teen die wet van God is. Hy’t as volg gereageer: “Instede daarvan dat geloof na teenstrydigheid (of om teen God’s wet te wees) lei, is dit juis nie antinomies nie. Dit maak nie saak hoeveel ’n persoon oor die wet van God spog nie. As iemand geloof in Christus of stilswyend of botweg ignoreer, is so een niks beter af as die persoon wat die wet direk aanval nie.”

 

Nogal ironies. Juis hy wat opkom vir die wet van God  en die Tien Gebooie ophef, dis hy wat teen die Tien Gebooie gekant is. Waarom? Omdat daar in die Tien Gebooie geen krag tot redding is nie. Toe La Guardia gesê het, “Die mens het tienduisende wette gemaak, maar dat hy nog geen verbetering aan die Tien Gebooie aangebring het nie,” was hy in een opsig verkeerd. Daar was een mens wat wel ’n verbetering aan die Tien Gebooie aangebring het. Sy naam was Jesus. Hy’t gekom en die Tien Gebooie kom uitleef.

      

In Jesus was daar ’n hart wat omgee. Daar is geen hart in die Tien Gebooie wanneer dit ons beoordeel. Daar is wel ’n hart in die Tien Gebooie in terme van beskerming. Maar daar is geen hoop vir die arme sondaar wat na berg Sinai kyk totdat Een Sy verskyning kom maak het en die Tien Gebooie geword. Hy het ’n hart gehad wat omgegee het vir sondaars en prostitute en diewe en kleinlike Fariseërs en skrifgeleerdes en die wettiese klomp. Ons kan dus sien dat Jesus ’n daadwerklike verbetering op die Tien Gebooie is.

 

Dit maak nie saak hoeveel ’n persoon oor die wet van God spog nie. As iemand geloof in Christus of stilswyend of botweg ignoreer, is so ene niks beter af as die persoon wat die wet direk aanval nie. Die man van geloof is al een wat waarlik die wet van God eer. Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag (Hebreërs 11:6); daarmee, is alles moontlik (Markus 9:23).

 

Ja, geloof verrig die onmoontlike, dit is presies wat God van ons verwag. Toe Josua aan Israel gesê het, “Ons kan God nie dien nie,” het hy die waarheid gepraat, tog het God van hulle verwag om Hom te dien. Dit is nie binne enige persoon se vermoë om geregtigheid te doen [en om die gebooie te hou] nie, al wil hy (Galasiërs 5:17); daarom is dit verkeerd om te sê dat God van ons verwag om slegs ons beste te doen. Hy wat niks beter as dit doen, sal nie God se werk verrig nie. Nee, hy moet beter doen as wat hy kan. Hy moet dit verrig wat net net die krag van God deur hom kan doen. Dit is vir ’n mens onmoontlik om op water te loop, maar Petrus kon dit deur geloof in Jesus regkry.

 

Aangesien alle krag in die hemel en op aarde in die hande van Christus is, en hierdie krag tot ons beskikking is, selfs Christus Homself wat in geloof in die hart kom woon, is daar geen ruimte vir foutsoekery daarmee dat God van ons verwag om die onmoontlike te verrig; want ons “is tot alles in staat deur Christus wat ons krag gee” (E. J. Waggoner, Christ and His Righteousness, pp. 95,96).

 

Kom ons som dit op. Al persoon wat regtig belangstel en ten gunste van die Tien Gebooie is, is hy wat Jesus die belangrikste in die Bybel ag. Dit is ook die enigste manier om die wet van God te verhef. Daar is geen ander manier nie.

 

Sewendedag Adventiste is lank as wetties beskou, waarskynlik as gevolg van die Sabbat. Mense maak die aanmerking, “Jy dink jy gaan hemel toe deur die Sabbat te onderhou.” Daarom word ons as wetties beskou. Sê my, ken jy iemand wat as wetties beskou is omdat hy daarin glo om nie te steel nie? Weet jy van iemand wat as wetties beskou is omdat hy nie daarin glo om te moor of te lieg of te bedrieg nie? Ek het nog nie. Nogal interesant, is dit nie. Dus, om as wetties beskou te word of om iemand anders daarvan te beskuldig is dit belangrik om die definisie reg te hê.

 

Ons moet nog iets uit die Skrif in gedagte hou. Die Tien Gebooie vorm ’n eenheid. Dit was nog altyd vir my interesant dat God reg in die middel van die Tien Gebooie ’n ietsie geplaas het wat sou dien tot verering van die Skepper, naamlik ’n dag van aanbidding. Die vele pogings wat mense aanwend om die Tien Gebooie uitmekaar te trek kan nie deug nie, dit is alles ’n eenheid.

 

“O,” sal iemand dalk sê, “jy’s wetties want jy poog om die hemel te haal nes die Jode. Die Sabbat was vir die Jode bedoel.” Verkeerd, dit is ingestel tweeduisend vyfhonderd jaar voor die eerste Jood, vader Abraham, geleef het.

 

Indien jy mooi na Hebreërs 4 kyk, sal jy ontdek dat die Sabbat, daar reg in die middel van die Tien Gebooie, eintlik een van die grootste simbole van geregtigheid deur geloof in Christus is. Die Sabbat en die res is sinoniem. Christus offer ons die rus van ons pogings om onself te red. Paulus sê in Romeine 10:4 “Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo.” Die betekenis is ten minste tweeledig. Hy is die einde van my pogings om ontslae te raak van my skuld, om my sondes vergewe te kry. Ek kan dit nog verdien nog aanspraak daarop maak. En Hy is die einde van my pogings om hard te werk ten einde my sonde te oorwin, want Hy het my ook rus op daardie gebied beloof.

 

Oorwinning en gehoorsaamheid en die oorhand kry, is geskenke van Hom. Christus spel die einde van die wet van geregtigheid vir my asook die einde van die wet van geregtigheid in my. Christus is die einde van alles. En Hy is die pragtige voorbeeld van die een wat dit bewys het deur Sy eie lewe.

 

Die apostel Paulus gee ons ’n leidraad hoe om weg te kom van ’n huwelik met die wet na ’n huwelik met Christus. In Romeine 7 meld hy van getroud wees met die wet, waar die wet einlik die eggenoot is. Maar, hy sê daar is iets beter. Kom ons kyk na die volgende gelykenis.

 

Almal respekteer vir Ben Gebod. Onder almal wat hom ken sal jy sukkel om iemand te vind wat nie saamstem dat Ben Gebod ’n agtermekaar kêrel is. Christina was seker dat hul voorgenome huwelik hemels sou wees. Sy het sy besonderse goeie eienskappe erken en geleer om hom, nie so seer lief te hê nie, maar wel hoog te ag. Sy was oortuig daarvan dat liefde met tyd sou ontstaan. Die huweliksdag breek aan en Christina loop met die paadjie op om in die openbaar haarself aan Ben Gebod toe te wy. Sy beloof om aan hom getrou te bly tot die dood hul skei. Christina en Ben Gebod is nou man en vrou.

 

Maar nog voor die wittebrood verby is ontstaan die eerste probleme. Teen die tyd dat hulle in hul nuwe huis intrek, is dit duidelik dat hulle glad nie van dieselfde goed hou nie. Christina het al hoe ongelukkiger geraak met Ben Gebod. Hy was glad nie toegeeflik nie. Sy idees was in beton gegiet. Sy het gou ophou om te probeer met hom argumenteer. Hy’t nou wel nie probeer om sy wil op haar af te dwing nie, maar dis of hy altyd ontevrede met haar optrede was wanneer sy probeer het om haarself te wees. Sy’t moeg geword vir sy alewige veroordeling. Hy het nie net haar gedrag veroordeel nie, maar haar motiewe ook.

 

Christina het haar bes probeer om hom tevrede te stel. Dag na dag het sy opgestaan met die hoop dat vandag die dag sou wees dat sy hom tevrede sou stel . Sy’t egter agtergekom dat nes sy een ding bemeester, sy iets anders nagelaat het. Soms het dit gebeur dat haar beste pogings in ’n algehele gemors geeïndig het. Dit wou voorgekom  of hoe harder sy probeer het, hoe meer foute het sy gemaak.

 

Soms het Christina so moedeloos geword dat sy traak-my-nie-agtig deur die dag geploeter het, en gemaak nes sy lus het. Sy’t moedswilliglik klere op die grond laat lê, vuil skottelgoed laat staan, TV gekyk terwyl sy hope sjokolade en aartappelskyfies verorber het. Maar niks het verander nie. Al wat sy gewin het, was gewig plus ’n groeiende bewuswording dat sy nie naastenby aan haar man se ideale voldoen nie. Sy was terdeë bewus van sy veroordelende, beoordelende en beskuldigende houding jeens haar.

 

Een nag, terwyl sy stil langs hom lê, het sy gevoel sy kan nie nog ’n dag in daardie omstandighede bly nie. Ben, wat met hul huwelik haar respek en eer so waardig  gelyk het, het nou lelik en haatlik voorgekom. Sy sou hom nooit kon tevrede stel nie, dit was nutteloos om eers te probeer. Daar was geen manier wat sy hom slegs vir ‘n dag tevrede sou stel nie, laat staan die leeftyd wat sy haar tot hom verbind het. As sy maar net met iemand anders getroud was, iemand wat haar gedrag goedkeur, wat haar lief sou hê nes sy is. Maar die woorde “tot die dood ons skei” weergalm in haar ore.

 

Skielik kry sy ’n blink gedagte. Ben Gebod slaap so salig hier langs haar. As sy net … maar hoe? Sy’t gou besef sy sou hom nie kon doodmaak nie, daarvoor was sy nie sterk genoeg nie. Maar wag, sy hoef hom mos nie dood te maak nie, sy kan haar eie lewe neem. Die lewe was in elk geval nie die moeite werd onder hierdie omstandighede nie! Teleurgesteld moes sy besef dat sy daarvoor ook nie die krag of die moed het nie. Tog kon sy nie so aangaan nie. As sy maar net kon sterf, weer opstaan en van vooraf begin!  As sy net oor kon begin!

 

Desperaat, met die besef dat sy self niks aan haar situasie kon doen, roep sy uit, “Here, as daar enige wyse is dat ek uit hierdie gemors kan kom, sal U dit moet doen, U sal alles moet doen.” Vir die eerste keer in jare het sy vrede ervaar en rustig verder geslaap.

 

Die volgende môre vroeg word Christina wakker. Ben Gebod was klaablyklik steeds daar. Tog was alles om die een of ander rede anders. Dalk het Ben se tweeling broer langs haar gelê. Die sagtheid van sy oë, die mooi lyne op sy gesig het gespreek van van ’n stryd wat hy gevoer het. Dan was daar littekens aan sy hande wat sy nooit voorheen opgemerk het nie. Instede daarvan dat sy kombuis toe haas, het sy tyd geneem om met Ben Gebod te kommunikeer. Later daardie dag vind sy dat sy besig is om te sing terwyl sy haar huiswerk verrig en die silwerware poets.

 

Soos wat die dae verloop het, het sy tyd geneem om hierdie persoon te leer ken. Sy kon skaars wag vir die volgende geleentheid om spesiale tyd met hom te spandeer, want hy’t van haar gehou nes sy is en het haar aanvaar selfs as sy foute begaan het. Hoe meer liefde en aanvaarding sy gekry het, hoe minder het sy bekommer oor haar dade en gevolglik het sy minder foute begaan. Ben Gebod se vereistes het net nie meer so onredelik soos voorheen voorgekom nie.

 

Toe op ’n dag tref dit haar. Haar hele verhouding het verander. Sy’t nie net genot daarin gevind om hom tevrede te stel nie, maar haar eie belange en neigings het ook verander. Sy’t begin lief raak vir die dinge waarvoor hy lief was. Sy het op ’n stadium gereken sy sal net vrede vind as Ben Gebod dood is, maar nou was dit Christina wat doodgegaan het en opgewek is om  het om die nuutheid van die  lewe.te betree.

 

Hoofstuk drie

 

Voeg Dade by Jou Woorde

 

Martin Luther moes meer aandag aan die apostel Jakobus bestee het. Wat Jakobus eintlik gesê het was, “Moenie net praat van geloof nie, laat jou dade dit bewys.” “Dade tel meer as woorde.” Ek wil graag oor goeie werke in die Christelike lewe skryf, maar dit kan ’n baie netelige onderwerp wees. Behoort ons dit eers op te haal? Wat het geword van individuele- en kerkstandaarde? Moet daar wees?

 

In die populêre weergawe van geregtigheid deur geloof waar die klem op God se liefde, vergifnis en aanvaarding val, is daar ’n neiging om hierdie terme soos slagspreuke rond te gooi. Jare gelede is iets van belang vir ons kerk neergepen: “Die geregtigheid van Christus is nie ’n dekmantel om onbelyde en onversaakte sonde mee te verberg nie; dit is ’n lewensbeginsel wat die karakter vernuwe en die gedrag beheers. Heiligheid is ’n heelhartigheid vir God; dit is volkome oorgawe van die hart en die lewe aan die inwoning van die hemelse beginsels” (Koning van die Eeue, bl 464, 465).

 

Geregtigheid deur geloof, indien eg, maak my nie minder van’n Christen nie. Dit gaan nie maak dat ek minder belangstel in opregte gehoorsaamheid en goeie werke nie, dit sal maak dat ek meer daarin belangstel. Dit sal my nie minder van ’n Adventis maak nie, inteendeel, indien behoorlik verstaan, sal dit my meer van ’n ware Adventis maak. Dus, in vandag se atmosfeer waar geregtigheid deur geloof slegs ’n slagspreuk van geloof en God se liefde en vergifnis en aanvaarding is, moet ons die waarde van goeie werke verstaan. Voordat ons verder delf  in die kwessie van standaarde en sedeleer, moet ons eers die onderwerp van werke in die Christelike lewe adresseer.

 

Deur die eeue van die Christelike kerk se geskiedenis heen het rade die kwessie van geregtigheid deur geloof oor en oor bespreek. Sommige hiervan het kerke middeldeur geskeur. Dit sou makliker gewees het om hierdie onderwerp te ignoreer, te vergeet, maar met die besef wat die Skrifte ons leer aangaande hierdie belangrike onderwerp, is dit kritiek dat ons weet wat God van ons verwag in hierdie verhouding met Hom.

 

Bestaan daar eerstens enige twfel dat die onderwerp van goeie werke in die Skrif saam met geloof gemeld word? In die gewilde teks wat oor en oor aangehaal word ter ondersteuning van geregtigheid deur geloof., Efésiërs 2:8, 9 lees ons, “Want uit die genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie; dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.” Maar soms lees ons nie hoe dieselfde stuk verder meld dat ons geskape is vir goeie werke.

 

In Galasiërs 2:16 staan, “...ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus,”. Daarby voeg die apostel Paulus, “Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof? Nee, stellig nie! (Romeine 3:31). Die Bybel sê in Titus 2:14, Jesus “wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtiheid en vir Homself ’n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke.” 2 Timótheüs 3:16, 17: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk ten volle toegerus.” (Ek kursifiseer). “Want ons is Sy maaksel, geskape in Jesus Christus tot goeie werke” (Efésiërs 2:10). U kan dus sien, dat wanneer u daarna soek, werke in die Skrif kort-kort na vore kom.

 

Ek het my rekenaar nagegaan (dit lees die hele Bybel in drie sekondes) en daar kry ek 120 tekse wat direk handel oor werke. Ek het ontdek dat die Skrif ’n beskrywing van beide goeie en slegte werke gee.. Die Skrifte maak melding van goeie en slegte mense. Miskien kan ons mense en werke in vier katagorië opdeel:

 

Is dit moontlik dat slegte werke deur slegte mense gedoen word? Natuurlik.

 

Is dit moontlik dat slegte werke deur goeie mense gedoen word? Ja.

 

Is dit moontlik dat goeie werke deur slegte mense gedoen word?

 

Is dit moontlik dat goeie werke deur goeie mense gedoen word?

 

Noudat die onderwerp so mooi opgedeel is, in watter groep sal u wil wees? Die slegtes wat slegte dade doen? Waaraan dink u as u hierdie vraag lees? Dink ’n bietjie aan hulle wat Christus gekruisig het. Was hulle goeie of slegte mense?

 

“Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie.” (lees Romeine 3:10). [Die KJV sê niemand is goed nie]. Goed dan, hulle was slegte mense, maar hulle het na goeie mense gelyk, of nie? Dit bring ons by ’n volgende vraag, wat maak dat jy ’n goeie of ’n slegte persoon is? Is dit wat jy doen wat jou goed of sleg maak?

 

Stel u Judas voor wat Jesus kom verraai. Op daardie stadium was hy ’n slegte persoon wat ’n slegte daad verrig het. Maar voor daardie dag het hy vir ’n lang tyd soos ’n goeie persoon voorgekom. Hy’t moontlik ook duiwels uitgedryf, siekes gesond gemaak, melaatses gereinig en dooies opgewek, nes al die ander dissipels. Hy moes dus op daardie stadium met God se goedheid gewerk het. Maar hy’t daarvan afstand gedoen.

