|
Wees Lief vir God en Maak
Soos u Lus Het
’n Vars kykie na die ou reëls
Deur
Morris L Venden
(Vertaal uit die boek Love God and do as You Please)
Inleiding
Miskien beskou u die titel
van hierdie boek as skokkend. Ongetwyfeld sal die wat
onvolwasse is dit misverstaan. Sommiges sal dit wil misbruik
as toestemming tot losbandigheid en losse sedes. Sommiges
gaan hierin rede vind om die skrywer te kritiseer. Maar
wanneer hierdie boek gelees word, sal hulle die regte
boodskap kry.
Volwasse Christene kan maak
nes hulle lus het, want wat hulle ’n behae in skep, behaag
ook vir God.. Luister na die goeie nuus in woorde beter as
wat ek dit kan stel:
En as ons instem, sal Hy Hom
so met ons gedagtes en strewe vereenselwig, ons hart en gees
so met Sy wil saamsmelt, dat ons, as ons gehoorsaam, maar
net ons eie impulse sal uitvoer. (Koning van die Eeue, bl.
564)
As ons in Christus bly, en
die liefde van God in ons woon, sal ons gevoelens, ons
gedagtes, ons dade, in ooreenstemming met Sy wil wees, soos
uitgedruk in Sy heilige wet (Skrede na Christus, bl. 63)
Wanneer ons na Christus kyk
kry ons ’n helderder en duideliker beeld van God; en deur
aanskoue word ons verander. Goedheid, liefde vir ons
medemens, word ’n natuurlike instink. (Christ’s Object
Lessons, bl. 355)
Wanneer ons onself aan
Christus oorgee, die hart verenig met Sy hart, die wil in
verenige met Sy wil, word die verstand een met Sy verstand,
die denke gevange in Hom; ons lewe Sy lewe. Dis wat dit
beteken om geklee te wees in Sy kleed van geregtigheid.
(Christ’s Object Lessons, bl. 312)
Hoef ons meer te sê?
Hoofstuk een
Ware en valse gehoorsaamheid
Onthou u
die “Mud Puddle Kid”? in hierdie storie, afkomstig uit Ken
McFarland se “Gospel Showdown”, is God die moeder en
ek en u is die Modderpoel Kinders.
Halfpad deur sy nagtelike
vertelling van die wêreld se probleme verdwyn die minsame
nuusleser skielik, net om tydelik vervang te word deur die
advertensie waarin die Modderpoel Kind die hoofrol speel.
Daar, voor in die kas,
uitgestrek oor verskeie sitkamer meubelstukke, was die Drie
Aanskouers.
“Die arme kind se ma het
regtig ’n probleem,” sê Nommer Een terwyl hy aanskou hoe een
van die kinders daar op die skerm deur groot modderpoele
ploeter. “Miskien het sy hom gereed gehad om ’n partytjie by
te woon, kyk net hoe lyk hy nou met al daardie modder aan sy
klere.”
“Maar daar is Goeie Nuus!” sê
Nommer Twee opgewonde. “Kyk daar,” sê hy terwyl hy na die
skerm wys, “jy gaan sien hoe sy ma al daardie modder
besmeerde klere gaan neem en hulle in Modderweg seeppoeier
gaan was. Dit gaan alles regstel!”
“As jy al voorheen hierdie
advertensie gesien het sal jy agterkom dat alles nie
reggestel is nie,“ verdedig Nommer Een. “Kyk net, jy sal
sien.”
Nes voorspel, storm die Kind,
geklee in pas gewasde klere, na die naaste modderpoel.
Terwyl hy in die modder baljaar sug sy ma en kyk dankbaar na
die houer met die Modderweg waspoeier.
“Wat het ek jou gesê,” beaam
Nommer Een. “Wat help dit dat sy die Kind skoonmaak en hy
pyl reguit terug na die modder? Laat ek jou sê wat die ware
Goeie Nuus is. Dit sal wees indien, Ma nie net die klere
skoonkry nie, maar ook die Kind se begeerte om in die modder
te gaan speel kan wegneem—miskien selfs maak dat hy die
modder haat.”
Nommer Drie, wat diep gedink
het, maar tot dusver nie deelgeneem het aan die gesprek nie,
deel sy wysheid. “Ek reken julle het altwee ’n punt, maar al
het Ma hom skoongekry en sy modderbegeerte weggeneem is die
probleem nog nie heeltemal opgelos nie, totdat iemand die
modderpoele ook verwyder het. Vir my sou dit die Goeie Nuus
wees.”
Wel, dit spyt my, maar die
Drie Waarnemers het so ontsteld geraak met mekaar oor wat
die Goeie Nuus is, of die Evangelie werklik behels, dat
hulle besluit het op ’n uitdungeveg. Hulle is straat toe en
het mekaar met modder geslinger.
Toe ek hulle laas gesien het,
het die Drie Aanskouers tot nog toe nie besef dat hulle elk
net ’n gedeelte van die Goeie Nuus waargeneem het en dat dit
al drie die sienings kos om regtig die Kind se probleem op
te los.
Soos Walter Cronkite altyd
gesê het; “Dit is hoe dit is”1
Ek is bly dat God voorsiening
gemaak het om ons deur Sy genade te reinig en ons sonde te
vergewe. Dis die eerste gedeelte van die oplossing tot ons
probleem.
Wat die tweede gedeelte
betref, is ons bly dat God voorsiening gemaak het om ons uit
die modderpoele te hou? Of sou ek dit in die modder verkies?
Hier kom die beslissende vraag: Wil ons uit die modder bly
net om Ma gelukkig te maak? Of bly ons uit die modder omdat
ons uit die modder wil bly, omdat ons niks van modder
hou nie? Kan ons selfs sê dat ons die modder haat?
Natuurlik sien ons almal uit
na die derde deel - die dag dat daar glad nie meer
modderpoele sal wees nie, nie in Irak of Bangladesh of Sjina
of die Verenigde State. Wanneer Jesus terugkeer gaan al die
modderpoele opdroog.
Kom ons kyk weer na die
tweede gedeelte—om uit die modderpoele te bly. Jy kan nie
betrokke raak by die reuse onderwerp van geregtigheid deur
geloof sonder om die tema van gehoorsaamheid aan te raak
nie. In die verlede, was baie mense egter van mening dat
geloof, soort van, teen gehoorsaamheid was, dat indien jy
geloofsvriendelik is, jy gehoorsaamheidsonvriendelik moet
wees. En indien jy gehoorsaamheidsvriendelik is ten alle
koste nie geloofsvriendelik kan wees nie. Sommige ruk onder
die banier van geloof op om van gehoorsaamheid te ontkom.. “
Ag, dit maak nie meer saak nie,” sê hulle. “Al wat jy nodig
het is geloof.” Vergete is die woorde uit die Skrif wat ons
meedeel dat jy nooit geloof en gehoorsaamheid kan skei nie.
Hulle gaan altyd, altyd, saam. Gehoorsaamheid is die vrug
van geloof. Jy kan nie appels skei van ’n gesonde appelboom
nie. Jy kan nie die een hê sonder die ander nie, as jy die
een gaan hê, dan sal die ander ook teenwoordig wees.
Volgens Skrif is dit duidelik
dat gehoorsaamheid belangrik is. Laat ons leer van die wyse
man, Salomo,wat op die ou end nie so wys was nie. Hy moes
uit sy eie foute leer. Na ’n hele leeftyd plus die
ondervinding van 700 vrouens en 300 bywywe, moes hy uitvind
dat “alles tevergeefs” is (Pred 12:8). Toe sê hy “Die
hoofsaak van alles is...” Hier praat ’n man, wat oud genoeg
is om te sterf voordat hy weet hoe om te lewe, wat sê, Kom
nou, kom ons kyk na die feite. Hierdie is die slotsom van
die hele saak: “Vrees God en hou sy gebooie; want dit
geld vir alle mense.” (vers 13 klemlegging is voorsien).
Hier kry ons die groot
leidraad tot Salomo se probleem. Enigeen wat reken dat dit
sy plig [die KJV praat in vers 13 van “duty”] is om
God se gebooie te hou, is op die verkeerde pad. Dalk was hy
nie wys genoeg, selfs op so ’n gevorderde leeftyd, om te
besef dat daar meer betrokke is by gehoorsaamheid as plig.
As plig die enigste rede is waarom ek gehoorsaam, dan is my
godsdiens nutteloos.
Daar is diegene wat voorgee
om God te dien, tewyl hulle op hul eie krag vertrou om Sy
wet te gehoorsaam, ’n regte karakter te vorm en die
saligheid te verwerf. Hulle harte is nie getref deur die
liefde van Christus nie, maar hulle trag om die pligte
van ons Christelike lewe na te kom as iets wat God van hulle
verwag om die hemel te verdien. Sulke godsdiens beteken
niks. (Skrede na Christus bl 46, 47)
“Maar,“ sê iemand, “sal
sodanige godsdiens my nie uiteindelik na Christus lei nie?”
Nee, “so ’n godsdiens beteken niks.” Tog is dit hoe baie van
ons grootgeword het. Trouens ons dra dit oor uit ons
opvoeding na die kerk toe. Ons word deur die
gesinsdeskundiges—en uit die geïnspireerde pen—geleer dat
ons ons jong mense, ons seuns en dogters moet oplei in goeie
gewoontes en in die regte soort van gehoorsaamheid. Leer
hulle om te gehoorsaam. Leer hulle om uit plig te
gehoorsaam. Leer hulle om te gehoorsaam omdat Ma en Pa so
sê, want dis die regte ding om te doen. En dan kwoteer ons
sulke setate soos, ”Die wêreld se grootste behoefte...manne
wie se gewete so getrou is soos die kompas aan die pool.”