 

Wat van slegte werke deur goeie mense gedoen word? Gee die Skrif vir ons enige voorbeeld? Ek dink aan Petrus. Was Petrus ’n goeie mens? Ja, binne konteks was Petrus ’n goeie mens. Kyk na hom in die onmiddelike konteks van die dag voor Jesus dood is. Hulle het die laaste Avondmmal genuttig en Jesus maak die verklaring gevind in Johannes 13:10, “julle is rein”. Hulle was rein deur die woorde wat Hy tot hulle gespreek het. Hy het hulle die goeie tyding gegee van vergifnis en reiniging van sonde. Nie lank daarna kry ons Petrus swaard in die hand gereed om mense se ore af te kap (ten minste een). Was dit ‘n slegte daad verrig deur ’n rein ’n persoon? Wat sê die hoëpriester se slaaf hiervan. Ek reken hy sal toegee dat dit ’n slegte daad was. Dit moes immers seer gewees het. Tog was dit deur ’n goeie persoon verrig. Wat het hy gedoen wat so sleg was - die daad self, of die rede vir sy optrede—om dinge uit sy eie te doen instede om op God te vertrou.

 

Jesus se opdrag aan hom was, “Steek jou swaard in die skede...as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het” (Johannes 18:11, 36). Maar Sy koninkryk is nie van hierdie wêreld nie. Petrus se slegte optrede was nie soseer die daad, alhoewel die hoë priester se slaaf waaskynlik nie sou saamstem nie. Dit was eerder hy wat gepoog het “om dit self te doen”. Dit is wat sonde regtig is.

 

Petrus was ’n goeie persoon. Volgens Jesus se “Julle is alreeds rein” verklaring was die dissipels goed. Hulle was goed as gevolg van Sy geregtigheid. Hulle het egter ’n klomp slegte dinge verrig in die tyd wat hulle met Jesus gewandel het. So wat maak ’n mens sleg?

 

In Philidelphia is ’n man eendag gearresteer omdat hy brood gesteel het om sy gesin mee te voed. Getuienis wat in die hof voorgelê is het daarop gewys dat hy ’n goeie mens was wat sy gesin wou help en daardeur ’n slegte daad verrig het. Die regter het hierdie in gedagte gehou en hom beboet vir die slegte daad. Hy het egter die vonnis onmiddelik opgehef en die hoed in die hofsaal omgestuur sodat almal teenwoordig skulderkenning betaal vir die feit dat iemand in hulle dorp brood hoef te steel om sy gesin mee te voed. Toe neem hy die ingesamelde fondse en gee dit vir die man.

 

Die regter het in die kleine opgetree soos God. Of het hy? Is steel altyd, altyd verkeerd, ongeag die rede? Nogal ’n truukvraag. Ons kan nie praat van reg en verkeerd, goeie en slegte dade tensy ons die kwessie van moraliteit, asook nuwe moraliteit, aanraak nie.

 

Is u bekend met die nuwe moraliteit? Dit neem die omstandighede in ag. Dit sê dit is in orde om slegte dinge te doen, solank dit vir die regte rede is.

 

Of sou u eerder saamstem met die prediking waarmee grootgeword het, toe hulle hard, lank en duidelik gesê het, “Dit is altyd, altyd verkeerd om te steel; dit is altyd, altyd verkeerd om te lieg, kul en te moor”? Is dit so eenvoudig? Ons moet sommige van hierdie onderwerpe van reg en verkeerd en morele oordele van nader beskou.

 

Is dit moontlik vir slegte mense om goeie dade te doen? Onmiddelik dink ons aan Mattheüs 7:21, 22, waar Jesus sê:

 

“Nie elkeen wat vir My sê: Here Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele         nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dae vir my sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?”

 

Dan staan in vers 23, “Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” Bedoel u dat om in Sy Naam te profeteer ongeregtigheid is? Om duiwels uit te dryf, is ongeregtigheid? Om wonderwerke te verrig, is ongeregtigheid? Wat was dit wat hierdie mense se dade sleg gemaak het?

 

Hierdie verse beklemtoon iets baie belangrik. Omdat ons sleg gebore is, is die enigste manier wat ons enige vorm van goedheid kan ondervind deur Jesus. Ons kan hieruit aflei dat dit wat mense sleg maak is om weg van Jesus af te lewe, ongeag wat hulle doen. En dit wat mens goed maak is om in verhouding met Jesus te lewe, ten...ten...ten...dis moeilik om die sin te voltooi, want iemand gaan dit misverstaan...ten spyte van wat hulle doen? Oordeel ons ooit mense of hulle goed of sleg is net op grond van wat hulle doen? Of kyk u na hulle deur ’n verhoudingsbril?

 

Ek het op ’n tyd gesê dat goeie dade wat sonder Christus verrig is, slegte dade is. Mense wou my stenig.Mense het gesê,  “Jy kan nie so sê nie. Goeie werke sonder Christus se hulp kan nie slegte dade wees nie, want die werke opsigself is dan goed.” Gevolglik het ek my standpunt gewysig. Goeie dade sonder Christus verrig is sleg, klaar. Hulle is nie slegte dade nie, hulle is sleg.

 

Waarom is hulle sleg? Mattheüs 7 voer twee redes aan. In die eerste plek het hierdie mense beweer: “het ons nie in u Naam profeteer en in u Naam duiwels uitgedryf en in u Naam baie kragte gedoen nie?” Maar hulle het nooit vir Jesus geken nie. Eintlik was hulle leunaars. Om te beweer ek verrig goeie dade as ek Hom nie ken, maak van my ’n leuenaar. Dit is misleidend. Die enigste persoon wat regtig in Jesus se naam optree is hy wat ’n lewendige verhouding met Hom het. Buiten dit, om aanspraak te maak daarop om ’n Christen te wees, aanspraak te maak dat jy in Sy Naam optree, is voorgee en misleiding. Dit is die eerste rede waarom hulle skuldig is aan ongeregtigheid.

 

Die tweede probleem is dat hierdie mense onder die indruk verkeer het dat hulle hemel toe gaan omdat hulle profeteer, duiwels uitgedryf en wonderwerke verrig het. Weereens  die kuil van geregtigheid deur werke. Hierdie is ’n baie ou probleem van die kerk. Om te dink ek kan myself red, al is dit net 10 persent, is ’n leun en ongeregtigheid. Paulus sê ons word nie deur ons werke verlos nie, as dit so was het ons rede gehad om te spog.  Al ooit moeite gedoen om vas te stel hoeveel ons spog?

 

Selfs in die Christelike kerk omgewing is daar bewyse dat ons weg van God lewe. Een van die eerste bewyse is die voortdurende verheffing van self. Paulus sê dat as ek gaan spog beter ek dit doen in die teenwoordigheid van mense wat glo in geregtigheid deur werke. (Ek parafraseer Romeine 2:17-23). As ek krediet soek of krediet wil uitdeel beter ek dit doen met mense wat glo in verdienstelikheid. Sonie gaan ek nie bedank word vir my moeite nie. Wat God betref het ons geen rede vir spog nie. En hoe nader ek aan Jesus beweeg, hoe nader kom ek aan die voet van die kruis. Om in nederigheid en geloof aan die voet van die kruis te kniel is die hoogste plek wat ek ooit kan bereik.

 

Paulus stel dit baie duidelik dat daar geen ruimte vir spog is nie. “Maar ek het dan duiwels uitgedryf.” “Is u seker?” Weet u, as ek die duiwel was, en ek lees daarin wat Jesus gesê het dat Satan nie Satan kan uitdryf nie, dan het ek gesorg dat ek in daardie een spesialiseer. Ek sou reken dat dit my ’n dekmantel gee waaronder ek kan skuil. Nou kan ek groot dinge regkry. Ek glo nie die duiwel kan duiwels uitdryf nie, maar ek glo hy weet hoe om dit te laat skyn of hy duiwels uitdryf.

 

Ek neem aan u het al gehoor van die verlossingsbediening. Ek bid dat die Here sal aanhou om ons te verlos van die velossingsbediening, want die verlossingsbediening, op die wyse wat dit in die evangeliese kerke ontstaan het en gepoog het om ons kerk binne te dring, het glad nie duiwels uitgedryf nie. Dit het vir ’n tydlank maar net so voorgekom. Die duiwel is doodtevrede as dit net lyk of duiwels uitgedryf word – en erger dinge daardeur verdoesel word. Dus, die uitdryf van duiwels, al was dit eg, gee my geen ruimte om te spog nie, want, soos ons weet, is duiwels veel groter as ek en wie ookal hulle regtig uitdryf is dus groter as ek – niemand anders as die Here Jesus Christus homself.

 

Wat van profeteer? Is dit ’n goeie ding? Ek het onlangs gehoor van die Adventiste kerk in Frankryk wat ’n sogenaamde profeet se kerklidmaatskap gekanselleer het, omdat hy boodskappe verkondig het. Nadat die situasie ondersoek is, die vrugte en die boodskappe nagegaan is, kan opgelet word dat die kerk aldaar ’n gedempte beskouing het van iemand wat voorgee om ’n profeet te wees.

 

Daar was ’n profetes wat, ’n klompie jare gelede, getrek het vanaf Florida na Oregan. Ek het na enkele van haar profesië, sogenaamd in Jesus se naam, wat op band is, geluister. ’n Mens kan naderhand die verklikkertekens sien dat hierdie mense met hulle manifestasies spog.. Wanneer mense begin praat van hul werke, en hul sukses adverteer, kom hulle onmiddelik onder verdenking. Nie waar nie? Is dit verkeerd om goeie werke te doen? Tensy hulle nie regtig goeie werke is, nee. Maar as ek eers erkenning soek daarvoor, dan word hulle sleg.

 

Kom ons begeer om die tipe mense te wees met die mentaliteit om goeie werke te doen, omdat ons God die Persoon ontdek het. En indien u dit nagaan sal u heelwaarskynlik agterkom dat diegene wat Jesus sy of haar persoonlike vriend maak, spontaan goeie werke sal voortbring. Sulke werke word nie beplan, is nie doelbewus nie. Hulle is nie die soort wat, wanneer iemand om hulp aanklop sal sê, “Wag dat ons ’n skare in die tent of die ouditorium byeen kry,” of  “Wag dat die televisiekameras opdaag.” Hulle is die mense wat optree soos Jesus opgetree het. Nadat Hy ’n goeie daad verrig het, selfs om ’n dooie op te wek, het Hy kort daarna verdwyn. Hy het nie vir eer en lof gewag nie. Hy wou hê dat al die heerlikheid en al die krediet  Sy Vader toekom. Sou u nie daarvan hou dat God u lei om, as gevolg van Jesus se goedheid, ’n goeie persoon te wees? En dat u goeie dade natuurlik en spontaan ontstaan as gevolg daarvan?

 

As student het ek jare gelede ’n Bybelkonferensie by die Sligo Kerk in Takoma Park, Maryland, bygewoon waartydens H. M. S. Richards die toewydindsboodskap geneem het. Ek sal nooit die gelese teks vergeet nie. Hy het uit Handelinge oor Barnabas gelees, van wie die volgende gesê is, “want hy was ’n goeie man en vol van die Heilige Gees en geloof; en ’n aansienlike skare is aan die Here toegebring” (Handelinge 11:24).

 

Daarna het die radioprediker so ‘n bietjie uitgewy oor die vers. “Weet julle, wanneer ek weg is, hoop ek dat die mense my nie sal onthou as die radioprediker of aan enigiets groots nie. Ek wil onthou word as ’n goeie man. In my gesin, vertrou ek, sal hulle aan my dink as ’n goeie man.” Nie ‘n slegte begeerte—om onthou te word as ‘n goeie man, ‘n goeie vrou, ‘n goeie persoon, vol van die Heilige Gees. Wanneer dit gebeur gaan “’n aansienlike skare” aan die Here toegebring word.

 

Die Bybel praat van werke van die wet en werke van geloof. Hierdie twee aanwysings is baie duidelik. Soms word verwys na bose dade versus goeie werke, of dooie werke versus lewende werke, maar die algemene benaming bly werke van die wet en werke van geloof. Ek veronderstel in ’n sin, kan ons sê dat die werke van die wet is die wat ons verrig ten einde gered te word. Die apostel Paulus noem hierdie dooie werke. Ek sal hulle graag as volg wil definieer: werke van die wet is enige werke wat gedoen word buite ’n verhouding met Jesus Christus. Hulle is dood. Hulle is van nul en geen waarde wat God betref.

 

Werke van geloof is werke wat gedoen word binne ’n verhouding met Christus. Dit is so dat mense binne ’n goeie verhouding [met Chritus], somtyds goeie werke en somtyds slegte werke doen. Mense wat in daardie verhouding is, doen soms goeie en soms slegte werke. Die hoofsaak is om binne of buite Christus te wees.

 

Die Bybel adresseer ook die doel van goeie werke in die lewe van die Christen en dit benadruk hierdie punt baie sterk: goeie werke is nooit bedoel om ons te red nie. A. T. Jones het in die 1890’s opgestaan en gesê, “Werke baat ons niks nie.” Hy is berispe oor hierdie kras stelling. Om te sê dat werke niks met ons saligheid te doen het, is verkeerd. In ’n poging om die stelling te korrigeer sal ek graag een enkele woord wil byvoeg. Ons werke het niks te doen met die verkryging van ons saligheid nie, maar hulle het tog iets met ons saligheid te make en wel om die volgende rede. Goeie werke is altyd die vrug van ware geloof in Christus. Die doel van goeie werke is om God te vereer. “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” (Mattheüs 5:16). Dit is maar eenmaal so dat geredde mense God wil verheerlik. Indien hulle nie God wil verheerlik nie, dan is die kans goed dat hulle nie gered is nie. Die twee gaan hand aan hand.

 

Dit is natuurlik die punt wat Jakobus maak, Hy maak dit duidelik dat geloof en werke saamgaan soos liefde en die huwelik, en “Liefde en trou gaan saam soos perd en koets”, (Dis’n lied uit die veertiger of dertiger of jare, nie waar nie? Die illustrasie is seker nie meer só toepaslik in terme van liefde en trou nie. Ek sien in elk geval deesdae nie juis meer perde en koetse nie. Ek het probeer dink aan ander illustrasies van dinge wat saamgaan. Miskien donderweer en blitse (alhoewel hoe nader hulle aan mekaar kom, hoe erger, u weet mos).

 

Donderweer en blitse gaan nie altyd saam nie. Met hitte bliksemstrale hoor u nie die donderweer nie. Gevolglik het iemand met ’n beter illustrasie na vore gekom – sonskyn en skaduwee. Dit geld egter nie vir die inwoners van Seattle nie (dis byna altyd koud en nat in Seattle). Wanneer die mense van Seattle gevra word wat hulle in die somer doen, sal hulle antwoord,  “As dit op ’n Sondag kom, sal ons gaan visvang.” Miskien moet ons eenvoudig die illustrasie verander na lig en skaduwee. Hulle gaan altyd saam.

 

Volgens Jakobus gaan werke en geloof saam, hulle is onskeibaar. Ware geloof gaan ware werke produseer. Miskien is dit waarom die Bybel kan sê dat ons deur ons werke geoordeel en beloon gaan word. God het nie bedoel dat Sy profete en goddelike skrywers die indruk moet laat ontstaan dat ons enigsins deur ons werke gered kan word nie. Maar as geloof en werke nog altyd saam was, nooit afsonderlik nie, nooit alleen nie, dan, as u sê dat ons word deur werke gered, bedoel u eintlik u word deur geloof gered. Boonop is God daartoe instaat om ons te oordeel en vergoed volgens ons werke, aangesien Hy bekend is met die motiewe agter ons werke.

 

Ek neem op ’n keer ’n begrafnis, regs langs die vars graf van ’n lid van die Hell’s Angels bende, waar. Die grafsteen het gespog met die die inskripsie: “Vir ewig ’n rebel.” Wat ’n grafskrif! Ek was onmiddellik kwaad, ek wou ontslae raak van daardie graf, die grafsteen, sommer alles. Wie sou tot die wêreld uitroep “vir ewig ’n rebel”? Toe begin ek dink, net God weet wis wat hom motiveer het. Wanner ons eie jongmense uit die kerk rebelleer omdat hulle te veel hoor van geregtigheid deur die werke van die wet, ken net God hulle harte en kan Hy alleen hulle oordeel. Is u nie dankbaar dat wat die oordeel van mense se optrede betref, ons in beter hande as ons eie is nie?

 

Jakobus maak dit duidelik dat as u regtig geloof het, sal u dade dit aantoon. Hy praat nie soos Paulus van dit wat verlossing veroorsaak nie.Dis die punt wat ons dikwels miskyk. Jakobus vertel hoe om te bepaal of iemand opregte geloof het. Hoe weet u? As ’n persoon opregte geloof het, gaan hy belangstel in goeie werke—God se werke, nie sy eie nie.

 

Dis bemoedigend om te weet dat God se werke my werke kan word. Luister na hierdie interesante stukkies insig:

 

Here, U sal vir ons vrede beskik, want U het ook al ons werke vir ons volbring (Jesaja 26:12).

 

Want dit is God wat in julle werk om te wil sowel om te werk na sy welbehae (Filippense 2:13).

 

Mag die God van vrede, wat die groot Herder van die skape, naamlik ons Here Jesus Christus, deur die bloed van die ewige testament uit die dode teruggebring het, julle volmaak in elke goeie werk, om sy wil te doen deur in julle te werk wat welbehaaglik is voor Hom (Hebreërs 13:20, 21).

 

Ek stel belang in goeie werke—Syne! En u? Kom ons bid en studeer dat, soos wat die kerk met hierdie strydvraag sukkkel, ons nie opeindig met slagspreuke oor verlossing wat ons weglei van goeie werke nie. Laat ons inteendeel, na verlossing kyk deur geloof, liefde, vergifnis en aanvaarding, en God se goeie werke wat daarby aansluit.

 

Hoofstuk vier

 

Swart, Wit of Grys

Deel een

 

Ek hou nie van dasse nie, maar daar is tot dusver nie ’n meer gerieflike plek om die lapelmikrofoon te hang nie wanneer ek ’n kerk toespreek nie.. Ek sal soms voor my vrou opstaan, gaan werk en as dan later huistoe kom, sal my vrou na die botstende kleure van das kyk en sê,  “Jy het nie regtig dít gedra nie, het jy?” Ek moet net toegee, ek het. Ek dra maar die das kerktoe, want ek wil niemand aanstoot gee nie. Party mense sal aanstoot neem as ek sonder die das sou opstaan om te preek. Nie waar nie?

 

Wanneer dit kom by ware gehoorsaamheid, hoe besluit ons tussen reg en verkeerd. Hoe vestig ’n mens kerkstandaarde en persoonlike etiek? Ek hoop nie, dat wanneer u die titel “Swart, wit of grys” lees, u veronderstel dat dit oor rassisme gaan nie. Ek het die titel doelbewus gekies, omdat ons almal bekend is met die stryd tussen reg en verkeerd. Die meeste van ons is vertroud met die swart gebied, naamlik om die verkeerde ding te doen vir die verkeede rede (soos om ses miljoen Jode om te bring vir die pret, of net oor ek hulle haat). Ons is net so bekend met die wit area, naamlik om die regte ding te doen vir die regte rede (soos om kerk toe te gaan, omdat ek God liefhet).

 

Die grys gebied maak ons egter deurmekaar. Selfs die bepaling van watter area grys moet wees, is moeilik. Miskien kan ons begin deur te sê dat om die regte ding te doen vir die verkeerde rede en die verkeerde te doen vir die regte rede, is reeds grou. Maar watter metode volg ’n mens om te onderskei tussen reg en verkeerd  in die grys area,?

 

Uit persoonlike studie, persoonlike ondervinding en gevallestudies het ek gevind dat die duiwel dol is oor die grys gebiede. Hy neem nooit ’n mens van wit na swart met een groot sprong nie. Hy neem ’n mens deur die grys. Of hoe? Niemand verander oornag van ’n onskuldige baba na ’n moordende krimeneel nie. Die afdraande pad, wat die duiwel so lief is voor, is altyd geleidelik en meestal deur die grys gebied. Ons mag selfs niks verkeerd sien met die eerste tree nie, behalwe dat dit lei na die tweede tree. Dikwels kom ons niks agter totdat ons terugkyk nie.  

 

Kom ons kyk na die kwessie van persoonlike etiek en standaarde. Miskien baan dit die weg vir die aanspreek van kerketiek en kerkstandaarde.

 

Mense het verskeie metodes om tussen reg en verkeerd te bepaal. Die oudste daarvan is seker, “Aag, bly net in die middel van die pad.” Een van die grootste probleme in die Christelike kerk vandag is juis die groot aantal middel-van-die-pad gematigdes wat nie hul kruise kan neerlê, omdat hulle dit nog nooit opgeneem het nie. In die gemeente wat in Openbaring bekend staan as Laodicéa (louwarm) is die middel van die pad heel waarskynlik nie die aangewese plek om te wees nie. Nie waar nie? In die louwarm kerk (volgens profesie is dit, net voor die wederkoms juis die plek waar die meeste van ons ons gaan bevind) gaan die middelbaan nie die geskikte een wees nie.

 

Sommige mense sal verklaar, “Een manier om te besluit wat reg en wat verkeerd is, is om te doen wat Jesus sou doen.” Vele boeke, soos “The Imitation of Christ” deur Thomas à Kempis is al geskryf oor hierdie onderwerp. Of Charles Sheldon se boek “In His Steps”, wat handel oor ’n hele kerk wat besluit om te doen wat Jesus sou gedoen het. Die probleem hiermee is dat ons bepaling van wat Jesus sou doen, sterk beïnvloed word deur ons onderskeie agtergronde, ons verwysingsraamwerke en ons kultuur. Daar bestaan baie verskillende opinies oor wat Jesus sou doen. Ek weet van konserwatiewe Christene wat reken dis verkeerd om rolbal of potspel te speel. Ek is bekend met ander Christene, wat net so geïntereseerd is in Christus, wat weer gemaklik sal wees hiermee. Dit hang af hoe u grootgemaak is. Dus, om eenvoudig te vra “Wat sou Jesus doen” bied moontlik nie die oplossing nie.

 

Dan kry jy weer mense wat briewe stuur aan die Adventist Review om te vra of dit in orde is om op Sabbat aartappels te bak in ’n oond. As predikant is ek al velemale na die telefoon ontbied want gemeentelede spook met sulke vra. Hierdie tipe vrae is vir my moeilik. Ek antwoord dan, “Op u knieë my vriend, op u knieë en in u eie binnekamer.” Om ’n antwoord van die kerk se hoofkantoor te kry is eie aan  die groot kerke van die wêreld wat nie hulle lede geleer het om te dink nie. Selfs in daardie einste kerke word die mense in die laaste paar jaar aangemoedig om te dink (dank die Here daarvoor).

 

Nog ’n benadering om te besluit tussen reg en verkeerd is om te vra, “Wat doen die ander? Wat doen die meerderheid?” Ek vertrou u besef hoe naïef hierdie benadering is. Ek ry eendag om ’n sirkel in Ohio terwyl die streep in die middel van die twee bane aan my kant geverf te word. Die aanwysings was duidelik “Moenie verbysteek nie!” Maar ek het ongeduldig geword om agter iemand te bly wat te stadig na nêrens oppad was. Toe die die voertuig reg voor my van baan gewissel het (en in die proses sy bande vol wit verf kry), het ek gevolg, en die verkeersbeampte agter ons ook. Hy’t ons albei afgetrek en die vir eerste oortreder ’n kaartjie uitgeskryf. Toe hy by my kom wou hy weet “Hoekom het jy verbygesteek?” was my antwoord: “Omdat hy het.” “ Met ander woorde as hy van die Brooklyn Brug afgejaag het, sou u hom volg?” Net daar, by die Ohio verkeersirkel, het ek besef hoe dom dit is om iets te doen, net omdat ander dit doen.

 

Watter metode volg u dus om te bepaal tussen reg en verkeerd, veral as dit by die grys gebiede kom? Hoe stel u persoonlike standaarde vas veral as dit kom by musiek, ontspanning, boeke, TV, kleredrag en voorkoms?

 

Die tipiese standaarde van die Christelike kerk is oorgedra uit die vorige eeu, gevolglik skiet mense hulle graag af. Om die waarheid te sê so baie van wat ons daaroor hoor is negatief, dat ek gereken het dat ons gerus hulle kan beskou uit ’n positiewe perspektief. Ek wil my uitspreek ten gunste van persoonlike etiek, Christelike standaarde en selfs kerkstandaarde.

 

In die Bybel vind ons ’n teks wat skrams hierdie onderwerp aanraak.

 

Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van God nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van die Vader doen, bly vir ewig. (1 Johannes 2:15-17).

 

“Moenie die wêreld liefhê of die dinge van die wêreld.” Dit is ’n goeie beginsel. Maar indien ek vandag in Pennsylvania of in sekere dele van Iowa of Missouri gebly het, sou ek vind dat dit verkeerd is om ’n moter te besit. Ek sou daar met ’n perd en koets gereis het. Hoekom? Want sommige van daardie gemeenskappe beskou ’n motor as wêrelds. Ek het ’n vriend gehad wat gereken het dat dit is buitensporig om ’n horlosie te dra. “Dit is van die wêreld,” was sy mening..’n Mens se siening van reg en verkeerd word weereens beïnvloed deur ons agtergrond, ons subkultuur, ons denkwyse. Hoe gaan ons “die wêreld” definieer.

 

Ons hoor dikwels mense sê, “God het ons verstande gegee om te dink. Waarom gebruik ons nie die brein wat aan ons gegee is nie?” Wanneer ons hierdie benadering oorweeg, gaan ons terug na die Tuin van Eden waar die slang vir die vrou by die boom gesê het, “Julle sal gewis nie sterwe...julle oë sal oopgaan” (sien Genesis 3:4, 5). Miskien sal ’n toepassing van daardie ou verhaal van pas wees. Dink u werklik dat u God is, dat u kan onderskei tussen reg en verkeerd met u eie denke, u eie logika en rede? Is dit nie ’n pynlike realiteit dat die meeste van ons logika en rede net ons uiterlike gedrag kan behartig nie? Daarin lê die probleem. Die Bybel sê dat mense na die uiterlike kyk, terwyl God waar kyk? Die hart (Lees 1 Samuel16:7).

 

Spreuke vertel ons dit is uiters belangrike is om die sake van die hart te oorweeg. Wanneer die Bybel van die hart praat, verwys dit eintlik na die verstand, die innerlike motiewe en doelstellings. “Bewaar jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe” (Spreuke 4:23) [die KJV praat van “issues of life”]. Jesus het dit vir die Fariseërs, wat probeer het om alles aan die buitekant skoon en vlekkeloos te hou, duidelik gestel dat dit onbeduidend was vergeleke met die innerlike.

 

Miskien is een van die beste metodes om die grys areas te verstaan, hoekom ons doen wat ons doen, om te ondersoek wat binne aangaan. Kan ons? Die Bybel sê, “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” (Jeremia 17:9). Is ons dus in staat om te bepaal hoekom ons dinge doen? Dit is vanselfsprekend dat God nie net kyk na wat ons doen nie;  Hy kyk hoekom ons doen wat ons doen. Dit klink na goeie nuus. Sou dit nie die moeite werd wees om Hom te vra om ons te help verstaan hoekom ons doen wat ons doen nie? Dit mag die bepalende faktor wees wanneer dit kom by die keuse tussen swart en wit, wanneer dit nader aan grys kom?

 

Nog ’n riglyn wat my kan help in terme van my verhouding met die Christelike gemeenskap vind ons in 1 Thessalonisense 5:22 waar Paulus aan die Christelike Kerk sê, “Onthou julle van elke vorm van kwaad.” Dit wil voorkom of daar sekere dinge is wat nie boos is nie, maar boos lyk. Vermy dit, maan hy. Ek praat weereens van beginsels, nie besonderhede nie. Ek is terdeë daarvan bewus dat besonderhede Christene kan polariseer soos min. ’n Goeie beginsel is dus vermy elke vorm van kwaad.

 

Nog ’n beginsel wat duidelik die Christen binne die Christelike samelewing betrek, is invloed. Drie skrifture adresseer die saak loodreg. In Romeine 14:7 maak Pualus dit duidelik dat een van die vernaamste maniere om te besluit tussen reg en verkeerd, veral waar ons nie ‘n hoofstuk of vers in Skriftuur daarvoor vind, is hoe dit iemand anders moontlik kan beïnvloed: “Want niemand van ons leef vir homself nie en niemand sterf vir homself nie.” Dan in vers 10, “Maar jy, hoekom veroordeel jy jou broeder? Of jy ook, hoekom verag jy jou broeder?” En vers 12, “So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee.” Iets om te onthou. Vers 13 voeg by, “Laat ons dan mekaar nie meer oordeel nie, maar besluit dít liewer, om nie die broeder ’n hindernis of struikelblok in die weg te lê nie.” Vers 16, “Laat dan van die goeie wat aan julle behoort, nie kwaad gespreek word nie.” Met ander woorde, iets mag vir my goed wees, maar boos vir iemand anders. Dan, in vers 21 gee hy ons die beginsel: “Dit is goed om geen vlees te eet of wyn te drink of iets te doen waardeur jou broer aanstoot neem of struikel, of waarin hy swak is nie.”

 

Tydens ’n bespreking van hierdie einste vers by ’n kerkbyeenkoms, het iemand gesê, “Dan sal ek liewers nie in die oggend opstaan nie.” Waarop iemand anders geantwoord het, “Om in die bed te bly mag vir iemand anders weer ’n struikelblok wees, jy kan net nie wen nie.” Tog moet God iewers in hierdie geestelike dinkskrum hulp verleen. Maar invloed is volgens Paulus se  skrywe, beslis ’n beginsel.

 

Kom ons beweeg aan na die tweede gedeelte, waar Paulus dieselfde kwessie aanspreek.

 

Maar pas op dat hierdie vryheid van julle nie miskien ’n struikelblok word vir die wat swak is. Want as iemand jou kennis het, aan tafel sien in ’n afgodstempel, sal sy gewete, as hy ’n swak man is, nie aangemoedig word om van die offervleis aan die afgode te eet? En moet die swakke broeder vir wie Christus gesterf het, verlore gaan deur jou kennis? Maar deur so teen die broers te sondig en hulle gewete wat swak is, seer te maak, sondig julle teen Christus. Daarom as voedsel jou broeder laat struikel, sal ek in der ewigheid nooit vleis eet nie,om my broeder nie te laat struikel. (1 Korintiërs 8:9-13).

 

Hierdie hoofstukke is in die dae van Paulus neergepen. Die heidene het die gewoonte gehad om nie net vlees voedsel, maar om alle kos aan hul afgode te wy. Jy kon mark toe gaan en kos koop wat reeds toegewy was en kon jy gouer by aandete uitkom. Daar was sommige Christene wat ook van die geofferde kos gekoop het en ander het ’n bohaai opgeskop oor of dit reg of verkeerd was om dit te eet. Wat Paulus sê is, “Wat daarvan. Voedsel wat geoffer is beteken in elk geval niks, maar as dit iemand sal laat struikel, moet dit dan nie eet nie.”

 

Dan het hy nog iets kwytgeraak wat die indruk laat dat hy dubbelsinnig is. Ons kry dit in 1 Korintiërs 10:23, 24. “Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie.” Natuurlik bedoel hy dit binne die perke van God’s Woord.. Wat God nie belet, is geoorloof, maar nie noodwendig nuttig nie. ”Alles is my geoorloof, maar nie alles stig nie. Laat niemand sy eie voordeel soek nie, maar elkeen die voordeel van ’n ander.” Let op na vers 25, 28. “Eet alles wat in die slaghuis verkoop word sonder om navraag te doen, ter wille van die gewete...Maar as iemand aan julle sê: Dit is afgodsoffer-moet dit dan nie eet nie.” (ek kursiviseer). Dus, as iemand aanstoot sal neem omdat u dit nie eet nie, eet dan. Dit hang af saam met wie u is. Dan voeg hy in vers 32 by, “Wees dan geen oorsaak van struikeling vir Jode of Grieke of vir die gemeente van God nie” (nie eers met jou das nie).

 

Blykbaar is sommige dinge glad nie moreel van aard nie. Dit maak dus nie saak of u dit doen al dan nie. Maar hulle word moreel as iemand aanstoot neem of daardeur kan struikel.

 

In die tyd toe die kerke nie ’n sê gehad het oor wie hulle predikant gaan wees, is ek oorgeplaas na ‘n nuwe gemeente in Colorado en het as totale vreemdeling daar aangekom. Ek het my pak klere by die droogskoonmakers ingehandig sodat dit gereed sou wees vir Sabbat en is na die Woensdagaand biduur. Ek het in die agterste ry my plek ingeneem en na die ouderling geluister wat die diens uitgelei het. Na afloop van die diens het hy nader gekom en gevra, “Wie is jy?”

 

“Ek is jou nuwe predikant.”

 

“Ek dog so,” antwoord hy.

 

Toe ek my pak by die droogskoonmaker gaan haal was daar tot ’n sakdoek in die boonste sak. As ’n reël dra ek nie ’n sakdoek in die boonste sak nie, maar aangesien ek gereken het dis oulik, het ek daardie Sabbat my eerste preek gelewer met die sakdoekie in plek. Na die diens is ek genooi vir middagete—die tyding het reeds die rondte gedoen. ’n Broer in die gemeente het die woord  versprei: “Pas op vir hierdie predikant. Hy gaan die boodskap verlaat. Hy gaan nog afvallig word, want hy dra ’n sakdoek in sy pak klere se boonste sak!”

 

Toe die tyding my bereik het ek besluit  om die volgende week twee sakdoeke in my sak te steek, twee of ’n groot rooie. Nee wag, dog ek. As ek dit doen, is my probleem soortgelyk aan syne. Dis duidelik dat hy ’n probleem daarmee het. Ek is veronderstel om sy predikant te wees, en ek wou hom help. Ek het nie die sakdoek in my sak nodig gehad nie. Dus neem ek die standpunt in dat ek nie weer ’n sakdoek in my bo-sak sou dra, ten minste nie in daardie gemeente nie.

 

Ek het hierdie storie oorvertel, waarna mense my sou roskam daaroor, “Kom nou, moenie mense so sag hanteer nie. As hulle ’n probleem het, dan is dit mos hulle probleem. Moenie so maklik toegee wanneer mense so ’n mentaliteit handhaaf nie.” Dit is nie wat Paulus sê nie. Dit is waar die toets vir Christelike broederskap intree. Paulus maan, wanneer daar swak mense in jou teenwoordigheid is en hulle mag struikel vanweë u optrede, moet dit nie doen nie. As u daarsonder kan klaarkom, moet dit nie doen nie. Is dit nie die Bybelse beginsel nie?