(Opvoeding bl 57)
Soos wat ons die benadering
beklemtoon het, het ons ’n subkultuur daar gestel waar mense
gehoorsaamheid sien as ’n plig. Ek sal dit onomwonde wil
stel dat gehoorsaamheid wat uit plig verrig is, altyd valse
gehoorsaamheid is.
Kom ons kyk weer na ware en
valse gehoorsaamheid. Hier is ’n merkwaardige en byna
revolutionêre kwotasie:
Alle ware
opregtheidheid kom uit die hart. Christus se werke het uit
sy hart gekom. En as ons instem, sal Hy Hom so met ons
gedagtes en strewe vereenselwig, ons hart en gees so met Sy
wil saamsmelt, dat ons, as ons Hom gehoorsaam, maar net ons
eie impulse sal uitvoer. Die wil, gelouter en geheilig, sal
sy hoogste behae in Sy diens vind. As ons God ken soos dit
ons voorreg is om Hom te ken, sal ons lewe een van
voortdurende gehoorsaamheid wees. Deur ’n begrip van die
karakter van Christus, deur gemeenskap met God, sal die
sonde vir ons verwerplik word. (Koning van die Eeue, bl 564)
Die skrif haal Jesus, ons
voorbeeld, aan, “Ek het lus, o my God, om u welbehae te
doen, en u wet is binne-in my ingewande” (Psalm 40:8) en “Hy
was lief vir geregtigheid en het ‘modderpoele’ gehaat.” Net
so ontstaan alle opregte,ware gehoorsaamheid – die soort wat
Jesus gehad het – op natuurlike wyse van binne, uit die
hart, die gedagtes, die doelstellings, die motiewe deur
genade gereinig. Enige gehoorsaamheid wat nie van daardie
bron afkomstig is, is vals. Dit kom daarop neer dat baie van
ons slagoffers is van, en dus baie ondervinding, van valse
gehoorsaamheid het.
Hier is ’n voorbeeld van
valse gehoorsaamheid wat mooi gemaak is deur die gebruik van
Jesus se naam: “Jy kan uit die modder uitbly, omdat jy Jesus
liefhet.” “Aag, nou goed dan, ek het Jesus lief en sal dus
uit die modder bly.” (Dis die ekwivalent van uit die modder
bly ten einde Ma tevrede te stel.)
Nog ’n voorbeeld, minder
subtiel, maar net so verkeerd—as ons nie gehoorsaam, kruisig
ons Jesus opnuut.
“Kyk nou na die spykers wat
jy deur Jesus se hande en voete slaan.” Hulle sê, “Elke keer
wat jy na die modder afpyl, dryf jy nog ’n spyker in. Jy
maak vir Jesus seer.”
Mense het al vir my gesê, “Ek
kan regtig nie hierdie soort skuldbenadering hanteer nie.”
En dan moet ek saamstem. Ten eerste, kan jy Jesus sien as
Een wat gaan toelaat dat Sy gevoelens seergemaak word met
elke oortreding? En watter soort skuldgevoel plaas hierdie
benadering op mense, “Jy’t so pas weer ’n spyker ingeslaan”?
Hierdie sienswyse, wat in
baie kringe so algemeen voorkom, naamlik om uit die modder
uit te bly ten einde Hom te behaag of om Hom te seer te
maak of net nie nog ’n spyker in te slaan nie, kan net lei
na mismoedigheid en terugval. Een of ander tyd gaan die
mense hierdie siening wil afskryf. Ons moet die mense iets
beter aanbied as hierdie gehoorsaamheid uit plig,
hierdie vals gehoorsaamheid, hierdie skuldbelaaide
gehoorsaamheid. Indien ons dit nie doen nie, gaan ons by
diegene aansluit wat reken, “Wat wou, kom ons vergeet van
hierdie gehoorsaamheid besigheid en ons bly uitsluitlik by
geloof. Geloof is immers al wat saakmaak. Vergeet van
gehoorsaamheid. Moenie eers daaroor praat nie.”
Ek is dankbaar dat die Bybel
iets beter aanbied.
Dit bring ons by die vraag,
Is dit in die eerste plek vir ons moontlik om te gehoorsaam?
Een gedagtegang sê: “Pasop! Jou ideal is te vergesog, jy
neig na perfektionisme. Moenie eers praat van uit die modder
bly nie. Ons kan nie. Ons is maar net swakkelinge, ons sal
in die modder bly ploeter totdat Jesus kom. Dis waarom ons
so dankbaar is vir die Modderweg seeppoeier (geregtigheid).
Kom ons verlaat ons op Modderweg.”
Dit is so dat ons gedeeltes
in die Skrif gaan kry wat blyk hierdie siening te
ondersteun. Romeine, geskryf deur ’n deskundige op die
gebied, sê in hoofstuk 7 vanaf vers 18 tot 23:
Want ek weet dat in my, dit
wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is
by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie. Want
die goeie wat ek wil, doen ek nie, dan doen ek dit nie meer
nie, maar die kwaad wat ek nie wil, dit doen ek. Maar as ek
doen wat ek nie wil nie, dan doen ek dit nie meer nie, maar
die sonde wat in my woon. Ek vind dus hierdie wet: as ek die
goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. Want ek
verlustig my in die wet van God na die innerlike mens; maar
ek sien ’n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet
van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde
wat in my lede is.
Die wil is in my teenwoordig,
maar om dit wat goed is ten uitvoer te bring, kan ek nie.
Let wel, hierdie is die
woorde van die man wat in Filipense 3 beweer dat hy
sondeloos gestaan het voor Christus. Hy kon gehoorsaam. Maar
wanneer dit gekom het by dit wat dieper is, die toestand van
die hart en die motiewe, het die apostel Paulus besef hy is
maar net drek. Beteken dit dat gehoorsaamheid nie moontlik
is nie?
In Christus se tyd het die
mense ’n stelsel daar gestel van suiwer uiterlik
gehoorsaamheid gebaseer op hul geskiedenis. U sien, Moses en
sy opvolgers kon voor die mense staan en sê, “Gehoorsaam en
lewe of wees ongehoorsaam en sterwe. Julle gehoorsaamheid
sal geseën word, sonie sal julle vervloek word.” Dan het
hulle ervarings hierdie vermanings gestaaf. Trouens
dwarsdeur die Ou Testament is voldoende bewyse dat
gehoorsaamheid seëning meegebring en ongehoorsaamheid het
gepaard gegaan met vervloeking. Bring God vervloeking? Dit
wil so voorkom. Kyk gerus.
Kom ons kyk na die slegte
nuus betreffende ongehoorsaamheid. “Maar as hulle nie
luister nie, dan kom hulle om deur die spies, en hulle blaas
die asem uit sonder kennis” (Job 36:12). Dis nou volgens een
van Job se vriende. Hoe seker is ons oor hom?
Wag so ‘n bietjie! Jeremia
sê, “Maar as hulle nie luister nie, dan sal Ek dié nasie
uitruk en tot
niet maak, so spreek die Here.” (Jer 12:17). Wie gaan die
dreigement uitvoer? Gaan God hulle
aan die duiwel oorhandig om vervloek te word? Nee, “ Ek
[sal] die nasie uitruk
en tot niet maak.” Wat van 2 Thessalonisense
1:7 en 8? “. . ..die openbaring van die Here
Jesus uit die hemel
met sy magtige engele in vuur en vlam, wanneer Hy wraak
uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die
evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie. ”
Die straf word nie aan Satan
oorgelaat nie. God en Satan is nie vennote nie. Die Bybel is
duidelik daaromtrent dat seëning volg op gehoorsaamheid en
’n gebrek aan seëninge volg op ongehoorsaamheid.
Het die kerk in Christus se
tyd hierdie beginsel verstaan? Kom ons kyk: “en wat ons
ookal bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar
en doen wat welgevallig is voor Hom.” (1 Joh 3:22) Hoe kan u
die die boodskap dat seëning wat met gehoorsaamheid gaan
gepaard uit die oog verloor?. Die antwoord op spesiale
gebedsversoeke volg op gehoorsaamheid. Ons ontvang hulle
want ons hou Sy gebooie en doen Sy werke. Maar dit klink na
verlossing deur werke, sal iemand kla. Nee, hier is geen
sprake van verlossing nie, ons praat van seëninge. En daar
is ’n reuse verskil tussen om te gehoorsaam ten einde verlos
te word en om te gehoorsaam om seëninge te ontvang.
’n Blinde man (lees Johannes
9) word gedagvaar om voor die Joodse leiers te verskyn.
Hulle wou by hom hoor waar hy vandaan kom en wie hom genees
het, want die godsdienstige leiers het rede gesoek om Jesus
te vervolg. Die blinde se familie het hom uit vrees verlaat.
Dus bevind hierdie man hom alleen voor die leiers en hy leer
hulle! Hy sê in vers 31, “En ons weet dat God nie
sondaars verhoor nie; maar as iemand godvresend is en sy
wil doen, dié verhoor Hy.” Waarop baseer hy hiedie
gevolgtrekking? Op die duidelike Ou Testamentiese leer:
seëninge volg op gehoorsaamheid en gebrek aan seëninge is
die gevolg van ongehoorsaamheid. Hierdie beginsel steek
gedurig sy kop uit in die Skrif. Regverdigmaking deur werke?
Nee. Hier word nie van verlossing gepraat nie.
Gevolglik, toe die volk die
waarskuwings hoor omtrent ongehoorsaamheid en die beroep op
gehoorsaamheid, het hulle gereken, “Laat ons gehoorsaam
sodat ons kan baat.” Dus kry ons ’n hele nasie wat gedurig
probeer gehoorsaam ten einde die seëninge te kry. Dit was
die motief. Maar al wat hulle daardeur kon regkry was
uiterlike gehoorsaamheid.