 

Ek sou graag wou terug rapporteer dat hierdie man tot bekering gekom het en een of ander belangrike geestelike leier geword het. Ek kan nie. Ek kan wel sê dat ons goeie vriende geword het, en dat ons talle goeie gesprekke gevoer het. Ek was graag, na die beste van my vermoë, sy herder, en wel sonder die sakdoek.

 

Sou ons met veiligheid die volgende beginsels vir Christene aanbeveel: Indien ek kan klaarkom sonder iets wat vir iemand anders ’n struikelblok kan wees, maak dan so. Is dit redelik? Dit wil vir my voorkom dit is wat die Bybel ons leer.

 

Maar wag ’n bietjie. Is logika en rede of Bybelse redenasies, vir wat om te doen of nie  doen, genoeg om al my probleme op te los? Of  bestaan daar ‘n dieper oplossing vir die grys area probleem? Ek reken daar is. Jesaja 30:21 sê, “jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop!” In Johannes 10:4, 5 sê Jesus na regte, “My skape hoor my stem en volg my.” Johannes 16:13 deel ons mee dat die Heilige Gees  “[sal] julle in die hele waarheid lei” Filippense 2:13 voeg by “want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.” In Galasiërs 2:20 sê, “Ek is met Christus gekruisig, ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my”.

 

Hier het ons iets veel groter as om die kerk te vra of om aan hoofkantoor te skryf vir antwoorde. Dit het eerder te doen met ’n verhouding met God waarna ons ons eie tekens ontvang. Om eenvoudig met logika en rede te bepaal of ’n probleem reg of verkeerd is, is onvoldoende. Ek sal moet uitvind hoe om tekens van bo te ontvang.

 

In teendeel op grond van hierdie Bybelse beginsel, wil ek voorstel dat die enigste persoon wat hoegenaamd bekwaam is  om selfs reg en verkeerd te bespreek, om nie eens te praat van weet, wat reg en verkeerd is, is die persoon wat ’n lewendige, dag vir dag verhouding met Jesus het. Dit is al manier.

 

Gestel dat ons ’n groepbespreking wil hou oor of dit reg of verkeerd is om die nuutste fliek te gaan kyk, sal dit nodig wees dat die groep wat die bespreking wil hou, ten einde ’n geldige bespreking te hê, aan twee kriteria moet voldoen: Een, dat hulle wat aan die bespreking wil deelneem ten minste die fliek gesien het en tweedens, dat hierdie mense genoegsame tyd op hul knieë met God se Woord op ‘n daaglikse basis deurbring.. Dan kan ons mos ’n geldige bespreking hê oor reg en verkeerd. Maak dit sin?

 

Dan het ons die voorbeeld wat vir ons gestel is deur die Een wat ’n lang uitgerekte en duur besoek hier afgelê het, ten einde ons te red.

 

In die vroeë kerk het hulle gedoop deur onderdompeling en voete gewas met nagmaal. Toe sê iemand, “Dit is nie gerieflik nie. Jy word nat en moet droogword. Hoekom dit nie op ’n geriefliker manier doen nie?” Dit is hoe die meer gerieflike manier van dinge doen, ons kant toe gekom het. Ek kry egter niks in die Skrif wat aandui dat gerief die basis van kies moet wees nie. Ons moet te werk gaan op die basis van wat God verwag.

 

Mag ek jou daaraan herinner dat dit nie vir Jesus gerieflik was om vir ons te kom sterf nie. Dit was nie vir Hom gerieflik om bloed te sweet in die Tuin van Getsemane nie. As ons na Jesus kyk, sien ons nie ’n middeweg gematigde wat probeer wegkom met minimum vereistes nie. Op die gebied van onderwys of medisyne ontsien ons nie so ‘n gesindheid nie. Wanneer ek ’n geneesheer gaan sien, soek ek nie iemand wat met die laagste standaarde deurgekom het nie, ek soek iemand wat hoog gemik het, nie waar nie?

 

Daarom wil ek die volgende aanhaal uit Skrede na Christus. Bl 47:

 

Diegene wat die dringende liefde van God voel, vra nie hoe min hulle moet gee om aan die eise van God te voldoen nie; hulle vra nie wat is die laagste peil nie, maar streef daarna om volkome volgens die wil van hulle Verlosser te lewe. Met die grootste bereidwilligheid gee hulle alles oor, en hulle belangstelling is volgens die waarde van die doel wat hulle nastreef. ’n Belydenis van Christus, sonder hierdie groot liefde, is sommer net woorde, nuttelose vormdiens en slawerny.

 

Vir my maak hierdie sin. Indien ek verstaan dat ek gebore is om vir ewig te lewe, maar dat ek slegs sewentig jaar hier gaan deurbring, omdat God iets veel beter beplan, dan wil ek bekend wees met al die beginsels van Sy koninkryk. Dan wil ek ook hê dat Hy my moet lei om hierdie beginsels te volg, instede daarvan dat ek probeer uitwerk met hoe min ek oor die weg kan kom. Stem u saam?

 

Ek pleit dus met u, kry in u geestesoog ’n beeld van die Een wat in die tuin geswoeg het en daar besluit het om ten spyte van die sweet, die stres, voort te gaan om my en u te red. Sal u nie ook, in antwoord op daardie liefde, ’n algehele oorgawe maak nie.

 

Hoofstuk vyf

 

Swart, Wit of Grys

Deel twee

 

Iemand vra eendag vir H.M.S. Richards, “Is dit geoorloof vir vrouens om grimering te dra?” Hy’t geantwoord, “As die gebou verf nodig het, verf dit.” Wat hy presies daarmee bedoel het, weet ek nie, ek wens net ons antwoorde kon almal so eenvoudig wees.

 

Feit is, dat antwoorde selde maklik is, as dit kom by kerkstandaarde en etiek. Wat is reg en wat is verkeerd? Wat doen ons omtrent die grys areas? Die duiwel neem nooit ’n persoon van wit na swart in een sprong nie.  Hy neem hulle bietjie vir bietjie deur die grys areas. En hoe besluit ’n mens tussen reg en verkeerd in die grys areas as dit kom by, waar om te gaan, wat om te eet, watter musiekstandaarde, ontspanning, leesstof, televisie, en kleredrag?

 

Om hierdie vrae te beantwoord.  moet ons poog om beginsels aan te spreek. As predikant kry ek dit gereeld dat mense my wil dwing om besonderhede te verskaf, maar ek probeer dit vermy. Sien, ek het twee tieners in die huis gehad, ’n seun met lang hare en ’n dogter met kort rokkies. Ek het ’n probleem gehad, want ek het probeer om altwee te beïnvloed in hulle optrede. Ek wis egter dat beide nog nie hul harte aan Jesus oorgegee het nie. Ek glo nie daaraan om van godsdienstige aangeleenthede, kerkstandaarde of persoonlike etiek ’n strydpunt te maak as die persoon sy of haar lewe nie aan Jesus gegee het nie. Jy kan nie. Indien jy daarop aandring, mag jy hulle besluit negatief beïnvloed, want hulle sien, dan kom God en Hy bederf hulle leefstyl. Ek het dus besluit dat dat ek hulle sal sê wat ek van hulle verwag. Toe hulle redes soek was my antwoord. “Omdat ek so sê. Dis al.”

 

Baie van die reëls en regulasies in ons skole het niks te make met God, geloof of godsdiens nie. Ons kan ook nie dit so laat blyk as daar baie jongmense is wat nog nie ’n oorgawe aan Jesus gemaak is nie. Wanneer dit wel gebeur het, en hulle ’n verhouding met God het, dan maak dit sin.  Tot dan, nee!

 

Ons weet dat in elke gemeente is daar mense teenwoordig wat luister, maar nog nie hul harte aan Christus gegee het nie. Ten einde hulle nie af te skrik, gee ons minimum detail. Daarom praat ons eerder van beginsels.

 

Toe ek ’n bietjie nadink oor die belangrikheid van beginsels, het ek aan die ruimtevaarders gedink wat voorberei voordat hulle die ruimtereis kan onderneem. Was ek ’n ruimtevaarder sou ek kyk hoeveel ek uit die opleiding kan kry, nie hoe min aandag ek aan die reëls en standaarde kan gee nie. Ek sou mik vir onderskeiding, sou u nie?

 

Die onderliggende boodskap uit hierdie illustrasie, is dat ons standaarde, ons reëls, ons voorskrifte en ons etiek het iets te make met van die aarde af hemel toe gaan.. Laat ek dus verder opsom en verduidelik. Wanneer ons praat van reg en verkeerd, verwys ons nie na dit wat ons in die hemel kry nie, ons kom in elk geval in die hemel slegs op grond van wat Jesus vir ons gedoen het. Deur laasgenoemde te aanvaar en daagliks in ’n verhouding met Hom te bly, totdat Hy kom, is ons metode van verlossing. Aan die ander kant, het my besluite oor reg en verkeerd en my lewenstyl in terme van die grys areas, tog iets te make met my verhouding met Jesus.

 

Ek het daardie ontdekking gemaak een nag toe ek die baie laat fliek gekyk het. Dit het gegaan oor ’n misterieuse moord, ek het dit goedgeag, omdat daar ’n sendeling in die storie betrokke was. Die volgende môre was my Koning van die Eeue bra vervelig. Dit het my stiltetyd affekteer. Wat ookal ek my mee betrokke raak, waar ek gaan, wat ek doen, as dit my persoonlike wandel met Jesus benadeel, dan het dit mos iets te make met my reis van die aarde na die hemel. Nie waar nie?

 

Selfs die nuwe teologie teoloë, wat reken regverdigmaking is die ganse evangelie en niks meer, sal heimlik beaam dat, “God kan niemand regverdig maak tensy Hy hulle ook heilig maak nie.” Wanneer ons dus praat oor kerkstandaarde of persoonlike standaarde, wanneer ons praat van vasstel wat reg of verkeerd is, dan spreek ons iets aan wat ’n uitwerking op ons verlossing het as dit ons  verhouding met Jesus affekteer.

 

Tot dusver het ons vier beginsels geïdentifiseer waarmee ons kan bepaal wat reg en wat verkeerd is:

 

Nommer een: Wat is my motief? Kan ek God vra om my te help verstaan? Wat wil ek regtig uit die situasie kry? (Ons het gewoonlik twee redes waarom ons iets wil doen. ‘n “Goeie” en ’n regte rede!)

 

Nommer twee: Vermy elke voorkoms van kwaad. Hierdie sou nie veel gepla het as ons gestrand was op ’n verlate eiland nie. Maar nou is ons nie, hier is mense en die skyn van kwaad kan God oneer aandoen.

 

Nommer drie: Die beginsel van invloed. Ons het nog nie genoeg krediet gegee aan die klein dame wat baie boeke geskryf het oor die mag van invloed nie. Ons mag dink hierdie skryfster is die styfste, mees konserwatiewe lang gesig persoon wat ooit in die omtrek was. Tog het Ellen White die spyker op die kop geslaan wanneer dit hierby gekom het. Wanneer dit by standaarde kom, het ons allerhande verskonings oor hoekom ons moet of nie moet nie. Vir haar was die invloed wat dit op iemand anders mag hê van primêre belang.  Moenie enigiets doen wat iemnd sal laat struikel of aanstoot sal gee nie veral as u dit nie regtig nodig het nie of daarsonder kan klaarkom.  

 

Ek het die woord struikelblok [offended, offend] in my rekenaar ingepons en ontdek ’n teks deur die psalmis, wat ons een of ander tyd moes gehoor het: “Die wat u wet liefhet, het groot vrede, en vir hulle is daar geen struikelblokke nie” (Psalm 119:165). Hierdie ou teks het ’n nuwe betekenis gekry. As my optrede vir iemand in die kerk ’n struikelblok is, bewys dit dat hulle nie God se wet liefhet nie. Trouens hulle haat dit.

 

As ek dus iets doen wat ander mag dink verkeerd is omdat hulle konserwatief of, onbuigsame handhawers van God se wet is, en hulle neem aanstoot, bewys dit net dat hul nie die wet liefhet nie. Want “die wat U wet liefhet, het groot vrede, en vir hulle is daar geen struikelblokke nie.” Die waarheid is hulle haat die wet en is skynbaar bang dat ek mag wegkom met iets wat hulle nie kan doen.

 

Een moontlike reaksie op sodanige optrede kan wees, “Kook in jou eie sous.” Paulus se aanbeveling is anders, “ Moenie hulle tenakom wat die wet haat en wat hul lewe lank volgens die wettiese stelsel hare gekloof het nie.” Paulus sê, moenie aanstoot gee nie. “Maar hulle moet hul eie probleme hanteer.” “Nee, maak dit sommer joune ook,” sê hy. Moenie aanstoot gee nie. Dit is ’n Bybelse beginsel, want ons probeer mense help weg- beweeg van hulle  probleme, na iets beter.

 

Nommer vier: Waarheen lei dit ons? Wat hou nog daarmee verband? Die meeste van ons is bekend met hierdie tipe storie. Ons kan baie verhale aanhaal van mense wat die afdraande pad, weg van God geneem het. Die meeste van ons het dit al ervaar.

 

Jesus het ’n pragtige gebed gebid vir diegene wat lewens lei wat omring is met afwaartse paaie. Net voor sy inhegtenisname, terwyl Hy nog ’n wyle met Sy dissipels vertoef het, het Hy vir Sy Vader gesê, “ Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem, maar dat U hulle van die Bose bewaar.” (Johannes 17:15). Ons bereik nie hierdie Godgegewe standaarde deur kluisenaars te wees of deur alleen op ’n eiland te bly nie. Ons kom nie daar deur op vlagpale te sit of om op ’n bed van spykers te lê nie. “Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem, maar dat U hulle van die Bose bewaar.”

 

Die primêre bron van kennis rakende wat reg en wat verkeerd is, is nabyheid aan Jesus. Met dit in gedagte, wil ek verwys na die bekende herder en skaap gelykenis waar Jesus die herder is en ons Sy skape is. Jesus is tegelyketyd ook die deur na die skaapkraal.

 

Voorwaar, voorwaar ek sê vir julle, wie nie by die deur in die skaapstal ingaan nie, maar van ’n ander kant af inklim, hy is ’n dief en ’n rower. Maar hy wat by die deur ingaan is ’n herder van die skape. Vir hom maak die deurwagter oop, en die skape luister na sy stem; en hy roep sy eie skape by naam en lei hulle uit. En wanneer hy sy skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken. Hulle sal ’n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie (Johannes 10:1-5).

 

Die skape volg Hom, omdat hulle Sy stem ken.  

 

’n Switser vertel my van die tyd toe hy as seuntjie saam met die bure se seun skape opgepas het op die berg. Hulle het mekaar se geselskap gehad terwyl hulle saam na hulle  skape omgesien het. Een dag bars ’n geweldige storm los en moes hulle laat spaander na veiligheid. Met die blitse, donderstorm, wind en reën het die twee troppe skape vermeng geraak.

 

Nadat die storm bedaar het, moes die twee seuns die onderskeie troppe uitsonder en nogal gespook om dit reg te kry. Naderhand was hulle gefrustreerd en het opgegee. “Ons kom nie reg nie, ons sal huistoe moet gaan om hulp te kry. Dus gaan die twee hul onderskeie rigtings huiswaarts. Tot hul verbasing  het die skape vanself hul eie herders gevolg. Hulle het hul herders se stemme geken en gevolg.

 

In die merkwaardige boek Koning van die Eeue, kry ons die volgende setaat: “As ons God ken soos dit ons voorreg is om Hom te ken, sal ons lewe een van voortdurende gehoorsaamheid wees” (bladsy 564). Die klem val duidelik daarop dat ons God ken. Die volgende paragraaf spreek ons tema direk aan.”Wie besluit om niks hoegenaamd te doen wat God sal mishaag, sal weet, nadat hulle hul saak aan Hom gestel het, watter rigting hulle moet inslaan. En hulle sal nie net wysheid ontvang, maar krag.”

 

Daar is dus ’n volgorde:

  1. Die mense ken God een tot een. (Alweer terug na die verhoudingteologie.)
  2. Hierdie mense het ’n probleem, naamlik die onderskeiding tussen reg en verkeerd.
  3. Hulle het onderneem om God nie teleur te stel nie.
  4. Hulle word belowe dat hulle “sal weet watter weg om te volg nadat hulle Hom geraadpleeg het.”
  5. Hulle ontvang nie net die wysheid van bo om te weet wat reg en verkeerd is in hierdie grys areas nie, maar kry ook die krag om wat reg is te doen .

 

Is dit nie goeie nuus nie? Baie mense het besluit wat is reg, maar kon dit nie deurvoer nie omdat die krag ontbreek het. Indien iemand reken dat hy groot genoeg is om, in die eerstens op te tree in terme van die wete wat reg en verkeerd is, en dan in die tweede instansie die regte ding te doen, misgis hy hom met wie God werklik is. Ons is nie groot genoeg om God te wees nie.

 

Die wêreld het twee soorte mense. Hulle wat God ken en hulle wat God nie ken nie. Ons vind beide soorte in elke kerk, myne ingesluit. Buite die kerk kry ons ook beide soorte. Baie mense is vandag afgesit deur georganiseerde godsdiens en wil niks daarmee te doen hê nie, maar stel steeds in God belang en wend ’n poging aan om God te ken deur Sy Woord en gebed. Opnames het getoon dat van die twee tipes slegs ’n minderheid in die Christelike kerk God werklik ken. Die meerderheid hou vas aan geregtigheid deur oorerwing, geregtigheid deur kerklidmaatskap, geregtigheid deur etiek of geregtigheid deur herdenking.

 

Ek gaan nog ’n afleiding waag. Ek glo dat wanneer dit kom by reg en verkeerd, die mense wat God ken, baie dieselfde is, ongeag waar hulle hul in die wêreld bevind. Dit is dieselfde Heilige Gees wat in hulle lewens betrokke is in en hul verhouding met God. Hy lei hulle in terme van reg en verkeerd en voorsien die krag om reg te doen.

 

Aan die ander kant is hulle wat God nie ken soos verkleurmannetjies. Hulle word die kleur van die omgewing waar hulle hul bevind. (Ek neem aan u het al gehoor van die verkleurmannetjie wat hom op ’n Skotse rok bevind het en toe stapelgek word!) Dit kan u teen die mure uitdryf as u tussen reg en verkeerd moet kies slegs op grond van die geselskap waarin u u bevind.. Maar dit is hoe dit is vir diegene wat God nie ken nie. Vir diesulkes is godsdiens en kerk niks meer as ’n klub nie, en hulle pas aan by die norm van die klub, wat ookal die norm mag wees.

 

Ek is op ’n keer beroep van die Noordweste na die suide van Kalifornië. Dit het ons ietwat bekommer, want ons het al baie gehoor van die “Suid-Kalifornië Adventiste.” Gedurende die tyd wat ek die herder van die White Gedenkkerk was, was dit interessant om te let na die studente wat na die Loma Linda Universiteit gekom het vanaf die Ooste, die konserwatiewe Ooste. Hulle het konserwatief arriveer, maar feitlik oornag verander. Hulle het aangepas by hul nuwe omgewing. Dit was so opvallend dat ’n mens dit nie kon miskyk nie. Dit het getoon dat hul standaarde, hulle etiek, hulle leefstyl, is slegs bepaal deur die milieu waarin hulle hul bevind.

 

Is daar nie iets dieper wat ons aanspoor nie? Daar behoort te wees. Ek wil nie hê dat my besluite rakend reg en verkeerd beïnvloed of bepaal word deur die mense om my nie.

 

Jare gelede, tydens my eerste jaar in die bediening, het ek in die klein dorpie Bakersfield, Kalifornië, gewerk. Ek was veronderstel om verantwoordelikheid te neem vir Taft, ’n dorp anderkant die olievelde. Hier het ’n handvol kerkmensies ywerig hul geloof met ander gedeel. Dus het ons met Bybelstudies begin en die mense het gekom. Ek reken ek het in daardie eerste jaar meer Bybelstudies gegee as enige jaar daarna.

 

Ek was geboei deur mense wat belang getoon het in die evangelie. Een jong paartjie kon net nie genoeg kry in een van die studies nie. Hulle sou versoek,
”Kom studeer op ’n volgende geleentheid saam met ons. Kom na kerk en eet by ons, dan studeer ons verder.” Ons het die Bybel bestudeer met elke geleentheid beskikbaar. Hulle aptyt was onversadigbaar.

 

Maar uiterlik het die vrou soos die skarlaken dier en die vrou van Openbaring 17 gelyk. Selfs in wêreldse terme het hierdie vrou dit oordoen, met ’n halfdosyn halsnoere, oorbelle tot op haar skouers en arms vol armbande. Ek meen dit was erg, volledig met donkerpers grimering. Ons het nooit ’n woord oor grimering of juwele gerep nie. Ons het slegs die Bybel bestudeer.

 

Ek het opgelet dat die “verf aan die skuur” begin verander. Dit het my senuweeagtig gemaak, regtig senuweeagtig. Ek het geglo dat een of ander wettiese kerk lidmaat hulle onder hande moes geneem het. Maar dit het gelydelik gebeur. Die pers het verander na rooi en later pienk. Die halsnoere het verminder van ses na vyf, na vier, na een en toe niks. Die oorbelle het al hoe korter geword. Iewers moes sy ’n geweldige voorraad juwele gehad het. Maar dit het al minder geword.

 

Ek het senuweeagtig hieroor gebly , veral toe ek eendag opdaag en vind dat hulle besig was om stukke hout te kou. Ek’t gereken hulle makeer! “Wat doen julle?” Wou ek weet.

 

“Ons probeer ophou rook.”

 

“Hoekom? Hoekom wil julle ophou? Het iemand met julle hieroor gepraat?”

 

“Nee.”

 

“Waarom dan al hierdie wysigings aan julle leefstyl?”

 

“Ons weet nie.”

 

Daar was eenvoudig ’n beginsel aan die werk. Jesus het ingetree en die verandering was spontaan. Ek kan julle nie sê hoeveel maal ek dit al teëgekom het nie, wanneer mense met die Bybel betrokke raak, begin hulle dink oor die dinge van die hemel. Wanneer Jesus toetree vind ons die enigste regte antwoord op reg en verkeed.

 

Verskillende individue gaan verskillend optree in verskillende stadiums van hulle lewens. Ons moet voorsiening maak daarvoor en nie in mekaar se kaste en yskaste loer nie. Tog gebeur dit en dit is eg, want hulle wat God ken, gaan lewens van voortdurende gehoorsaamheid lei. Hulle sal weet, soos wat hulle tyd met God deurbring, watter pad om te volg. Dan ontvang hulle ook nog krag en wysheid.

 

Watter gevolgtrekking kan ons hieruit maak? Opregte skape ken die Herder se stem. Hy het Sy sonderlinge manier om Sy wil aan hulle te openbaar en wel op Sy eie tyd en onder alle omstandighede. Ek kan dit nie verduidelik nie. U kan dit nie verduidelik nie, maar ons kan dit ervaar. En hoe nader ons aan Jesus kom, hoe meer seker is ons oor die bepaling tussen reg en verkeerd, onder die omstandighede wat ons ons mag bevind op daardie betrokke stadium.

 

Daar is ’n besonderse teks van die apostel Paulus, Hebreërs 12:1, 2: “terwyl ons so ’n groot wolk van getuienis rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring”. Let op die woord “las”. Die las is nie noodwendig sonde nie, maar dit bly ’n las [ die Engles praat van ‘weight’]. Dit is iets wat ons terughou van ’n verhouding met Christus. “laat ons elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus” (ek kursiviseer). Wanneer ons na Jesus kyk, word die laste en die sonde geaffekteer. Hulle bly agter.

 

Ek het vir u ’n vraag. Dit is gebaseer op persoonlike ondervinding met mense wat krisisse in die gesig gestaar het—tragedie, verdriet, terminale siekte of die heengaan van ’n geliefde. Het u al ooit opgelet dat daar sekere dinge, grys area reg en verkeerd dinge, wat in sulke tye net nie belangrik is nie? Het jy dit al beleef? Dit is nou maar eenmaal so dat in sulke krisistye kan ons duideliker bepaal tussen wat belangrik en onbelangrik is.

 

Ek wil u nog ’n vraag stel. Gestel u het verseker geweet dat Jesus oor ses maande terugkom, sou dit enigsins ’n verskil maak aan wat u doen, waar u gaan, of u lewenstyl, vernaam die grys gebiede? Sou dit? Eerlikwaar? Ek dink so. Dalk is dit nie ’n slegte vraag om onsself af te vra.

 

Gaan daar enigsins “verby skuur” speletjies gespeel word by die pêrelpoorte van die Godstad? Gaan ons inhaas met die minimum vereistes en probeer deur die poorte kom na die hemelse land?

 

In die ou dae in die Weste was daar ’n koetsmaatskappy met ’n vakature vir ’n drywer. Die maatskappy het mense genooi om aansoek te doen om die betekking. Drie mans het gereageer. Toe daar met die eerste een ‘n onderhoud gevoer is, is hy gevra, “Is u bekend met die bergpad waar daar ’n afgrond  aan die een kant is en ’n rotswand aan die ander kant is? Hoe naby aan die afgrond kan u ry en veilig deurgaan?

 

Hy’t geantwoord, “Ek het baie ondervinding, ek kan met veiligheid ’n voet van die afgrond verbygaan.”

 

Hulle het met die tweede koetsdrywer ’n onderhou gevoer.  Weer het hulle gevra, “Ken u die plek. . .?  Hoe naby kan u aan die afgrond kom en steeds veilig deurgaan?”

 

 Hy’t geantwoord, “Ek het baie ondervinding. Ek kan stuur. Ek ken my perde. Ek kan binne ses duim van die afgrond met veiligheid verbygaan.”

 

Die derde man is ingeroep en hy’t gesê, “Ek weet nie hoe na aan die afgrond ek kan kom nie. Maar ek kan julle een ding vertel, ek gaan so ver van die afgrond af bly as wat ek kan.” Hy is in diens geneem.

 

Ek vertel eenkeer hierdie verhaal by die kerk, ’n lidmaat kom agterna en sê my, “ek ry al jare lank so ver van die randjie af dat ek tred verloor het van hoeveel keer ek teen die rontswand geskuur het.” Ek skat dit gebeur ook, maar die beginsel bly dieselfde. Sal u graag in die hemel wil woon met mense wat gekyk het met hoeveel hulle kan wegkom voordat hulle ingaan?   

 

Miskien kan ons Jesus weerspiëel in die dal van Dura weer sien.  Uit die oogpunt van daardie drie Hebreeuse manne, Sadrag, Mesag en “To-bed-we-go.” (dit is hoe my seun na hom verwys het, want na die storie, was dit slaaptyd). Ek kan nog onthou hoe ek as kind na my oom geluister het wat gepreek het van hierdie drie Hebreeuse helde. Daardie dag het hulle die partytjie bederf. Nebukadnésar wou baie seker maak dat daar geen Medo-Persië, Griekeland of  Rome sou wees nie. Dus het hy hierdie reuse standbeeld laat oprig.  Op die maat van die musiek moes almal voor die beeld buig.

 

Skielik kom ’n boodskapper na Nebukadnésar aangehardloop met die berig, “Daar is drie manne wat weier om te buig.” Hy laat roep hulle. Hy herken dadelik dat dit sy drie vriende is vir wie hy baie respek het.

 

Miskien het sy pleidooi soos volg verloop: “Kom nou manne, ek weet van julle. Ek weet van julle God en ek het begrip vir dit waarin julle glo. Ek bewonder julle. Wat ons vandag hier probeer doen is ter wille van  die volk en die koninkryk se onthalwe. Gaan voort en bid tot jul eie God. Gebruik net een knie en kyk in ’n ander rigting, julle hoef nie na die beeld te kyk nie. Bid tot jul God, maar moet net nie ons partytjie omvergooi nie.”

 

Julle onthou hul antwoord. “Ons ag dit nie nodig om u hierop ’n antwoord te gee...[ons sal] nie aanbid nie.” (Sien Daniel 3: 16-18). Hulle was geen middeweg gematigdes nie. Hulle was toegewy aan die God wat hulle aanbid het, en niks sou hulle noop om ongehoorsaam aan Hom te wees nie. Soos wat die Heilige Gees tot u spreek, wil ek u nooi om in u eie gedagtes te besluit mik nie na die minste of die meeste waarmee u kan wegkom nie, maar dat u sal mik na die hoogste standaard.

 

Hoofstuk ses

 

Omstandigheidsetiek

 

“As iemand sou probeer om by my huis in te breek en my familie leed aan te doen, sal ek tot die dood toe veg.” Dit was die woorde van my teologie professor op universiteit. Laterjare, as predikant, het ek twee klein, bejaarde dames wat langs mekaar gebly het besoek. Ons was al drie in een van hulle se wonings toe die onderwerp van sekuriteit ter sprake kom en wat sou gebeur as iemand probeer inbreek het. Die een dame sê, “ Ek kan maar net op die Here vertrou.” Die ander het gesê, “Ek het ’n pistool onder my bed, dit is gelaai en die veiligheidsknip is af.” Ek kyk so na haar bewende hand en wonder by myself, “Ouma, as jy so bewe gaan jy sukkel om die muur te tref.”

 

Soos wat ons die saak van standaarde aanraak, hierdie Adventiste warmpatat, wil ek standpunt inneem dat die godsdiens van Jesus Christus in die hart, nie standaarde afbring nie, inteendeel dit lei my na hoër standaarde as ooit. Dit maak my nie minder van ’n Sewendedag-Adventis nie; dit maak my eerder ’n beter Sewendedag-Adventis. Liefde, vergifnis en aanvaarding doen nie weg met lewenstandarde nie; hulle verbeter die lewenstyl ten gunste van God. Dit beteken nie dat al die vrouens skielik hul hare in bolla’s dra en vierkantige haakskoene dra of dat die manne soveel swart dra as wat hulle kan, met lang gesigte nie. Dit doen wel weg met sommige van ons tradisies, maar dit trek beslis nie die standaard van Christelike lewe af .nie. Sou dit, dan was dit gewis nie die godsdiens van Jesus Christus nie. Dus verdedig ek die etiek en die moraliteit wat die Bybel ons leer.

 

In hierdie hoofstuk gaan ons kyk na situasie-etiek, die meer onlangse nuwe moraliteit wat weer sy opwagting gemaak het. U sou moontlik op TV, in die koerante en nuustydskrifte daarvan gehoor het. Die groot kerkgenootskappe ondersoek hulle standaarde, sommige probeer hulle aanpas by die moderne tyd. Ander probeer voet by stuk hou. Die term vir hierdie tipe etiek is “geregtelike-liefde” [“justice-love”] en daar is ’n voortslepende debat oor waarheen dit ons gaan neem.

 

Is dit aanvaarbaar om die verkeerde ding te doen as dit vir die regte rede gedoen word. Dit is die gedagte agter die nuwe benadering. Is die gedagte bybels? Is dit aanvaarbaar solank liefde die motief is?

 

Sommige mense, wat modern dink, reken die Tien Gebooie is soort van wetties, outyds. Die vraag is, wanneer dit by Christelike geloof kom, volg ons die Bybel of maak ons soos ons dink?

 

Ek onthou lank gelede met ’n evangeliese reeks was die titel van een preek, “God sê, maar ek dink...” Ek het nie eers nodig gehad om na die preek te luister nie. Die titel was veelseggend genoeg. God sê, maar ek dink. Stel ons belang in wat God sê, of stel ons net belang in wat ons dink? Gaan ons ons eie God wees?

 

Met ons bespreking oor standaarde het ons vasgestel dat invloed ons help in die proses. U het seker agtergekom, ons bly weg van die besonderhede en spreek slegs die beginsels van standaarde en etiek aan. Invloed speel ’n groot rol hierin. Ons het Paulus se geskrifte hieroor bestudeer. Ons het gesien dat iets wat nie moreel is nie, skielik ’n morele saak kan word (dan word dit immoreel) sodra dit iemand nadelig beïnvloed of so iemand tenakom of laat struikel.

 

“Wel, dan dink ek ons is te sensitief oor ander mense se siek verstande.”

 

“Nee, dis wat God sê.”

 

“Ek dink ons maak voorsiening vir kinderagtige mense.”

 

“Wat saak maak is wat die Woord van God sê, nie wat ons dink nie.”

 

Terwyl ons na omstandigheidsetiek kyk gaan ons ondersoek instel na die moedswillige breek van God se wet—om die regte rede. Neem byvoorbeld, ’n vrou wat terminaal siek is. Sy was nog altyd besorgd oor ander mense. Sy voel sy is ’n oorlas en sal graag haar lewe wil verkort uit liefde vir die mense wat na haar moet omsien. Sou dit reg wees? Is daar iets mee verkeerd? Is dit die liefdevolle ding om te doen?

 

Wat van die “Desert Storm” konflik in die Midde Ooste? Sommige meen die probleem lê by die Irakese leier en dat hy “sjirurgies” verwyder moet word. Dit behoort nie soveel te kos om ’n sluipmoordenaar te kry nie. Aangesien derduisende lewens daardeur gered kan word, sou dit die regte ding wees om te doen? Is dit die regte ding om te doen, omdat dit liefdevol is, al is dit verkeerd?

 

Wat van die klassieke voorbeelde wat Joseph Fletcher gebruik aan die einde van sy boek oor omstandigheidsetiek. Na hy ’n verduideliking gee oor die nuwe moraliteit, voorsien hy die leser van gevallestudies om sy morele tande aan te slyp. Miskien onthou u die geval van Mev. Burgemyer:

 

Soos die Russe na die weste beweeg het om die Amerikaanse en Britse troepe by die Elbe te ontmoet,, het ’n Sowjet patrollie op mev. Burgemyer afgekom waar sy na kos vir haar drie kinders gesoek het. Sonder dat sy ’n geleentheid gegee word om haar kinders te kontak  en sonder oënskynlike rede is sy weggevoer na ’n gevangenekamp in die Ukraïne. Haar man is tydens die oorlog gevange geneem en is na ’n oorloggevangekamp in Wallis geneem. Toe hy na Berlyn teruggekeer, het hy weke lank na sy kinders gesoek. Toe begin die soeke na hul ma. Hulle het nooit ophou soek na haar nie. Dit was gebiedend noodsaaklik dat sy kon help omsien na die gesin in hierdie tyd van honger, chaos en vrees. In die Ukraïne, het mev. Burgemyer deur ’n simpatieke bevelvoerder uitgevind dat haar man gepoog het om die familie saam te snoer en dat hulle op soek was na haar. Die reëls het slegs om twee redes vir vrylating voorsiening gemaak. Een was ’n siektetoestand wat gevorderde behandeling bo die vermoë van die kamp se mediese fasiliteite vereis het waarvoor sy na ’n Sowjet hospitaal wat nog verder weg was oorgeplaas sou word en twee, swangerskap, in welke geval die dame teruggestuur word na Duitsland.