Uiterlike gehoorsaamheid het
nog nooit vir God gebluf nie. Diegene met ’n sterk wil kan
gehoorsaamheid uiterlik goed namaak. Dit is moontlik om
kerke te stig op hierdie basis as ons primêre fokus, die
basis van die Christelike lewe, ons optrede is. Maar Jesus
het gewaarsku dat indien jou geregtigheid nie die
skrifgeleerdes Fariseërs s’n oorskry nie, as dit nie ware,
innerlike gehoorsaamheid is nie, u die koninkryk van die
hemel sal nie betree nie.
Toe ek nog ’n kind was, het
my pa en ek Kersfeestyd in ’n sekere winkel geloop toe my
oog ’n brandweerwa opmerk. Dit was ’n groot wa met ’n sirene
en ’n lig. Dit kon selfs alleen beweeg. Ek wou so graag
daardie brandweerwa hê! Ek onthou toe skielik ’n paar
Kersliedere: “Jy beter pasop, jy beter nie huil nie, jy
beter nie suurgesig trek nie,” en “Net voor Kersfees gaan ek
soet wees.” Ek neem my toe voor om ’n goeie seun te wees ten
einde die brandweerwa te verdien. Was dit ’n goeie idee? Ek
was soet, baie soet, maar ek het nie die brandweerwa gekry
nie. Raai wat maak ek toe? Ek wou nie langer soet wees nie,
inteendeel, aangesien ek nie die wa gekry het nie, was ek so
stout as wat ek kon wees. Het ek die regte ding gedoen of
het ek net normaal opgetree?
Dieselfde tipe redenasie was
aanwesig in Christus se tyd. Die volk wou seëninge hê, maar
sonder die Here. Ek verwag antwoorde op my gebede wanneer
teëspoed my tref, maar ek het geen belang in die Here van
die gebed nie.
Die vraag ontstaan: Is dit
werklik moontlik om meer as uiterlike gehoorsaamheid te
lewer? Dit bring ons na Rom 8:3, 4 wat ’n duidelike antwoord
bied:
Want God het wat vir die wet
onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees [Dit
is onmoontlik vir my of u of die apostel Paulus om die wet
deur ons eie krag te onderhou. Ons is vleeslik swak],deur
sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur,
en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel die
vlees, sodat die reg van die wet vervul kan word in ons wat
nie in die vlees wandel nie, maar na die Gees.
Sommige sal verkies dat dit
so moet lees: “Dat die geregtigheid van die wet vir
ons vervul word in Jesus se lewe. Hy word dan ons
plaasvervanger vir gehoorsaamheid, aangesien ons nie kan
gehoorsaam nie. Al wat ek kan vermag is om te val, te misluk
en te sondig. Dus word Hy ook in daardie afdeling my
plaasvervanger.” Nee, dis nie wat die Skrif sê nie. “sodat
die reg van die wet vervul kan word in ons wat nie in
die vlees wandel nie, maar na die Gees.” Met ander woorde,
ons wat nie in eie krag probeer gehoorsaam nie, maar wel met
die hulp van die Heilige Gees, net soos Jesus. Ons wat
probeer om van binne na buite te werk instede van eenvoudige
uiterlike plig en dwang met die doel om ’n seën te ontvang..
Dit is die beginsel van ware gehoorsaamheid— die enigste
een.
Kan ek u daaraan herinner dat
ons al baie tyd en moeite daaraan verspul het om te probeer
gehoorsaam wees. En al wat ons daardeur vermag het is valse
gehoorsaamheid. So, moet ons daarvan vergeet? Nee, want in
die wêreld het valse gehoorsaamheid waarde. As ek lus het om
jou te skiet en ek doen dit nie, hou dit vir beide van ons
baie voordele in. As ek lus het om iets te steel en deur op
my tande te byt en my rug styf te hou, ek dit nie doen nie,
hou dit ’n paar wesenlike voordele in.
Moraliteit, wat die wêreldse
term vir uiterlike gehoorsaamheid is, is waardevol. Dit tel
in die wêreld. Dit hou jou uit die tronk. Dit verhoed dat jy
verkeerskaartjies kry. Dit hou jou reputasie onbevlek.
Niemand is teen moraliteit nie. Kom ons versamel soveel
moraliteit as wat ons kan. Feit is moraliteit was en sal
nooit gehoorsaamheid wees nie. Uiterlike plig, uiterlike
prestasie, is nie egte gehoorsaamheid nie. Ons het dit baie
gedoen. Ek het dit al baie gedoen. Sterk mense kan uiterlik
gehoorsaam, swak mense nie. En dis hoekom valse
gehoorsaamheid so bedrieglik is. As ons optrede beklemtoon,
dan vul ons die kerk met sterk mense en ons laat die swakkes
uit.