 

Sy’t die saak goed deurdink en naderhand die hulp ingeroep van ’n vriendelike Volga Duitse wag. Hy’t ingestem. Toe die swangerskap medies bewys is, is sy terugestuur na Berlyn en na haar familie. Sy is met ope arms ontvang, selfs nadat sy verduidelik het hoe sy haar vrylating bewerkstellig het. Toe die kind gebore is, was hy meer geliefd as al die ander in die lig daarvan dat klein Dietrich meer vir die familie vermag het as enigiemand anders.

 

Toe die tyd aanbreek vir sy doop, het hulle die predikant een Sondagmiddag gaan sien. Na die geleentheid is Dietrich saam met die ander kinders huistoe gestuur en het die ouers met die predikant gaan sit om hom te vra of hulle reg is om te voel soos hulle wel voel oor mev. Burgemyer en Dietrich. Moet hulle dankbaar voel teenoor die Duitse wag? Het mev. Burgemyer die goeie en regte ding gedoen?

 

Ek het hierdie verhaal ’n klompie jare gelede op ’n gemeente uitgetoets. Met die middagete is die saak verder bespreek deur die dames en is daar saamgestem dat mev. Burgemyer ’n baie slim en wonderlike ding gedoen het. Hulle het gehoop dat as hulle in dieselfde situasie was, hulle ook so vindingryk sou kon wees.

 

In sy boek It All Depends, bespreek Fritz Ridenour hierdie einste verhaal. Hy daag die nuwe moraliteit uit en kritiseer dit. Hy haal ander fasette van die verhaal  min of meer soos volg aan: Ten spyte van die feit dat Mev. Burgemyer ’n edel doel gehad het, het sy eintlik die ander persoon misbruik vir haar eie doel. Reken omstandigheidsetiek regtig dat sy die wag soos ’n persoon behandel het? Het hy ’n familie gehad? In haar ywer vir haar eie gesin, het sy vergeet van liefde se belang in hom. Wanneer ons God se reëls oortree, gaan iemand altyd seerkry.

 

Hierdie kritikus van die nuwe moraliteit voeg ’n paar hoofstukke by die verhaal: Gestel hierdie vrou het verwagtend geraak met behulp van die wag en is vrygelaat, maar sy is twee honderd myl van die huis en dis winter. Tensy sy gou kos in die hande kry, sterf sy van die honger. Dan was haar “opofferende egbreuk” verniet. Sy bereik ’n plaashuis. Die boer bied haar voedsel aan in ruil vir...ja, u raai reg.

 

Aangesien die vrou reg was om betrokke te raak met die wag en sy nou desperaat is om voedsel te kry kan sy net sowel toegee aan die boer. Sy doen en kry kos. Sy bevind haarself terug op die pad huistoe, maar besef dat sy nie die hele ent sal kan loop nie. Sy raak moeg en gaan doodvries. ’n Trok kom verby en die bestuurder bied haar ’n saamrygeleentheid, mits... Wel, as die daad met die wag aanvaarbaar was, asook dié met die boer, hoekom nie die trokbestuurder nie.

 

Uiteindelik bereik die vrou ’n stad naby die dorp waar haar kinders hul bevind. Gestel haar man is nie finansieel in staat om vir sy gesin te sorg, dan maak dit prakties mos nie sin om haar met haar gesin te verenig en dan liefdevol saam met hulle ’n hongerdood te sterf nie. In hierdie stad is genoeg manne wat belangstel om hierdie vrou te misbruik en kry sy ’n mooi bedrag geld bymekaar. Trouens, reken sy, as sy nog meer fondse kan akkumuleer sal sy nog meer liefde aan haar gesin kan betoon en nog beter vir hulle kan sorg.

 

Fritz Ridenour erken dat die verhaal nou absurd raak, maar dan vra hy die vraag, “Op watter stadium het die storie absurd geraak?” Glad nie ’n dom vraag nie.

 

U word dus vandag, nes voorheen, in die gesig gestaar met die vraag, Is dit reg om die verkeerde ding te doen vir die regte rede? Of gaan iemand altyd seerkry? Het God ons tien reëls gegee ten einde die lewe vir ons moeilik te maak of omdat Hy weet hoe ons saamgestel is? Ons kan God se reëls sien as nie-beperkingend of as aanwysings. Wanneer u iets korrek wil gebruik, volg die gegewe aanwysings en dit sal die korrekte gebruik aandui.

 

Ek het ’n predikantsvriend wie se vrou moedeloos geword het wanneer sy probeer naaldwerk doen. Dit wou voorkom of sy nooit ’n kledingstuk bevredigend kon voltooi nie.

 

Hy vra haar,”Volg jy die aanwysings?”

 

“Wel, ek probeer.”

 

Hy sê, “Gee my die materiaal en die patroon, ek sal die rok maak.”

 

Hy het die aanwysings  noukeurig gevolg en ’n pragtige rok gemaak.

 

Ek het jare gelede deur die Mojave Woestyn probeer reis met die “vryheid” van nie die verkoelingsbymiddel van my Honda vervang nie. Ek het nooit die aanwysings gelees nie Die alluminium silinderkop het verweer en die silinderpakstuk het gekraak  en die vryheid wat ek geniet het om nie die verkoelingsbymiddel te vervang nie, het daartoe aanleiding gegee dat ek my vryheid moes inboet terwyl ek langs die pad in die woestyn sit.

 

Wanneer u onseker is, raadpleeg die aanwysings. Dit is nie beperkend nie, dit is openbarend. Dit is nie, “Aag, moet ek dit doen nie?” Dit is eerder, “Dit is wonderlik om te weet.” Die oomblik dat u  reëls verwerp, vernietig u uself. U kan nie eers ’n speletjie sonder reëls speel nie. Dit is wonderlik om te weet waar u hoort. As u nie weet nie, sal u nie rus tot u weet nie.

 

’n Universiteithoof deel my mee dat ’n kind se sekuriteit staan in direkte verhouding tot die voorspelbaarheid van sy ouers. Enige mens se sekuriteit  staan in direkte verhouding tot  die voorspelbaarheid sy God, die Een wat hom geskep het. Dit staan die mens vry om te kies of hy vir of teen God se wet is. Maar, gestel dat hulle daarteen kies, gaan hulle een of ander tyd hul vryheid verbeur. Dit is hoe dit is.

 

As daar iets is wat ons vandag behoort te weet, dan is dit verhoudingsteologie in stede van eenvoudige gedragsteologie. Die hele beginsel van verlossing deur geloof is juis gemik teen die poging om uself te probeer red. Dit gaan oor vertroue in God vir u verlossing. Waarom sou dit nie van toepassing wees op die Ukraïne of die gevangeniskamp of die stadige dood nie? Trouens indien u die redenasies bestudeer rakende standaarde en etiek waarvoor ons nog altyd bekend was, is dit weereens my voorreg om u daaraan te herinner dat Ellen White weereens in die kol is.

 

Ek wil so ’n voorbeeld aanhaal uit die boek oor die lewe van Christus, Die Koning van die Eeue. Ek verwys na die hoofstuk wat praat oor Jesus sê verblyf in die wildernis waar Hy worstel met ’n probleem. Hy is honger. Hy soek verligting. Wat doen Hy? Hy wag op God om op Sy tyd verligting en kos te bring. Hy is in die woestyn in gehoorsaamheid aan God, dus sal Hy nie kos kry deur die voorstelle van Satan te volg nie. Hy getuig dat dit minder van ’n ramp is om enige lot te verduur wat jou tref, as om enigsins af te wyk van die wil van God.

 

Dit wil voorkom asof gehoorsaamheid aan die duidelike vereiste van God hom van sy heenkome beroof. Die Satan sal hom wysmaak dat hy sy gewetensbesware sal moet prysgee. Maar die enigste ding ter wêreld waarop ons kan staatmaak, is die woord van God. “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Mattheüs 6:33. Selfs in hierdie lewe strek dit nie tot ons voordeel om af te wyk van die wil van ons hemelse Vader nie. As ons die krag van Sy woord leer ken, sal ons nie die voorstelle van die Satan gehoorsaam om voedsel te verkry of om ons lewens te red nie. Ons enigste vrae sal wees: Wat is die gebod van God? Wat is Sy belofte? As ons dit weet, sal ons die een gehoorsaam en op die ander vertou. (Koning van die Eeue bl. 93)

 

Klink dit riskant? Klink dit gevaarlik? Maak dit sin?

 

Dalk onthou u vir John Weidner, die Christen wat meer as eenduisend Jode na vryheid help ontsnap het tydens die Tweede Wêreld Oorlog. Hy is uiteindelik gearresteer en in die gevangenis gesit.  Hy sou die volgende dag die doodstraf  ontvang. Terwyl hy daar sit, dink hy aan die Bybel en spesifiek aan Daniël se drie vriende wat uit die vuuroond verlos  is en dit het hom met hoop besiel. Toe dink hy aan Daniël in die leeukuil en hoe hy uit daardie situasie verlos is. Dit laat hom beter voel. Daarna dink hy aan Johannes die Doper en hy begin planne beraam om uit die tronk te ontsnap. Wat het hy gedink? Wat dink ons?

 

Wat is God se gebod? en wat is Sy belofte? Het Hy altyd belowe om ons te verlos? Nee. Lees die laaste gedeelte van Hebreeus 11. Daar vind ons dat mense opgesaag is, ander is gemartel. Hierdie mense is almal in die geloof dood, sonder om Sy wederkoms te aanskou. Maar hulle is in geloof dood. Vertrou ek op Hom, of ek lewe of ek sterwe? Ken ek Hom goed genoeg dat ek Hom sal vertrou? Vertrou ek Hom genoeg om te weet ek bevind my  in my huidige omstandighede omdat Hy my daarheen gelei het?  

 

Kan ek Hom tot die dood toe vertrou? Dit is die vraag. Het Hy nie gesê ons hoef nie bang te wees vir hulle wat die liggaam doodmaak  nie, vrees hulle wat die siel kan vernietig (sien Mattheüs 10:28).

 

Huss en Jerome het gesterf terwyl groen hout stadig om hulle gebrand het. Hulle as is in die Rheinrivier gegooi, maar hulle vervolgers kon nie naby hulle siele kom nie.

 

Is dit ooit reg om verkeerd te doen om ‘n liefdevolle rede? Die beginsel wat ons voorstel ten einde hierdie vraag te beantwoord is veelseggend.  Dit is eenvoudig dit: Wie vertrou ek? Gaan dit oor wat kan ek doen of hoe slim is ek? Is my vertroue in God en wat Hy reken die beste is vir my? Hierdie beginsel raak vele etiese en morele besluite wat ons vandag in die gesig staar.

 

Een Sabbat nadat  ons hierdie beginsels in die kerk bespreek het, het iemand opgemerk, , “Ons waardeer die feit dat u beginsels bespreek het en nie besonderhede nie.”

 

’n Dame het byvoeg, “Ja, nou kan ek vir die eerste keer verstaan hoekom ek die dra van my trouring moet bevraagteken.”

 

Ek antwoord, “Ek het niks daaroor gesê nie.”

 

“Ek weet, ek weet” het sy gesê , “jy het dit nie genoem nie, maar die beginsel geld.”

 

Wat van die beginsels van ons inrigtings? Wat van reg en verkeerd as dit kom by kerkstandaarde? Wat van standaarde vir kerkleierskap? Wat van benoemingskommitees? Waarna gaan hulle kyk? Is dit kleinlik of wetties om kerkleiers aan te stel wat nie wil aanstoot gee met dit wat hulle doen nie?

 

In sy boek Set Free het die skrywer onlangs sy al-tradisionele lys van skoonbly weergee. Hy noem dit “squeaky clean.” “Geen blink skoene op Sabbat, geen vleeskosse, nie, bad na sononder, geen gemengde swem, geen bakkery op Sabbat, geen tee of koffie, geen etery tussen maaltye, geen troupante, geen skaakspelery of bordspel, geen speel van kaarte, geen rolbal, geen tamatiesous of mosterd, geen peper, geen alkoholiese dranke, geen televisie, geen tennis, geen vrugte en groente met dieselfde maal, geen roomys, geen kaas en geen lewensversekering nie.”

 

Ek lees hierdie lys eendag in die kerk en ’n seuntjie sê vir sy pa, “Dis siek, maar ek kan leef met die geen groente!”

 

Stem u saam met hierdie lys? Indien wel, op watter basis? Is enige van hierdie beginsels hier van toepassing? Wat van die eenvoudiger dae toe ons kerk gesê het, “Kyk na dit wat jy nie regtig nodig het nie, skakel hulle uit.” Vandag het ons ook die streep vir baie goed op ’n ander plek probeer trek en gevolglik sit ons opgeskeep met die kwelling van waar om die streep te trek. Die neiging is alewig af. Nie waar nie? Het u dit opgelet? Dit is altyd daar. Die neiging is nooit opwaarts, dis altyd afwaarts.

 

In die ou tyd as ons die streep getrek het, sou die mense kla, “Ons word soos dwase behandel! Kan ons nie vir onself dink nie?”

 

Wat is die beste manier om te besluit oor kerkstandaarde? Soms is dit nodig om daaroor te dink. Maar hoe? Wat is die aangewese antwoord op hierdie moeilike vrae? Hoe gaan ons besluit?

 

Ten einde die vraag te beantwoord, laat ons die volgende teks oorweeg:

 

As julle saam met Jesus opgewek is, [wat beteken dit? Ek is deur die doop in Hom begrawe, ek staan op in ’n nuwe lewe] soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam Christus verborge in God. Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word. Maak dood dan julle lede wat op aarde is (Kolossense 3:1-5).

 

’n Meer moderne weergawe sê, “Moenie toelaat dat die dinge wat nie vir Jesus belangrik is nie, vir julle te belangrik word nie. Ek praat van die tydelike aardse dinge waarmee julle julle partymaal so kan besig hou” (Die Boodskap) Ons kan dit nie doen nie, net God kan.

 

Ons logika en redenasies ten spyte, maak ons die volgende afleiding: die uiteindelike antwoord in alle situasies lê daarin dat ons God sal ken as ‘n persoonlike vriend, ken Jesus, ken Sy stem.

 

In 1 Johannes 2:15-17 hoor ons Jesus die beroep doen dat ons blik opwaarts sal wees, instede van na binne of na buite. “Moenie die wêreld liefhê nie.” Hoe gaan ons dit vertolk? Moenie ’n motor bestuur nie? Moenie ’n horlosie dra nie? Moenie ’n yskas koop nie, want dis van die wêreld? Wat beteken dit om nie die wêreld lief te hê of “die dinge wat in die wêreld is nie”? Is dit verkeerd om ’n nuwe motor te wil besit?

 

As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.

 

Wat beteken dit as dit sê, “As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie”?

 

Wat beteken dit om die wêreld tot so ’n mate lief te hê? En wat beteken “die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë”? Die Boodskap stel dit so, “Met wêreldse dinge bedoel ek dit:

  • dit is die begeertes wat deur menslike en wêreldse belange aangeblaas word sonder om met God rekening te hou;
  • dit is om alles wat jou oë sien te wil hê;
  • dit is om heeltyd net met jouself en dit wat jy het te spog.”

 

Om te vas voorsien ons van ’n toepaslike illustrasie. Toe Jesus van die Berg van Verheerliking afkom is die dissipels so pas oorwin. Hulle was nie in staat om ’n duiwel uit ’n seun te dryf nie, maar Jesus kon. Toe die stof gaan lê het sê Hy, “Maar hierdie geslag gaan nie uit behalwe deur gebed en vas nie” (Matthéüs 17:21). Ons het geen bewys dat Jesus eers gevas het nie. Sover ons kan aflei het Hy nie. Wat beteken vas dan? Hierdie moet na ’n gesindheid van vas verwys. Mag ek die volgende voorstel: Indien ek moet kies tussen eet en tyd alleen met God deurbring, kan ek vooraf voorspel wat die keuse gaan wees. As ek moet kies, kies ek tyd saam met God. Dit is wat ware vas beteken.

 

Kom ons pas die idee toe op “As iemand die wêreld liefhet”. Ek kan dit omskakel na ’n wettiese lys waarteen afgemerk word, wat van my ’n kluisenaar of ’n monnik kan maak. Of ek kan kan dit vertolk as enigiets wat ek bo God kies of wat bo my verhouding met Hom kom, moet ek laat staan; dat as ek Jesus as my persoonlike Vriend en Verlosser ken, niks voorkeur kry bo daardie verhouding nie. Is dit verkeerd om ’n nuwe motor te wil hê sodat ek nie met ’n oue in die woestyn gaan staan nie? Nee, maar as ek ’n nuwe motor kry wat my persoonlike verhouding met Jesus benadeel, dan  ignoreer ek 1 Johannes 2 se raad. Wat sal u keuse wees? Wat sal my keuse wees wanneer dit kom by my liefde vir God en my verhouding met Hom? Dit is die belangrike vraag.

 

Kom ons lig die sluier en kyk na die geheelbeeld. As u geweet het dat Jesus volgende week terugkom, wat sou u lewenstyl wees? Wat sou u doen? Waar sou u gaan? Wat sou u aantrek? Wat sou u eet en drink? Wat se ontspanning sou u kies? Is dit ’n regverdige vraag? “Dit is ’n vreesaanjaende vraag,” sou u sê. Nee, nie as Hy u vriend is nie.

 

C. S. Lewis stel dit baie interessant:

 

Vir my help prente van fisiese rampe, tekens aan die wolke, die hemele wat oopgaan soos ’n boekrol, nie naasteby soveel soos die naakte idee van ’n oordeel nie. Ons kan nie altyd opgewonde wees nie. Ons kan onsself oefen om meer en meer dikwels, af te vra hoe dit wat ek sê  of doen of nalaat om te doen sal lyk as die onkeerbare lig daarop skyn—daardie lig wat so anders as die wêreldse lig is. En tog weet ons nou net genoeg daarvan dat ons dit in berekening kan bring. Dames sukkel soms om in kunsmatige lig te oordeel hoe ’n rok in daglig sal lyk. Dit is ons almal se probleem, om ons siele te klee, nie vir die elektriese lig van die teenswoordige wêreld nie, maar in die daglig van die volgende. Die goeie rok is die een wat die toets van die lig sal slaag, want daardie lig is vir ewig.

 

Maar is daardie Lig my vriendelike teenwoordigheid of ‘n onvriendelike teenwoordigheid? Dit sal daarvan afhang of u Hom ken.  Ken u Hom, sal Hy bekend wees as u beste vriend. Wie wil nie sy beste vriend of vriendin behaag nie? Dan kom die groot verrassing—die besef dat hierdie Vriend nog heeltyd geweet het  wat die beste vir ons is.

 

Soms dink ons dat ons weet wat die beste is. . Wanneer dit gebeur word Hy seker bewoë by die aanskoue van die leed wat ons onsself aandoen. Te dikwels redeneer ons soos die vrou in die volgende verhaal.

 

                                    Totsiens Rabbi

 

“En Jesus sê vir haar: Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie.”

 

Die vreesbevange vrou staan op en skarrel vinnig weg. Dan skielik, asof sy bewus word van Jesus se  bevel, gaan staan sy stil, en kyk haar verlosser vraend aan.

 

“Wat bedoel U met, ‘Sondig nie meer nie’?” vra sy.

 

“Ek dink jy weet wat ek bedoel,” antwoord Jesus.

 

“Ek weet nie, Rabbi, tensy U verwys na my verhouding met Reuben as sondig.”

 

“Wat sou jy dit noem?”

 

“’n Sinvolle verhouding,” antwoord die vrou. “’n Interpersoonlike toewyding waarin albei poog om ons volle potensiaal te bereik.”

 

“Regtig!” het Jesus gesê.

 

“Reuben en ek is baie lief vir mekaar. U weet mos wat dit beteken. Hoe kan ’n verhouding sondig wees wanneer dit ware liefde uitbeeld?”

 

“Wat van die verbond met jou man?”

 

“Isak? Wel Rabbi, ek en Isak was nog nooit werklik opgewonde oor mekaar nie. Saam kan ons nie ons volle seksuele potensiaal verwesenlik nie.”

“Wat het dit te make met...?”

“Kom nou Rabbi, mense het ’n plig teenoor hulleself, U weet, die reg op geluk.”

 

“Het hulle?”

 

“Verseker! Hoekom moet ons toelaat dat oudmodiese wettiesheid ons bind aan steriele en onvervulde verhoudings?”

 

“So jy bedoel dat as Isak nie vir jou kinders kan gee, hoop jy dat Reuben...?”

 

“Rabbi, U sit woorde in my mond, U weet wat ek bedoel. God weet dat Isak my kinders kan gee, ek het drie om dit te bewys.”

 

“Jy het drie kinders, en jy verkies om jou huweliksbelofte te ignoreer ten gunste van hierdie man Reuben?”

 

“O Rabbi, U is kostelik! ‘Ten gunste van hierdie man Reuben.’ Daardie taal dateer uit die tyd van die rigters. Ek sê nie dat ek en Reuben vir altyd gaan saambly nie. Ons mag mekaar eendag ontgroei en afstand nodig hê  in ons voortgesette soeke na ons ware self.. Mense verander, U weet.”

 

“Wat van die kinders?”

 

“Kinders is nie so kwesbaar as U dink nie, Rabbi. U sal verbaas wees om te sien hoe goed hulle met Reuben klaarkom, hoe hulle aan hom hang as hy vir ontbyt oorbly. Dis nou wanneer Isak weg is met die kamele. Hulle noem hom ‘Oom Rube’, en hy doen allerhande toerjies vir hulle—en hulle is dol daaroor. Hulle verkies hom bo Nataniël.”

 

“Nataniël?”

 

“My vorige betekenisvolle verhouding, maar hy’t vervelig geword. Gesê sy gewete kla hom aan en sulke wetties nonsens. Ek het voorgestel dat hy meer aandag gee aan mense soos U.”

 

“Soos ek? Hoe sou ek hom gehelp het?”

 

“Aag, U weet, die goed wat U sê dat ons nie gestrem moet wees met skuld en vrees vir mense se menings nie?”

 

“O ja, dit. Maar sê my, as Reuben jou so innig liefhet, hoekom is hy nie vandag hier nie?”

 

“Hy wou baie graag , Rabbi. Hy wou regtig, maar bloed ontsenu hom vreeslik. Hy is ’n baie sensitiewe persoon. Glad nie soos Josua nie.”

 

“Josua? Nog ’n betekenisvolle...?”

 

“Nee, dit was lank gelede en dit was nie so betekenisvol nie. Nie regtig nie. U kan maar sê ek het my vlerke uitgetoets.”

 

“Dan weer, dalk nie.”

 

“Mmmmmmmm?”

 

“Wat gaan jy vir jou man oor vandag sê?”

 

“Ek gaan hom vertel dat hy hierdie as ’n leerskool moet beskou, ’n geleentheid vir ‘n breër uitkyk op die lewe. Maar ek moet nou gaan. Tot siens Rabbi. Lekker dag.”

 

Jesus kyk die vrou peinsend agterna. Dan kyk Hy af op die grond, die trane begin vloei...en vloei...en vloei.1

 

1. Uit Insight, 10 November 1963

 

Hoofstuk Sewe

 

Aan die Slaap in die Klas

 

Ons moes deur sommige klasse geslaap het. Ons het eers later besef dat ons het.  Ek verwys nie na algemene sielkunde net na middagete nie, wanneer ek en my broer om die beurt een hand- en een aantekeningeboek klastoe gebring het—sodat hy kon slaap en ek aandag gee, die volgende dag was dit andersom. Ek praat van ander klasse op kollege waar ek gewis moes geslaap het. En van alle dinge moes daardie klasse gehandel het oor die enigste antwoord op die lewe se groot vrae—om Jesus te ken as my beste vriend.

 

As ons na die boek van Romeine kyk, vind ons ‘n kragtige  uitnodiging om nie te slaap nie, om wakker te word, veral in die tye waarin ons leef.

 

En dit te meer, omdat ons die tydomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het. Die nag het ver gevorder en dis amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord. Laat ons welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontig en ongebondenheid, nie in twis en nydheid nie. Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie (Romeine 13:11-14, ek kursiviseer).

 

Hierdie Skrifgedeelte het iets te make met ons bekleding met die Here Jesus Christus, ’n waarheid wat ek deurgesluimer het. Baie van ons spandeer meer tyd en moeite in ’n poging om nie die “begeerlikhede van die vlees te bevredig” nie. Ons spandeer meer tyd aan ons mislukkings, ons swakhede, en ons sondes as om tyd te spandeer om ons te beklee met die Here Jesus Christus. Soms bestee ons meer tyd aan kerkreëls en standaarde, of deesdae om ontslae te raak van hulle, as aan tyd om Hom te leer ken.

 

’n Predikantsvriend van my, wat omstreeks dieselfde tyd as ek deur kollege is, is op ’n keer na die sterfbed van ’n man ontbied. Hy wou een ding baie graag weet: “Hoe weet ek my saak is reg met God?”

 

My vriend deel my sy eie frustrasie mee. Die sterwende man wou nie weet van die saamvoeg van sekere Griekse werkwoorde nie. Hy’t hom nie gevra om tekse aan te haal ter stawing van sekere kerkleerstellings nie. Hy is nie versoek om sinne uit te lê of om welbekende literêre reuse aan te haal nie. Hy’t hom nie gevra oor moraliteit of Christelike etiek nie of enigiets anders nie, behalwe daardie een klas wat my vriend deurgeslaap het. Hoe weet ek my saak is reg met God?

 

Toe ek dit hoor, moes ek toegee,  “Ek het ook in daardie klas geslaap.  In ’n poging om regverdig te wees teenoor die fakulteit het my vriend gesê, “Iewers moes hulle ons dit geleer het, maar ek moes geslaap het.”

 

Ek het gevoel dat baie van ons aan die slaap was in klasse waar antwoorde verskaf is op mense se moeilike vrae. Deel van die probleem is dat ons sekere dinge in teorie kan aanvaar en slaap deur die ondervinding daarvan. Ek het verstaan dat Jesus belangrik is, maar ek het nie gevoel dat Jesus só belangrik was in terme van ondervinding nie. Is daar ’n gaping? Is daar ’n verskil?

 

Ons kerk het nog altyd in teorie geglo aan die leerstelling van geregtigheid deur geloof in Christus alleen. Toe Leraar Richards eendag gevra is wat is die Adventiste boodskap, was sy antwoord, “Net Jesus.” Ek hou daarvan. Was dit egter u ervaring tydens u blootstelling aan Adventisme?

 

Dink mense aan Sewendedag-Adventiste as mense wat “Net Jesus” preek en leer en uitleef of dink hulle aan hulle as mense wat nie vark eet en wat op Saterdag in stede van Sondag kerktoe gaan? Ons was nog nooit aan die slaap oor die leerstellige geloof in Jesus agterop ons doopsertifikate nie, maar is dit moontlik om ondervinding gewys aan die slaap te wees?

 

Die dissipels was volgelinge van Jesus, maar ons moet toegee dat alhoewel hulle hul visvangnette laat staan het, hulle nie die grond waarop hulle in Getsemane geslaap het versaak het nie. Soos in Lukas 22:46 aangeteken, kom Hy by hulle en sê, ”Wat slaap julle? Staan op en bid, dat julle nie in versoeking kom nie.”

 

Ek hoop dat iewers langs die pad ons elkeen die stem van die Heilige Gees in die môre sal hoor wat sê, “Wat slaap julle? Staan op en bid.”

 

Sommige van ons het ’n studie gedoen onder die jongmense in ons subkultuur. Dit wil voorkom dat as ’n reël, meeste Adventiste jongmense voor die eerste jaar op kollege nie verstaan waarvan jy praat as jy praat oor geregtigheid deur geloof in Jesus alleen en die dieper verhouding, in stede van net blote godsdiens nie. (Daar bestaan die uitsondering op die reël, en daar is aanduidings dat die grense deurentyd uitgeskyf word. Loof God daarvoor!)

 

As ’n reël is die vrugbaarste tydperk vir ‘n jong persoon, in ons subkultuur, om meer uit te vind buite die blote “godsdiens” en die begin van ’n dieper lewe saam met God,  iewers tussen die elfde en veertiende graad is— die laaste twee jare van hoërskool en die eertse twee jare van kollege. Indien u u binne daardie katagorie bevind, bly wakker. Moenie u oë sluit nie. Daar bestaan iets baie belangrik wat u moet verstaan, moenie waag om nou te dut nie.

 


Indien u nie ’n dieper verhouding met Jesus in hierdie tydperk vind iets meer as “Jesus min my...” (wat in die haak was toe u vier of vyf jar oud was) nie, iets meer as blote godsdiens en formele roetine, dan mag dit baie jare neem voor dit gebeur, want u sal onvermydelik  betrokke raak by  die ander twee groot besluite in u lewe naamlik: saam met wie u die res van u lewe gaan deurbring en watter beroep u gaan volg..

 

Op die een of ander manier word die verhouding met God, die belangrikste besluit, eenkant gestoot. Intussen, terwyl dit eenkant is, kom hartseer, stres, tragedie, slapelose nagte, en verwarring, totdat u eendag uiteindelik wakker skrik met die besef dat u in die klas geslaap het.

 

Ons weet dat baie mense ontnugter is met georganiseerde godsdiens. (“Moeg vir godsdiens—probeer gerus Jesus”). Sommige jongmense woon kerkskole by teen hulle sin, maar wie kan weier indien u ouers ’n sportmotor aanbied as u u ouers se alma mater bywoon. Hoe kan ’n jongmens nee sê vir betaalde studies plus finansiële bystand?

 

Ek het al gehoor van kinders wat omgekoop word met ’n nuwe motorfiets, indien hul hul laat doop! Sommige jongmense sien die bedrieglikheid van hierdie denkwyse.. Hulle het geen belang in godsdiens, want hulle het gesien dit beteken niks vir hul ouers nie.

 

Ek wil u graag iets beter as blote godsdiens aanbied, want daar bestaan ’n reuse verskil tussen godsdienstig en geestelik wees, tussen bekend wees met die reëls, die standaarde en die leerstellings en bekend wees met die Here. Indien u nog nie die verskil agtergekom het nie, moenie daardeur slaap nie. Sommige van ons het, en ons het maagsere opgedoen.

 

Die eerste klas wat ek op kollege deurgeslaap het was die een oor sonde. Ek bedoel nie dat hulle ’n kursus gehad het genaamd 101 AB Sonde nie, maar iewers het ek die les oor waaroor sonde gaan gemis. Ek was onder die indruk dat sonde is die doen van slegte dinge, en ek het gereken ek vaar nie te sleg nie. Die meeste van ons is die slagoffers van geregtigheid deur opleiding, geregtigheid deur gewoonte, geregtigheid deur verbod. Ons was bang om verkeerd te doen. Uiterlik het ons mooi gelewe. Gevolglik as jy ’n skoon lewe ly, is jy nie die slagoffer van slegte dinge doen en is jy as ’n reël minder van ’n sondaar. Reg? Verkeerd!

 

Die oeroue definisie oor sonde wat uit die Skrif aangehaal word, die een wat altyd aan ons gegee word wanneer ons vra—“want die sonde is wetteloosheid” —is nie voldoende nie, ten minste nie soos algemeen vertolk nie. Wat dit eintlik sê is, “Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid”  (1 Johannes  3:4, ek kursiviseer). Daar is iets dieper omtrent die kwessie van sonde. Soos ons redeneer moet ’n persoon eers “sonde”doen voordat hy die wet kan oortree. Die gevolg van sonde  is die oortreding van die wet. Tot my verbasing het ek deur daardie een geslaap. Ek het eers baie jare later uitgevind dat sonde is om dag na dag weg van God te lewe, (wat eintlik die verbreking van die eerste gebod is, want dan is ek my eie god).

 

Jesus het, met verwysing na die werking van die Heilige Gees, in Johannes 16:8 gesê, “En as Hy kom sal Hy die wêreld oortuig van sonde”. In vers 9 definieer Hy sonde as om nie in die Here Jesus te glo nie. Om net te glo is nie voldoende nie, die bewys daarvan is dat “die duiwels glo dit ook, en hulle sidder” (Jakobus 3:19). ’n Beter woord vir glo is vertrou.

 

Sonde is om “Jesus nie te vertrou nie.” So ’n definisie dui op ’n verhouding, ’n nabye afhanklikheid van Hom..

 

In Romeine 14:23 word dieselfde ding met ander woorde gesê, “alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde.” Dus, enigiets wat ek doen—die studie van godsdiens, die studie van wiskunde, die studie van gesondheid, die studie van aptekerswese of verpleging, of selfs die doen van goeie dade en die handhawing van hoë standaarde—as ek ’n lewe voer weg van ’n betekenisvolle verhouding met Jesus, is dit sonde. Ek het daardie klas deurgeslaap.

 

Daar bestaan ’n groot verskil tussen sonde en sondes. Sonde is om weg van Jesus te lewe en die gevolg is sondes, of om verkeerde dinge te doen.

 

Die meeste van ons wat ’n probleem met sondes het, werk harder aan die sondes as aan die poging om ’n verhouding met Jesus op te bou. Wat ’n ontnugtering toe ek dít besef! Die opbou van ’n verhouding met Jesus moet meer as ’n blote teorie wees, dit behels  ook praktiese ondervinding.