Toe kom Jesus en Hy toon aan
ons ’n totaal ander vorm van gehoorsaamheid—’n tipe wat van
buite Homself kom, eerder as een wat stam uit
selfgegenereerde krag. Dis wat so mooi was van Sy lewe. Hy’t
kom lewe soos ons veronderstel is om te lewe, nie soos God
nie, maar soos ’n mens. Hy kon op Homself staatgemaak het
vir ander vorme van krag, maar Hy het nie. Al die krag wat
deur Sy lewe demonstreer is, in Sy magtige werke, in Sy
wonderwerke, was van bo, nie uit Homself nie. Hierdie einste
krag is ook tot ons beskikking, maar slegs as ons die lied
sing wat niemand bedoel nie.
Leraar Richards het graag
gesê, “Kom ons sing die lied wat niemand bedoel nie. ‘Doen
net U wil Heer, U wil met my! U pottebakker, ek is U klei.’”
Dit is vreesaanjaend. Ons hou nie daarvan om aan die Here
oor te gee nie. Dit mag ons lewensstyl aantas. Dit mag ons
pret bederf. Dit mag ons werlklik gehoorsaam maak en dit
kan vervelig wees.
Maar dis presies waarna die
apostel Paulus verwys. Aangesien die wet ons nie gehoorsaam
kan maak nie, want die wet het geen krag nie (deur die vlees
is dit swak), het God Sy Seun gestuur om ons te toon dat
gehoorsaam van bo kom. Dit is die regte tipe gehoorsaamheid,
uit die hart, uit liefde. Dus word ons vertel dat ons
daardie soort van lewe wat Jesus geleef kan lei. Regtig? Ja!
Op ’n keer het iemand my
gevra, “Kan enigiemand leef sonder om te sondig?” Ek het
geantwoord dat ek die vraag wil wysig, want daar is Een wat
hier kom leef het sonder om te sondig. Dus vra ek die vraag,
Kan Jesus Sy lewe in my leef? Dis die eintlike vraag. Buite
Jesus, kan enigiemand leef sonder om te sondig? Nee. Buite
Jesus is dit wat ons produseer vals. Maar is dit moontlik
dat Jesus Sy lewe in my lewe?
Vir die antwoord hierop, kom
ons wend ons tot een van die mooiste aanhalings in die Skrif
wat juis hierdie punt aanraak, naamlik Hebreërs 13:20, 21.
Mag die God van vrede, wat
die groot Herder van die skape, naamlik ons Here Jesus
Christus, deur die bloed van die ewige testament uit die
dode teruggebring het, julle volmaak in elke goeie werk, om
sy wil te doen, deur in julle te werk wat welbehaaglik is
voor Hom deur Jesus Christus aan wie die heerlikheid
toekom tot in alle ewigheid! Amen (beklemtoning voorsien).
Die metode, die doel en die
uitvoerbaarheid word alles hier gemeld. Om jou perfek te
maak. Hoe perfek? In elke goeie werk. Wat beteken dit? Om Sy
wil te doen deur Sy werking in jou.
In 1 Thessalonisense 5:23, 24
staan, “En mag Hy, die God van vrede, julle volkome heilig
maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al
onberispelik bewaar word by die wederkoms van ons Here Jesus
Christus! Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook
doen” (beklemtoning voorsien). Hy sal dit doen.
En in Filipense 2:13 staan, “want dis God wat in julle werk
om te wil sowel as te werk na sy welbehae.” En in Galasiërs
staan, “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer
nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees
lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my
liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.”
Die Bybel praat nie van val
en misluk en die voortbring van valse gehoorsaamheid totdat
Jesus kom nie. Hierdie Bybel praat van meer as oorwinnaars
wees deur Hom. Glo u dit? Doen dan weg met die idee dat
gehoorsaamheid te moeilik, te swaar is. Weg met die idee dat
gehoorsaamheid ’n onmoontlikheid is, wandel onder die
vaandel van geloof. Die Bybel leer nie dat ons net val en
misluk totdat Hy terugkom nie. Nee, die Bybel praat nie so
nie. Dit beloof net seëninge in antwoord op gehoorsaamheid.
Dit beloof ’n tekort aan seëninge as gevolg van
ongehoorsaamheid. Dit sê ons kan nie gehoorsaam nie,
maar Hy kan, en Hy kan Sy lewe in ons lewe.
Ek is terdeë daarvan bewus
hoe stil mense raak wanneer ons praat van gehoorsaamheid. Ek
sien dit oor en oor in verskillende dele van die land.
Iemand sal opstaan en praat oor geloof en genade en die
kruis en Jesus – hoe Hy vir ons sondes gesterf het en ons
reinig van ons sonde—en almal sê, “Haleluja, prys die Heer.”