 

Die volgende klas wat ek deurgesnork het, was die een oor geregtigheid. Weereens, was daar  geen kursus wat Geregtigheid 450AB genoem is nie, maar ek het dit misgeloop. Ek dog geregtigheid is om die regte ding te doen. Trouens, ek het mense dit so hoor definieer. Wanneer die vraag “Wat is geregtigheid?” geopper is, was die antwoord soos klokslag, “Geregtigheid is om die regte ding te doen.” Ons het selfs aanhalings gehad om dit te staaf. As daar niks meer aan geregtigheid is as om die regte ding te doen, dan hoef ons net te beoefen wat reg is en ons is ‘geregtig’ [Engels: righteous]. Maar pasop vir die lokval! Al weet ons bittermin van verlossing, sal ons weet dat hierdie definisie verkeerd is. Natuurlik, ons wat nie sleg gevaar het met die ooglopende goeddoen nie , het nooit ons ons denke en begeertes as ’n noemenswaardige probleem beskou nie. Ons het  God dus nie nodig gehad nie. As ons doen wat reg is, en ons is nie uit die skool uitgeskop nie , as ons nie die koshuis afgebrand het nie, en ons het ontslae geraak van al ons ‘rock’ plate, wie het God nodig?  God moet omsien na al die slegte mense, maar het die goeie mense God hoegenaamd nodig?

 

Aan die anderkant, hoe definieer jy reg en verkeerd in die lig van die nuwe moraliteit en omstandigheidsetiek? Sommige Christene beskou die drink van wyn as verkeerd, ander beweer dis goed vir ‘n mens. Ons kan, soos in die vorige hoofstukke gesien, allerhande soortgelyke strydvrae opnoem. Sonder Jesus Christus definieer ons almal reg en verkeerd in terme van ons opvoeding, gewoontes en die inhibisies wat om ons gebou is, nie waar nie?

 

Slegs op die basis van die verskille in opleiding [opvoeding] en agtergrond sal ons soveel opinies kry as wat daar mense is. Dit is gans onmoontlik om reg en verkeerd te verstaan en reg te doen sonder Jesus. Tot my eie verbasing het ek uitgevind dat die beste eenwoord definisie vir geregtigheid (ek het dit eers na kollege uitgevind) is “Jesus”! Jesus is geregtigheid. Hy is die enigste Een wat ooit regverdig op hierdie aarde geleef het, die res van ons is onregverdig. ”Soos geskrywe is: “daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie” (Romeine 3:10). Wat sê Paulus? Hoeveel regverdiges is daar? Geen! “Maar,” sê u, “ek voer ’n goeie lewe.” Dit mag wees, maar u is nie regverdig nie.

 

Gevolglik as ek enigsins ’n regverdigheid wil hê wat eg is,  het ek Jesus nodig. Wanneer ek Jesus het, het ek geregtigheid. Daar bestaan nie so iets soos geregtigheid sonder Jesus nie. “Maar,” sê ons, “ons ken goeie mense in die wêreld wie vriendelik en gaaf is, wie goeie dinge doen.” Ja, maar hierdie goeie dinge het geen hemelse waarde sonder’n lewende verhouding met God nie. Sonder God, word selfs ons goeie dade net tot ons sondigheid bygevoeg.

 

Die derde klas wat ek deurgeslaap het, was die een oor geloof. Ek het gereken geloof was om myself te maak glo in iets en as ek voel ek het nie veel geloof nie, dan moes ek baie tyd bestee om te werk aan my geloof. Ek was onder die indruk dat indien ek myself hard genoeg in iets maak glo, dit sou gebeur. Die enigste probleem wanneer dinge dan nie gebeur nie, was weens my gebrek aan geloof. Geloof was iets wat jy opbou, aan werk, deur een of ander verstandelike oefenprogram om jouself te maak glo.. Het Jesus dan  gesê as jy glo is alles moontlik (sien Markus 9:23). Dit is al voorwaarde, dus werk  ons hard aan glo en die opbou van geloof.

 

Dr. Hutchins van die Universiteit van Chicago het, in sy spotskrif oor die Christelike geloof, daarop gewys dat as u u positiewe denke en u geloof instel op die spotprent in die Sondagkoerant, u omtrent net soveel resultate sal kry as waneer u hulle sentreer op God. Fokus u geloof  op die heiningpaal in u erf en u sal net soveel vermag. Dit is waar indien  geloof niks meer as een of ander selfgegnereerde positiewe denke is nie.. Of  u probeer om uself te maak glo in die beloftes in God se woord of nie, as u aan u geloof moet werk, dan is u teologie oor geloof foutief. Ek het deur daardie klas gesluimer en dit het my op ’n stadium byna venietig.

 

 Die Bybel leer ons dat die beste definisie vir geloof is vertroue. Vertroue word gewek deur iemand te ken wat betroubaar is. As u egte vertroue wil hê, leer Jesus ken en geloof  volg as ‘n  natuurlike neweproduk. U hoef dit nie op te werk nie; u hoef glad nie daaraan te werk nie. Geloof kom nie na hulle wat daarna soek nie; dit kom na hulle wat Jesus soek. Dit kom op dieselfde manier as wat geregtigheid kom. Ons word nie regverdig deur te doen wat reg is nie, ons word geregverdig deur Jesus en Sy geregtigheid te soek.

 

Moeilike klasse! Hoe kon ons deur hulle geslaap het? As ons deur hulle slaap is die gevolg nuttelose, wilde, doellose pogings en eindelose werk wat ons nêrens bring nie.

 

Die vierde klas wat ek deurgeslaap het is die een oor Christelikheid. Wat is ’n Christen? Ek het gedink ’n Christen is iemand wat die regte ding doen. Dit het my ’n Christen gemaak, want ek het die regte ding gedoen. Maar daar is ander mense in die wêreld wat die regte dinge doen wat nie Christene is nie. Het u nie al mense gesien wat doen wat reg is, maar niks met Jesus Christus te doen wil hê nie? Is daar nie mense wat hul klere van hul rug sal gee, wat vriendelik en gaaf en eerlik is, maar niks te make het met Christelikheid nie? Ek het hulle ontmoet. Daar bestaan allerhande etiese, morele mense in die wêreld wat te enige tyd Jesus se naam sal laster.

 

Wat is ’n Christen? Ek weet nie waar ek was toe hulle dit op kollege definieer het. Ek is seker iemand moes dit verduidelik het.  Hoe kan u seker wees dat u ’n ware volgeling van Christus is? Daar is twee maatstawwe: van wie praat u graag en aan wie dink u graag?

 

Die dissipels is volgens Handelinge 11 in Antiochíë, die eerste keer Chrisene genoem. Waarom dink u is hulle Christene genoem? Want dit is al waaroor hulle gepraat het. Christus het dit gesê, Christus het dat gesê. Gevolglik het die mense gesê, “Al waaroor hierdie mense praat is Christus.  Waarom noem ons hulle nie  Christene nie? ” Wat sal die mense u vandag noem te oordeel aan dit waaroor u die heeltyd praat. Watse woorde sal op ons  etikette staan?

 

Die vyfde klas waarin ek geslaap het was die een oor oorgawe. Ek dog oorgawe was om die slegte dinge wat ek doen te laat staan. En natuurlik het ek vanweë my opvoeding en agtergrond weinig gehad, maar het tog probeer om die paar slegte goedjies wat ek gedoen het te laat staan.

 

As u ’n sterk persoon is, kan u slaag in hierdie soort oorgawe, want sterk mense kan op die oog af  hierin slaag. Gevolglik sou ons ons kwaai humeure opgee, ons sou ophou om na verkeerde musiek te luister en ons sou ophou om  tussen maaltye te peusel. Wat ookal verkeerd geblyk het, moes ter syde gestel word..

 

Ek het ’n vriend gehad wat al sy “rock “plate—destyds was jazz die inding—na ’n afgrond geneem en “jazz frisbee”’ gespeel het. Hy’t gesê dit was nogal pret om te sien hoe ver hy hulle kon gooi en hulle sien in skerwe spat as hulle grond tref. Pragtig! Geregtigheid deur “frisbee”!

 

Om van sonde ontslae te raak, die opgee van dinge, om te vorder na ’n hoër standaard—dit is die gewone idee van oorgawe. Dis die klas wat ek deurgeslaap het. Oorgawe deur dinge op te gee? Dit is glad nie oorgawe nie. Bestudeer dit en u sal vind dat oorgawe het te make met die oorgawe van self. Dit is om onsself op te gee. Dit is die opgee van die gedagte dat ons enigiets in ons harte wat van belang is kan doen sonder Jesus. Al wat ons kan doen is plate weggooi, maar binnekant hou ons steeds van hulle. Ja, sterk mense kan die uiterlike hanteer en eksterne godsdiens is vir die skares aanloklik.

 

Ek het goed gevaar met die dinge, gevolglik het ek nie, soos my kamermaat, Jesus nodig gehad nie. Sy verlede was rof. Sy pa het, toe hy maar vier was, sy ma vermoor. Hy is as kind van bakboord na stuurboord gestuur.. Hy’t gelieg oor sy ouderdom sodat hy by die vloot kon aansluit, hy’t tydens die oorlog vrywillig aangebied om selfmoordsendings uit te voer. Daarvandaan het hy by die polisie aangesluit en vele meer noue ontkomings ervaar. Natuurlik het hy Jesus nodig gehad.  Hy het baie van die lewe ervaar. Hy het ure lank sy Bybel bestudeer en gebid. Dit was natuurlik nie vir my nodig nie. Ek het ’n goeie lewe gelei. Ek het al die slegte dinge opgegee. Ek het deur die klas oor oorgawe te slaap, selfs al het my kamermaat dit uitgeklaar gehad.

 

Uiteindelik het ek ontdek dat oorgawe is waar jy op die punt kom wat jy besef dat niks wat jy doen, hier binnekant tel nie, behalwe om na Jesus te kom. Johannes 15:5 sê dat sonder Jesus ek niks kan doen nie. Voeg Filippense 4:13 wat sê dat met Jesus is ek tot alles in staat. Dit laat slegs een ding wat ons moontlik kan doen op die gebied van ’n verinnigde lewe —kom na Jesus, en hou aan om na Jesus te kom. Hy neem die inisiatief, ons moet net reageer.

 

Die sesde klas waardeur ek geslaap het, was die een oor die godsdiensbeoefening. Wie het stiltetyd nodig as jou lewe in die haak is. Wie het stiltetyd nodig as jy reken sonde is die doen van slegte dinge en jy het min daarvan? Wie het  stiltetyd nodig as geregtigheid behels om die regte ding te doen en jy doen jou hele lewe lank net die regte dinge? Jy is opgevoed om regverdig te wees uit gewoonte. Wie het stiltetyd met Jesus nodig as jy dink ’n Christen is iemand wat ’n goeie lewe voer en jy vaar goed? Wie het stiltetyd nodig as jy alles oorgegee het en jy is oortuig dat alles in orde is tussen jou en God, in terme van jou gedrag en prestasie?

 

Kan ek u daaraan herrinner dat die hoof rede waarom die meeste erkende Christene nie stiltetyd hou nie, is omdat hulle oortuig is hulle kan sonder God leef en dit kan maak.. Niemand gaan op sy knieë op sy aangesig voor God  totdat hy die punt bereik waar hy sy magteloosheid besef en sy Beste Vriend ontdek nie. My vriend, hoe gouer u daar kom hoe beter.

 

As u vind dat u besig is om onder te gaan, die lewe het te veel geword, staan op en loof Hom. Gaan op u knieë en sê, “Dankie Here dat U my gebring het na die plek waar ek my lewe aan u kan oorgee.”

 

Ek het nooit besef dat nege dollar met God se seën baie meer werd is as tien dollar daarsonder totdat ek dit beproef het. Maar daar is nog meer. Sewe ure se slaap met God se seën daarby is baie meer werd as agt ure sonder Sy seën. Begryp u wat ek probeer tuisbring?

 

Ek het nie geweet dat stiltetyd die ganse grondslag van die Christelike ondervinding is, en die aanvaarding van Christus se geregtigheid, want Sy geregtigheid moet op daaglikse basis ontvang word. Ek het dit nie op kollege verstaan nie.

 

Die laaste klas, wat ek van weet, wat ek deurgeslaap het was dat Jesus wil hê mense na Hom toe moet kom net soos hulle is. Ek het gedink  dat as mense na Jesus kom hulle dit slegs kon doen nadat hulle hul lewens in orde gekry en hulle weë verander het. Ek het gedink jy moet jouself eers regkry alvorens jy na Jesus kan kom.

 

Dit het uiteindelik tot my deurgedring, die groot deurbraak, die.ontwaking uit die slaap Ons kom na Jeus nes soos ons is. Ek gee nie om wie u is, hoeveel mislukkings, hoeveel sondes, hoe deurmekaar u lewe is nie, as u na Jesus wil kom vat Hy u nes u is. Hy sal die veranderinge aanbring, want u kan nie. Hy sal u ophef na die hoogste lewenstandaard wat u nog geken het, want Christus se geregtigheid is nie ’n kleed om onbelyde en onversaakte sondes mee toe te maak nie. Dit is ’n beginsel van die lewe wat die karakter hervorm en gedrag beheer.

 

En nou my vriend, bewus van die tye, is dit gebiedend noodsaaklik dat ons ontwaak uit ons sluimering.

   

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

        Wees Lief vir God en Maak Soos u Lus Het

 

 

 

                                    Morris L. Venden

 

 

 

 

 

 

 

 

 
Hy struikel van die sypaadjie af, kom krom, oud en verwaarloos na my aangestap. Ek skakel die motor aan, kry trurat en verlaat hom, eensaam en alleen.

"Kry vir jou werk. Maak soos ek maak, dit bring geld, dan kan jy suip tot jy omval," gaan deur my gedagtes. Ek kry eerste rat, wikkel die petrolpedaal en laat hom in ʼn stofwolk agter. Ek sien in die truspieël hy beduie, hande omhoog.
"Ja, skoert jou ook," sê ek hardop, "net soos jou soort is - as jy nie iets kry nie, is ek altyd die skuldige."

By die huis vertel ek vir Vroulief van die voorbarige bedelaar, van wat ek dink ek gesien het. Vroulief is dadelik Moeder Hen: "Waar slaap die arme man vanaand? Dit lyk asof dit gaan reën."
"Moenie oor hom worrie nie, sy soort het altyd 'n plan, hy wurm hom met 'n sak wyn iewers in 'n kombers toe en verdrink die dag van môre. Plaas dat hy karre oppas, dit sal daai drankgeldjies meer kosbaar maak."

"Swerwer, jy is ʼn harde man. Wat daarvan as hy drink? Hy is ook net ʼn mens, net soos jy," berispe Vroulief.
"Wat, 'n man soos ek? Se voet, vrou! As hy ʼn man was, het hy 'n manier gesoek om 'n geldjie te verdien vir sy lustigheid. Nou wil hy my geld bedel, dit waarvoor ek gewerk het, met my sweet, my arbeid ... Se dinges, vrou! Kom ons vergeet nou die episode, ek is klaar spyt ek het jou vertel."

Vroulief stap kop onderstebo kombuis toe, ek maak my gemaklik op die stoep,
Rooibos in die hand. "Kan ook nie jou mond hou nie," mompel ek. My hond kom lê onder die stoel en ek voer hom ʼn stukkie biltong. Hy lek my hand dankbaar.
 
Eensklaps staan vrou in die deur. "Swerwer, ek het vir die man 'n pakkie kos gepak, ons vat dit nóú vir hom. Een van die kinders se komberse is ook oor die muur, ons vat dit ook."
Ek ken die stemtoon, onverbiddelik: "Vrou, is jy mal? Die man is seker lankal weg. Gaan skep op, ek is honger," probeer ek walgooi. "Swerwerrr, as jy nie wil ry nie, sal ek," druk sy dit uit.

Ek weet teëpraat gaan nie help nie, my mooi van môre se dag hang hiervan af. Ek staan op, vat die motorsleutels, en draai half vermakerig na haar: "Nou kom, as jy hom wil kos gee, doen dit self."
Ons ry in stilte, met slegs die geruis van bande. Vroulief klou die pakkie op haar skoot vas.

Voor die koöperasie stop ek op dieselfde plek. In die lig van die voertuig sien ek hom op die sypaadjie sit, sy kop op sy knieë, hande wat hang tot op die grond.
"Sien jy, wat het ek jou gesê? Klaar dronk." Vrou ignoreer my, maak die deur oop en skud die omie aan sy skouers. Stadig lig hy sy kop; trane stroom oor sy wange.
"Nog verdomde dronkverdriet ook", dink ek.

"Omie, ek het ietsie gebring om te eet", praat Vroulief sag en vat sy hande in hare.
Die omie se lyf begin ruk, hy huil nou openlik, trane stroom deur die dongas.

"Nooientjie, dis nie ek nie. Die tannie by die huis het in die bad geval. Sy kan nie opstaan nie. Ons foon werk al twee weke nie meer nie. Ek het asma, ek kon nie verder nie. Ek het ʼn kêrel probeer stop, maar hy het weggejaag ... sonder om te luister. Al wat ek kon doen, was om te bid. God het vir my 'n engel gestuur.
Asseblief, gaan help die tannie ... asseblief, gaan help haar."

Ek sit met ʼn knop in my keel, trane wil oor die walle stroom, die hartseer is diep en skerp. My gemoed is stukkend, my siel in opstand. Waar en wanneer gaan ons besef: "Ek
IS my broer se herder"
 

 

 

Filadelfia gemeente van Sewendedag Adventiste Centurion Pretoria

Updated on/Op datum gebring op Tuesday, June 29, 2010 09:33:24
deur  de Wet Vorster

Filadelfia Congregation of Seventh-day Adventists Centurion Pretoria