Iemand praat oor gehoorsaamheid en oorwinning en krag, en
almal bly tjoepstil—ek ook. Want ek onthou hoe ek net gister
drooggemaak het. En ek glo ek sal môre weer val en weer
misluk. Dis hoekom ek stilbly. So, hoe gemaak? Eenvoudig, as
volg: as ons met Jesus in kontak bly, sal Hy die werk wat Hy
begin het, volbring tot en met Sy wederkoms.
Valse gehoorsaamheid is soos
die sp sp sp sp van die diesel enjin van ‘n sleepboot
in die hawe. Jy moet naby ’n hawe gebly het om die volgende
gelykenis te waardeer. Ek was op ’n tyd naby ’n hawe en ek
het gehoor hoe die sleepbote in die oggende aangeskakel
word. Hulle val weg met ’n boem boem, sp sp, sp, boem,
sp, sp sp, boem, boem, sp sp sp boem, boem. Stadig maar
seker kry jy die indruk dat iets aan die gebeur is. Die
boem boems kan vergelyk word met ware gehoorsaamheid
terwyl die sp sp sp die vals gehoorsaamheid voorstel.
Die hele idee is dat die sleepboot daar in die hawe se enjin
moet opwarm tot dit aanhoudend egalig boem boem boem boem
boem.
Ek, u en elke ander persoon
wat poog om gehoorsaam te wees, worstel met hierdie probleem
baie soos wat die koue enjin van die sleepboot probeer loop.
Daar is agt silinders beskikbaar, maar aanvanklik werk net
die een.. Bietjie vir bietjie, soos wat ons in Christus
groei verstaan ons gaandeweg wat ware gehoorsaamheid
beteken.
My versoek is dat ons tog net
sal ophou om die valse gehoorsaamheid die egte te noem. Kom
ons hou op om vir ons seuns en dogters te sê valse
gehoorsaamheid is die ware Jakob. Laat ons hulle daaraan
herinner dat daar iets beter is. Laat ons hulle soveel
moontlik gewoontes van gehoorsaamheid en om reg te lewe
leer, ten einde hulle lank genoeg uit die tronk te hou,
sodat hulle eendag op al agt silinders sal loop. Maar laat
ons hulle nie onder die indruk bring dat dit wat vals is, is
die egte nie, want een of ander tyd gaan hulle besef hulle
is mislei. Duisende mense, jonk en oud is al ontnugter.
Iemand het my hierdie
gelykenis gegee waarin Hawaii gehoorsaamheid en volmaakgheid
voorstel: Die dorp met die naam Remnant, in Kalifornië, is
amptelik in 1863 gestig, maar die eerste settelaars het
reeds so vroeg as 1844 daar ingetrek. Hierdie inwoners was
anders as die res van die wêreld, maar hulle het aan een
besonderse leerstelling vasgehou. Hulle hett geglo dat dat
almal wat in Remnant woon na Hawaii moet trek. (Let op dat
Hawaii gehoorsaamheid verteenwoordig.) Hulle was daarvan
oortuig dat hoe gouer hulle in Hawaii kon kom, hoe gouer
hulle in die hemel sal kom. Daar was egter een frustreerende
struikelblok waarvan julle nie kon wegkom nie.. Hulle het
nie in Hawaii gebly nie en Hawaii was darem vreeslik ver,
byna so ver as wat die hemel was. Daar was enkeles wat
aanspraak daarop gemaak het dat hulle al in Hawaii was, maar
niemand wou hulle glo nie. Trouens daar was ’n gesegde in
Remnant was sê: As jy sê dat jy in Hawaii was, is dit
genoegsame bewys dat jy nooit daar was nie.
Die meeste mense in Remnant
het geglo dat as jy jou lewe lank hard werk, jy dalk net
voor jy doodgaan, ten minste een dag in Hawaii sal bly. ’n
Klompie sou dit vermag. Alhoewel die bevolking van Remnant
etlike miljoene was, het die meeste aanvaar dat as
eenhonderd-vier-en-veertigduisend dit kon maak, al was dit
net vir ’n kort rukkie, is dit die beste wat hulle kon
verwag.
Vir baie jare was daar een
aanvaarbare metode om Hawaii te bereik. Jy’t strand toe
gegaan, in die water geklim en begin swem. Soos u u kan
voorstel was swemlesse baie populêr in Remnant. Daar is van
kinders verwag om te kan swem nog voor hulle kon loop. Daar
was swemskole en swemseminare en vyf-dag swemklinieke is
gereeld gehou. Van elke burger in goeie stand is verwag dat
hy moet leer swem. Nuwe inwoners is gemaan dat dit ’n
geruime tyd kon neem voordat hulle sterk genoeg kan swem om
Hawaii te bereik, maar dat van hulle verwag word om so gou
doenlik te begin leer. Almal is aangemoedig om te glo dat as
hulle hul deel doen en elke dag hard probeer, hulle
uiteindelik Hawaii sou haal.
Daar was diegene wat vanweë
al die probeer en misluk eerder die dorp verlaat het. Ander
het in hulle pogings omgekom. Maar, alles ten spyte, het die
mense bly probeer tot op ’n dag toe die onvermydelike gebeur
het.
Een swemmer moes vir die
soveelste keer omdraai en terugkeer vasteland toe. Skielik
kry hy ’n gedagte. Na hy genoeg herstel het, stap hy die
strand op en af en vra die inwoners af: “Wie sê dat ons in
Hawaii moet bly? Besef julle hoe lank ons al probeer. Gee my
die naam van een persoon wat dit vermag het?” Kort voor lank
het hy ’n redelike aanhang geniet en almal het dieselfde
vraag gevra. Almal het tot dieselfde slotsom gekom. Dis
nie nodig om Hawaii toe te gaan nie.
Die nuus het gou versprei.
Sommiges het die idee geredelik anvaar. Ander was daar teen.
Vir ’n tyd was die nuwe teologie op almal in Remnant se
lippe, Die gedagte was dat selfs al sou hulle aanhou probeer
om Hawaii te bereik, tot op die tyd dat hulle hemel toe sou
gaan, niemand eers naby sou kom nie. Die goeie nuus was,
dat dit nie saak maak nie..
Toe ontstaan twee groepe, die
een wat volgehou het dat jy Hawaii toe moet gaan en die wat
vasbeslote was dat dit nie nodig was. (Tog het beide groepe
nog gereeld die strand besoek om te oefen om te swem.)
Nog ’n groep het ontstaan,
nogal vreemd. Daar was geen strand betrokke by hierdie een
nie. Die derde opsie was om kennis te maak met ’n
vliegtuigloots en jou in Sy hande te plaas. Vertrou Hom om
jou in Hawaii te besorg. Wanneer jy eers aan boord van die
vliegtuig is en die Loods is in beheer, kan jy mos rus. Dit
word Sy taak om jou in Hawaii te kry.
Aanvanklik was dit moeilik om
te begryp. Baie vrae het ontstaan. Wat is jóú taak? Moet jy
jou arms swaai? Moet jy skop? Moet jy op en af in die gang
van die vliegtuig draf? Hoe dan nou, as al die werk en
moeite om die tropiese paradys te bereik nutteloos was, hoe
kan terugsit en rus jou daar kry? Dit klink wonderlik,
voorwaar, maar dit moet ’n mite wees. Hawaii was nog altyd
sinoniem met moeite, baie daarvan. Daar moet iewers ’n
misverstand wees.
Sommige het probeer
verduidelik dat daar wel moeite betrokke is met die dat daar
eers ’n ontmoeting met die Loots moet plaasvind en die
bestyging van die vliegtuig, ja, selfs in die rus. Vergeleke
met al die bedrywigheid op die strand, was hierdie maar min
moeite.
Die bespreking rondom opsie
drie het omtrent so geklink: “Ons deel is om ons te verlaat
in die hande van die Loots.”
Iemand anders begryp nie,
“Bedoel jy ons hoef glad nie Hawaii toe te gaan nie?”
“O ja, dis noodsaaklik om
Hawaii toe te gaan.”
“Dan beter ons vinnig
terugkeer na die strand, in stede van tyd verspul aan
klets.”
“Nee, ons sal Hawaii nooit
bereik deur daarheen te probeer swem nie.”
“Dan is dit mos onmoontlik om
Hawaii toe te gaan.”
“Jy bedoel ons hoef nie te
gaan nie?”
“Ja, ons moet gaan. Dit is
moontlik om in Hawaii te woon. Dit is belangrik, eintlik
noodsaaklik.”
“Dan beter ons begin swem.”
“Nee, nee, nee, ons moet
lughawe toe gaan.”
Hier en daar het mense die
boodskap begin kry en soos dit gebeur het, het hulle gereeld
na Hawaii begin reis. Hulle’t nie juis gepraat oor
voorgenome vlugte nie, hulle het eerder oor die Loots
gesels, oor die vliegtuig en dit wat daarmee gepaard gegaan
het. Die goeie nuus is aan moeë swemmers meegedeel en die
tyding het versprei.
Wat het toe gebeur? Wel, die
sterk swemmers wat nogal ver gevorder het in die koue waters
van die Stille Oseaan, het beledig gevoel. Iemand het hulle
hoor sê, “As hulle gaan toelaat dat mense Hawaii bereik deur
op iemand anders te steun om daar te kom, dan wil ek in
elkgeval nie soontoe gaan nie.” Hulle het uit die water
geklim, die strand en die dorp verlaat en na Las Vegas
verhuis.
Maar die swak swemmers, hulle
wat skaars bo kon bly, hulle het lughawe toe gejaag om die
vliegtuig, met die Loots, te bestyg. Kort voor lank het
almal een van die rigtings gekies. Die strand het verlate
geword, niemand wou meer swem nie.
1. Ken McFarland,
Gospel Showdown (Boise, Idaho: Pacific Press Publishing
Association, 1981
|